×
Skakel na Engels

Wat ouers van ’n leë nes wil hê ander ouers moet weet

Wanneer jou kinders die huis verlaat, kan dit moeilik wees om aan ’n lewe sonder hulle gewoond te raak, maar daar’s darem goeie vooruitsigte ook. Deborah Herd het by ouers met ’n leë nes gehoor wat hulle wil hê jy moet weet …
Rear View Of Family Walking Through Autumn Woodland

LES 1

LEI JOU EIE LEWE; MOENIE NET ’N OUER WEES NIE

“My dogter, Brogan, het drie maande gelede by haar kêrel ingetrek. Ek mis haar verskriklik. Ek is ’n enkelma en ek het nou eers besef dat ek nie eintlik ’n lewe het behalwe om ’n ma te wees nie. Dis soos om van voor af te begin – alleen – en dis angswekkend! Ek het al menigmaal al die pad werk toe gehuil. Ons het so baie saam gedoen.”

“Dis ’n groot aanpassing, maar ek weet sy sal oukei wees. Ek’s nie so seker van mý nie. Ek’s stadig maar seker besig om myself weer op te bou, maar dis moeilik. Ek moet stokperdjies kry, begin oefen en ’n bietjie uitkom, maar ek vind altyd verskonings. My raad aan enkelouers – of enige ouers – is om jou eie en nie net jou kinders se lewe te leef nie. Dis baie belangrik.”

Tracy Lane, persoonlike assistent, Johannesburg | ma van Brogan (25)

LEES: Algemene reëls vir volwasse kinders wat in die huis bly

LES 2

BRING TYD SAAM DEUR VOORDAT DIT TE LAAT IS

“Wanneer jou baba gebore word, sê almal vir jou jy moet dit geniet, want die tyd gaan gou verby. Ek het dit egter nie ervaar toe my kinders klein was nie. Die dae – en nagte – het lank gevoel! Maar toe hulle met skool begin het en met huiswerk, buitemuurse aktiwiteite en speelafsprake besig was, het die jare verbygevlieg. Teen die tyd dat hulle hoërskool toe is, het dit gevoel asof hulle reeds die huis verlaat het.”

“Jy het dit waarskynlik al gehoor, maar jy moet régtig tyd vir jou kinders maak, veral wanneer hulle bedrywige tieners is, en saam mooi herinneringe skep. Speel bordspeletjies, gaan stap of klim berg, maak saam kos, hardloop in die reën. Dís die tye wat jy – en hulle – gaan onthou wanneer hulle uitgetrek het.”

Yasmin Padayachee, verkoopsbestuurder, Durban | ma van Micaela (22) en Uli (20)

LEES: Hoe om jou kinders se slegte gedrag in ’n week te verander

LES 3

STEL ’N PLAN IN WERKING

“Waar middae, aande en naweke voorheen deur die kinders se aktiwiteite gevul is, kan dit nou met jóú aktiwiteite gevul word. Maar oppas – jou lewe is geneig om vol te raak, of jy dit beplan het of nie. Beplan dus eerder hoe jy jou tyd wil benut. Pleks van ure voor die TV te sit, doen aktiwiteite wat jy gedoen het voordat jy kinders gehad het. Gaan fliek 17:00 op ’n weekdag. Doen vrywilligerswerk. Vind ’n kursus vir paartjies. Studeer saam. Geniet ’n luilekker ontbyt op ’n Saterdag. Praat oor jul drome en wat julle in die volgende paar jaar wil bereik. Praat oor jul lewe voor die kinders en wat jul belangstellings toe was. Is daar iets wat julle wil hervat? Gaan op ’n vakansie waarvan julle lankal droom. Bederf jouself.

Kirsten Long, kommunikasievaardighede-afrigter, Johannesburg | ma van Morgan (25), Natasha (23) en Cayla (21)

LEES: 10 dinge wat jy van ’n tweede swangerskap moet weet

LES 4

VERTROU DAT JY HULLE REG GROOTGEMAAK HET

“Al twee my kinders is op 21-jarige ouderdom uit die huis en my grootste vrees was dat hulle nie gereed was vir die wêreld nie, dat ek hulle nie goed genoeg voorberei het nie. Gedurende hul kinderdae het ek gereeld nagskof gewerk en hulle het geleer om baie onafhanklik te wees, wat ek dink hulle baie gehelp het, maar die wêreld is ’n vreesaanjaende plek en daar is baie versoekings. Toe hulle weg is, het ek myself aanvanklik heeltyd oor hulle bekommer. Maar wanneer hulle kom kuier het, het hulle my altyd gerusgestel dat hulle tussen reg en verkeerd kan onderskei.”

“Ek is so trots op hulle en as ek eerlik moet wees, geniet ek dit eintlik om ’n netjiese huis en meer ruimte vir myself te hê en om nie heeltyd kos te maak nie. Ek het opgehou om my so baie te bekommer.”

Boniswa Jonge, verpleegster, Kaapstad | ma van Lisa (24) en Michael (22)
LEES: Hoe om jou tiener voor te berei om die nes te verlaat

LES 5

LAAT DIE VONKE TUSSEN JOU EN JOU MAN WEER SPAT

“Ek het vier kinders en namate hulle weg is om met hul eie lewe te begin, het dit so reg gevoel. Eers toe my jongste matriek toe is, het ek die leënessindroom begin vrees. Hy moes egter baie hard werk om by ’n universieteit aanvaar te word en ek het sy sukses op die hart gedra. Tog ek het die dag gevrees wanneer hy sou weggaan. Toe dit aanbreek, was daar egter soveel vreugde dat ons daarin geslaag het om hom by ’n universiteit in te kry dat ek dit meer geniet om hom te sien groei as om hom te mis.”

“Dit was lekker om die huis vir die eerste keer in 28 jaar vir myself te hê. Ek was dol daaroor dat as ek my kombuis skoongemaak het dit vyf minute later steeds skoon was. Ek en my man het dit geniet om te kommunikeer sonder dat ons ander in ag hoef te neem en ek het die geleentheid benut om die romanse weer aan te vuur. Ek het nie besef hoe moeilik dit vir hom was om nie altyd naby aan my te kon wees nie met dié dat die kinders se behoeftes dikwels voorkeur gekry het.”

Tracy Clifford Statt, hipnoterapeut, Knysna | ma van Haig (30), Faye (26), Kerry-Lee (24) en Cundell (20)

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 10 beste dinge van ma-wees

Die voordele van ouerskap waarvan hulle jou nie in die voorgeboorteklas vertel nie. Deur Emily-Jane Clark

Close