×
Skakel na Engels

Weet wanneer is iets nagemaak

Bonang Matheba se onlangse boetiek-bemarking op Gumtree.co.za het baie ander fashionistas geïnspireer om hul ontwerperware op dié portaal vir geklassifiseerde advertensies te verkoop

 

 

Die blogger Marcia Margolius het onlangs vertel hoe sy haar (outentieke) Louis Vuitton-droomhandsak teen ’n derde van die kleinhandelprys op die webwerf gekry het, en nog ’n Gumtree-gebruiker het haar Vuitton-tas (ter waarde van R40 000) op Twitter geadverteer. Maar hoe kan jy die verskil tussen ’n winskopie en ’n fopvonds vasstel? Louis Vuitton, Chanel en Proenza Schouler is van die handelsname in die wêreld waarvan die meeste namaaksels verkoop word – en die fopprodukte kan nogal baie kos.

 

“Ons laat nie toe dat fop-etikette op Gumtree verkoop word nie,” sê Claire Cobbledick, bemarkingshoof van Gumtree Suid-Afrika. “Maar daar is ongelukkig vele namaaksels aanlyn en in die gewone handel, en dis moeilik om die verskil agter te kom sonder dat jy die artikel self onder oë het. Gelukkig kan jy jouself met die kennis toerus om ’n modenamaaksel vinnig raak te sien. Skewe logo’s, goedkoop materiaal en metaalaksente is die vinnigste aanduidings dat ’n handsak nagemaak is, hoewel sommige fopprodukte meer as R2 000 kan kos en baie soos die ware Jakob lyk. Jy moet dus weet waarvoor om alles te kyk.”

 

Cobbledick sê dis belangrik om die verskil tussen ’n namaaksel en die ware Jakob te verstaan. “ ’n Egte sak word deur die oorspronklike, bekende ontwerper gemaak. Die logo, gelukbringertjies, aanhangsels en die res is alles deel van die oorspronklike ontwerp en ’n integrale deel van die sak se egtheid. Die prys word bepaal deur wat mense bereid is om te betaal. Wettige namaaksels of fopprodukte is deur ’n ontwerper geïnspireer, maar nie direkte kopieë nie. As nie voorgegee word die sak is die oorspronklike ontwerper se werk nie en dit gebruik nie simbole, logo’s of eienskappe van die handelsmerk nie, kan style en kleure nageboots word. Dit dra dikwels die seën van die oorspronklike ontwerper weg – wat kompensasie vir die inspirasie ontvang. Daar sal dikwels op dié produkte aangedui word dat dit ‘onder lisensie van X-handelsmerk’ vir ’n spesifieke winkel gemaak word. Dit beteken egter nie dis ’n egte ontwerpersak nie. Onwettige namaaksels word voorgehou as die egte artikel en dit sluit die logo, etikette en ander eienskappe in. Hulle kopieer alles van die oorspronklike sak en dit kan vir spotgoedkoop of vir net so duur as die oorspronklike verkoop word.”

 

Hier is ’n paar rigllyne om ’n namaaksel uit te ken:

 

 

1. Die prys

 

Mens kan groot winskope aanlyn kry, maar ontwerpersakke is statussimbole en die prys word daarvolgens bepaal. “Die kans is goed dat jy nooit ’n egte Chanel-sak vir R200 of R500 sal kry nie,” sê Cobbledick. “Die meeste ontwerpers is ook onwillig om ’n produk met ’n fout te verkoop. In 99% van gevalle, as die produk met ’n fout op die rak beland en die koper dit teruggee, sal hulle die sak vernietig eerder as om dit weer te verkoop. Moenie advertensies vertrou wat daarop aanspraak maak dat hulle ’n produk met ’n klein fout teen halfprys op ’n Vuitton-uitverkoping gekry het nie. Dit gebeur nie. Dieselfde geld ‘groothandel’-afslag … die meeste ontwerpers sal nie daarvan droom om op groot maat te verkoop nie.”

 

 

2. Vakmanskapfoute

 

Burberry, Prada en ander ontwerpersakke sal nie onnet stikwerk, onafgeronde rande of gapings in die stikwerk hê nie. As jy ’n fout raaksien, bly weg. “Daar is ook klein versierings wat elke sak sal hê,” sê Cobbledick. “Dink daaraan as die naamtekening op ’n skildery. Louis Vuitton-sakke wat ná die 1980’s gemaak is, sal ’n datumstempel binne-in hê. Marc Jacobs se ritssluiters word byvoorbeeld almal met die woord RiRi of Lampo gebosseleer.”

 

 

3. Ken jou ontwerp

 

“Sommige nagemaakte Louis Vuittons het logo’s binne-in – gewoonlik het die ware Jakob ’n effekleurige voering. Ander handelsname het weer altyd logo’s binne-in. (Kyk ook uit na die reeksnommers wat binne-in gestempel is.) Die meeste Chanel-namaaksels het ineengeskakelde O’s in plaas van C’s, wat dit onmiddellik weggee. Die spasie tussen die C’s behoort dieselfde te wees as die wydte van elke letter en die CC moet effens opgehewe wees – iets wat vervaardigers van fopprodukte dikwels miskyk. Met Louis Vuitton-produkte moet die monogram van kant tot kant simmetries wees, en hulle sal nooit die monogram in die helfte sny waar dit vasgestik is nie. Die Louis Vuitton-stempel op die leer moet na aan die stiksel wees wat dit aan die sak vasheg. Op nagemaakte sakke is dit baie laer op die leerstrook geleë.”

 

 

4. Gevoel en reuk

 

As die binnekant van die sak klink asof jy papier teenmekaar vryf, is dit nie die ware Jakob nie. “Leer moet soos leer ruik en as seil in die sak gebruik word, moet dit van hoë gehalte wees. In ontwerpersakke word baie moeite met die voering gedoen.”

 

Kleurvariasies kan ook ’n aanduiding wees. “Korrelrige (pebbled) leer moet unieke patrone hê, nie ’n patroon wat herhaal word nie. Kyk ook uit na ’n gomresidu – baie namaaksels het net oppervlakkige stikwerk. Vintage-sakke moet minimum vyf steke per sentimeter hê.”

 

 

5. Slytasie

 

“Wanneer jy ’n tweedehandse sak koop, moet die leer ’n verouderde voorkoms hê, soos ’n ingeleefde leerbaadjie. Maar as die stikwerk of die leer gerafel is of die handvatsels afval, is dit ’n teken dat dit ’n nagemaakte sak is. Hardeware van ’n goeie gehalte sal nooit buig of verkleur nie. Dit sluit ritssluiters, knoppies, gespes, knippe en kettings in.”

 

 

6.Ken jou geskiedenis

 

“Voordat jy koop, maak seker of die ontwerper ooit ’n sak in die kleur of styl gemaak het wat jy oorweeg. ’n Vinnige foonoproep of websoektog kan onthul dat Cherry Blossom nooit ’n drasak gemaak het nie – wat beteken die Cabas-drasak wat jy het, is heel waarskynlik nie eg nie. Vind uit waarvan die sak se voering gewoonlik gemaak word, en of dit met ’n datumstempel of logo binne-in kom. Dit help om ’n kontrolelys vir egtheid saam te stel.”

 

Laastens raai Cobbledick gebruikers aan om hul instink te vertrou wanneer hulle iets koop. ”As ’n verkoper vaag is oor waar hulle dit gekoop het, of hulle weier om naby-foto’s te stuur of daarop aandring om die geld te ontvang voordat hulle jou die sak wys, is dit die beste om weg te stap. Daar is hope winskope aanlyn wat 100% eg is en die kans is goed dat jy gouer eerder as later een sal kry.”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Joburg-lesers, help DJ Fresh om ’n goeie daad vir kinders te doen!

Jy kan Gumtree en DJ Fresh help om die Little Pina Pina-crèche in Soweto ’n vars nuwe voorkoms te gee

Close