×
Skakel na Engels

Wenke met verbloemer wat jy moet weet

Vinnige oplossings vir ’n vlekkelose vel in ’n kits!
verbloemer

Daar is ’n verbloemer vir elke velprobleem, asook ’n eenvoudige, vernuftige tegniek wat dit sal laat verdwyn. Verkry vinnig ’n vlekkelose vel met hierdie drie oplossings

1. Donker kringe

Verhelder jou oë deur ’n vloeibare of roomverbloemer te kies (’n waterdigte formule is selfs beter) wat nie in fyn lyntjies sal aanpak nie.

Maak nie saak hoe donker jou kringe is nie, gebruik ’n verbloemer wat slegs een skakering ligter as jou vel is – enige iets ligter sal soos ’n seer vinger uitstaan. “Dit behoort perskekleurige ondertone te bevat om blou en pers kringe te neutraliseer,” sê die grimeerkunstenaar Matin, wat met Claire Danes werk. Plaas ’n ertjiegrootte druppel op jou ringvinger en stip dit van die binnehoek van jou oog af tot in die middel aan. Bedek slegs die donker dele. “Plaas nog ’n bietjie aan die buitehoek,” sê Kristofer Buckle, Jessica Chastain se grimeerkunstenaar. “Skakeer dan die verbloemer sagkens met ’n druk-en-rol-beweging in die vel in.”

2. ’n Puisie

’n Verbloemer met ’n effens droë, taai gevoel, soos ’n stiffie of een wat in ’n potjie kom, sal heeldag aanbly.

Wanneer ’n puisie verskyn, moenie oorboord gaan met die kamoeflering nie. “Jy het eerstens ’n klein, plat verbloemkwassie vir presiese bedekking nodig,” sê Buckle. “Jou vingerpunt is te breed.” Kies nou ’n gelerige verbloemer wat na aan jou veltoon is – dit sal die rooiheid of donkerheid teenwerk. Plaas van die verbloemer op jou hand, doop die kwassie daarin (moet dit nie direk in die buisie of pot doop nie – dit sal keer dat bakterieë van die puisie die produk besmet), en stip dan die formule bo-op die puisie aan, nie op die vel rondom dit nie,” sê Matin. Tik met jou ringvinger totdat dit ingeskakeer is.

3. Rooiheid

’n Vloeibare verbloemer (dieselfde soort wat jy vir donker kringe sal gebruik) is jou beste gereedskap om vlekke te verbloem.

Hoewel ’n vloeibare verbloemer die natuurlikste bedekking gee, moenie dieselfde kleur gebruik as wat jy rondom jou oë gebruik het nie – dis te lig. “Skakel oor na ’n warm, gelerige skakering wat by jou veltoon pas,” sê Buckle. Druk ’n klein hoeveelheid uit en tik dit met jou vinger op die rooi gedeeltes aan – gewoonlik om die neusgate, die punt van die neus en die middel van jou ken. Tik met jou vingers om alles in te skakeer en “set die grimering met ’n bietjie deursigtige poeier”, sê Buckle.

LEES OOK:

5 grimeerneigings wat jy maar kan los

6 grimeerkunsies van die kenners

5 redes hoekom jy nie met grimering aan moet slaap nie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 van die jongste grimeertegnieke

Uit met die oue en in met vars, nuut en glansend!

Close