×
Skakel na Engels

Wenke om gratis e-boeke op jou Kindle te kry

Is jy dol oor jou Kindle, maar bekommerd oor die gevolge wat die koop van e-boeke op jou beursie het? Lees hier vir ’n paar goeie maniere om jou Kindle-boeke gratis te kry. Deur Carrie-Ann Skinner
woman-reading-ebook

As jy ’n Kindle of ’n ander e-boekleser het, is jy al gewoond daaraan om e-boeke van digitale boekwinkels te koop. Wat jy dalk nié weet nie, is dat daar heelwat gratis e-boeke beskikbaar is. Soms is dit gratis omdat ’n uitgewer of boekwinkel ’n promosie het, en soms omdat kopiereg verval het, wat beteken dis meer as 70 jaar sedert die skrywer oorlede is. Wat ook al, maak seker jy benut die geleentheid!

Hier is ’n paar topwenke oor hoe om gratis e-boeke in die hande te kry:

Soek in jou boekwinkel

Afhangende van watter e-boekwinkel jou e-boekleser gebruik, begin jou soektog in die Amazon-, iBooks- of Nook-winkel.

Ons het byvoorbeeld op ’n Kindle vir gratis e-boeke gesoek en ’n omvattende lys van meer as 45 000 gekry. Op ’n iPad met iBooks het ons gesien ons kan eenvoudig in die winkel ingaan en op die Top Charts-ikoon kliek vir ’n lys van 150 gratis e-boeke. Jy sal per outeur of titel kan soek en dan die resultate volgens prys verfyn deur óf “Free” of “Price Low to High” te kies sodat gratis e-boeke eerste vertoon sal word.

Lees ook: 3 maklike stappe om ’n ou boekrak op te kikker

Teken in op BookBub

As jy nie die moeite wil doen om self vir gratis e-boeke te soek nie, teken in op BookBub, wat dit vir jou doen. Die diens is gratis en sodra jy jou e-posadres ingevul het, kies jy eenvoudig die verskillende genres van boeke waarin jy belangstel, die land waarvandaan jy kom en die e-boekwinkel waarin jy belangstel, soos Amazon of iBooks, ensovoorts.

Wanneer daar ook al gratis e-boeke of boeke teen groot afslag beskikbaar is in die genres wat jy in die gekose e-boekwinkel gekies het, sal BookBub jou per e-pos laat weet. Dit bied ook ’n nuttige skakel direk na die e-boek in die boekwinkel sodat jy dit maklik kan aflaai.   

Project Gutenberg

Project Gutenberg is een van die grootste hulpbronne van wettige gratis e-boeke op die web. Dit bied meer as 45 000 gratis e-boeke, waarvan die meeste se kopiereg verval het, in ’n reeks verskillende formate, waaronder Kindle. Maar net soos wanneer jy e-boeke deur jou biblioteek huur, sal jy Project Gutenberg se webwerf moet besoek, die e-boek op jou rekenaar aflaai en dit dan met ’n USB na jou e-leser moet oordra.

Lees ook: Kry jou kinders om hul tablet eenkant te sit sonder ’n geveg

Neem dit uit by ’n biblioteek

’n Paar biblioteke in Johannesburg het met ’n diens genaamd OverDrive saamgespan wat jou in staat stel om e-boeke vir ’n paar weke te huur wat op sommige e-lesers gelees kan word.

Dis egter goed om te weet dat hierdie boeke in ePub-formaat afgelaai kan word. Dit werk op Nook-, Kobo-, Booken- en Sony-e-lesers, maar nie op Kindles nie. Verder kan jy dit nie direk op die toestel aflaai nie – jy sal jou biblioteek se webwerf moet besoek en die skakels volg om in die e-boek-biblioteek te snuffel. Wanneer jy dan besluit om ’n e-boek te huur, laai jy dit op jou persoonlike rekenaar of Mac af en dra dit na jou e-leser oor deur die toestel met ’n USB-kabel aan jou rekenaar te verbind.

E-boeke wat deur OverDrive gehuur word, kan ook op Google Android-toestelle, iPhones, iPads en die Amazon Kindle Fire-tablet gelees word deur die OverDrive-app af te laai. Sodra jy die e-boek klaar gelees het, gee jy die boek bloot via jou biblioteek se webwerf terug.

Moenie moed opgee as jy ’n Kindle (of ’n Amazon Fire-tablet of -foon) het nie. Jy kan boeke van die Kindle Lending Library leen as jy vir prima-lidmaatskap ingeskryf het. Jy kan een boek per maand leen met geen spesifieke datum om dit terug te gee nie, maar om nog ’n boek uit te neem, moet jy eers deur die Kindle Owners Library die een teruggee wat jy reeds het. Om ’n boek uit te neem, maak die Amazon Kindle Store oop, gaan na die Settings-menu en kies Lending Library. Jy sal ’n reeks genres sien. Kies die een wat jy verkies en rol ondertoe op die lys en kliek op die boek wat jy graag wil leen.

Twee opsies sal verskyn: die prys om die boek te koop en ’n opsie wat sê Borrow for Free. Kies hierdie opsie en die boek sal op jou toestel begin aflaai. Druk op Go To Library en die boek wat jy geleen het, sal in jou biblioteek verskyn.

As jy ’n boek wil teruggee, het jy ’n webblaaier nodig, hetsy jy ’n persoonlike rekenaar, slimfoon of tablet het. Maak die Manage my Content and Devices-blad op jou Kindle-rekening oop en kies die boek. Kliek dan op die Action-oortjie en van daar op Return This Book. 

Van: Good Housekeeping UK

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 topboekkeuses

Moet-lees-boeke vir jou boekrak

Close