×
Skakel na Engels

Wees meer gefokus en energiek

As jy gedurig moeg voel en dikwels sukkel om te konsentreer, los waarmee jy besig is en lees hiér …

 

 

WEES LUI

 

Dit klink dalk na vreemde raad, maar as jy jouself belowe dat jy oor ’n rukkie kan ophou werk (As ek hiermee klaar is, kan ek ’n ent gaan stap), sal jy produktiewer wees, sê dr. Adam Galinksy, ’n professor in sakestudie aan die Columbia-universiteit in New York in die VSA. Werk 45 minute aaneen en vat ’n 15 minute-blaaskans. Wanneer jy terugkom, sal jy sommer met nuwe ywer werk.

 

SÊ TATTA VIR TEGNOLOGIE

 

As jou kop heeltyd tussen SMS’e, Google en die TV-nuus rondspring, verwerk jy nie nuwe inligting so doeltreffend nie. Omdat jou gedagtes heeltyd dwaal, neem dit jou langer om iets gedoen te kry. Sit een aand van die week opsy en vergeet dan van alles wat ’n skerm het – van ná aandete tot slaaptyd. Speel kaart saam met jou gesin, pak ’n kas reg, verf ’n laaikas of sit sommer net op die stoep en bewonder die melkweg. Die volgende oggend sal jy soos ’n nuwe mens voel.

 

WEES MEER OPMERKSAAM

 

Branders wat breek, golwende wolke, die uitsig van bo-op die berg … Om die mooi in dinge rondom jou raak te sien is ’n vorm van meditasie en dit kan jou help om van die spinnerakke in jou kop ontslae te raak. Navorsing het gewys jy kan die manier waarop jou brein werk, verander deur 30 minute per dag aandagtig te mediteer. Dit kan die dele van jou brein versterk wat met jou reaksie op uitdagings verband hou. Jy kan op enige plek mediteer, selfs terwyl jy in die straat loop. Jy kan selfs mediteer terwyl jy skottelgoed was. As jy hard konsentreer, kan jy afleidings en onstimulerende gedagtes uitsluit en net op jou doelwit fokus.

 

HAAL DIEP ASEM

 

Navorsing deur die Smell & Taste Treatment and Research Foundation in Chicago in die VSA het getoon die geur van vars, groeiende plante kan jou konsentrasievermoë help verbeter. Die leerspoed van mense wat ’n mengsel van blomgeure ingeasem het, het met 17% verbeter. Probeer dit self – tik parfuum of olie met ’n blomgeur aan jou polse en asem diep in terwyl jy daaraan ruik.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 dinge wat nooit verby jou lippe moet gaan nie

Die Brits-Nigeriese aktrise, TV-persoonlikheid en stylikoon Eku Edewor lei ’n fiks, gesonde leefstyl. Sy verklap aan ons die vyf eet-...

Close