×
Skakel na Engels

Wat jy van jou familie se mediese geskiedenis moet weet

Dr. Ellie Cannon werp lig op oorerflike toestande. Deur Jenny Cook
mediese geskiedenis

Jou familie se mediese geskiedenis is ’n onderwerp wat in amper elke doktersafspraak opduik – en dis so algemeen dat die meeste van ons outomaties antwoord. Maar hierdie vraag word nie sonder rede gevra nie, en om ingelig te wees oor die gevare wat familietoestande moontlik inhou (of nié), kan ontsettend bemagtigend wees.

As mense deel ons 99,9% van ons DNS, met net die oorblywende 0,1% wat ons uniek maak. Ons DNS is die boustene van ons gene, en is in 23 pare chromosome gestruktureer – soos onderskeidelik geërf van jou ma en pa. Dis hierdie chromosome wat jou jóú maak, maar dit beteken ook daar is ruimte dat foutiewe gene (bekend as genetiese mutasies) oorgedra kan word. Dit is dus moontlik dat indien sekere toestande by jou familie voorkom, dit ook by jou kan ontwikkel.

Wanneer behoort jy bekommerd te wees? En presies hoe hoog kan die risiko’s wees? Ons het met dr. Ellie Cannon van Londen gepraat om meer te wete te kom van oorerflike familietoestande en wat dit vir jou gesondheid kan beteken.

Oorerflike toestande

Die mees algemene en ernstige genetiese toestande sluit sistiese fibrose, Duchenne se siekte (spierdistrofie) en sekelsel-anemie in, volgens dr. Ellie. Alhoewel oorgeërfde gene ook ’n rol speel in die ontwikkeling van siektes soos kanker en Alzheimersiekte, bly die kanse skraal en kan daar nooit met 100% sekerheid gesê word dat ’n persoon enige siekte wat ’n vorige familielid gehad het, sal ontwikkel nie. Volgens skattings deur die Cancer Research UK word slegs twee of drie gediagnoseerde kankers met ’n oorgeërfde geenafwyking geassosieer.

“Daar is min toetande wat uitsluitlik deur gene veroorsaak word. Om nabyverwante met ’n mediese toestand te hê beteken dus nie dat ’n individu dit beslis sal ontwikkel nie. Dit is moontlik om die geen te dra sonder om die toestand te ontwikkel, in welke geval ons iemand ’n ‘draer” noem. Net so kan ʼn persoon sonder enige familiegeskiedenis van ’n siekte steeds die gevaar loop om daardie siekte te ontwikkel aangesien gene spontaan kan verander, bekend as ‘mutasie’.”

Kenners van genetika kan mense oor hierdie veranderinge inlig en hulle help om ingeligte besluite oor hulle gesondheid te neem. Dis waarom dit so belangrik is om jou familie se mediese geskiedenis te ken, hetsy jy ’n lyer of dalk net ’n draer is.

Wat om te doen

Solank jy jou dokter die waarheid vertel as hy jou oor jou familie se mediese geskiedenis uitvra, is jy in goeie hande. As jy egter ’n meer konkrete idee wil hê oor die soort impak wat jou genetika op jou gesondheid kan hê, is daar ’n paar verdere stappe wat jy kan doen.

Sogenaamde “direkte” persoonlike genetiese toetsing stel individue in staat om deur hulle DNS meer oor hulself te wete te kom. Direkte persoonlike genetiese toetsing berus dikwels op speekselmonsters of wangsmere om ’n volledige “afskrif” van jou DNS, jou lewenslange bloudruk, te versamel.

Ander oorsake

Al het jy of jou familie ’n geskiedenis van sekere mediese toestande, beteken dit nie noodwendig dat dit oorgeërf is of dat jou nageslag in gevaar is nie. Alhoewel dit natuurlik is dat pasiënte hulle hieroor bekommer, is daar ’n kans dat jy jou verniet loop en bekommer. Gene is nie die alfa en omega van mediese toestande nie, soos dr. Ellie verduidelik:

“Dit is belangrik om te onthou dat die ontwikkeling van ’n mediese toestand van verskeie faktore afhang. Alhoewel jou oorgeërfde gene ’n rol speel, berus dit ook op leefstylfaktore soos jou dieet, omgewing en oefening. Koronêre hartsiektes kan byvoorbeeld in families voorkom, maar ’n swak dieet, rook en ’n gebrek aan oefening kan jou risiko om die siekte te ontwikkel, beslis verhoog.”

Dit in ag genome, is ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl jou beste wapen teen siektes – of dit oorgeërf is of nie.

Neem beheer van jou gesondheid

Op die ou end is gesondheid iets persoonlik. Vanselfsprekend is dit ’n kommerwekkende gedagte dat jou toekomstige mediese prentjie dalk reeds vir jou ingekleur is, maar die manier waarop jy hierdie moontlikhede hanteer, is steeds jou keuse.

“Individue wat die risiko van oorerflike toestande verstaan, is in beheer van hulle eie sorg en is in staat om gesondheidstappe te neem wat die moontlike aanvang van sekere gesondheidstoestande te verklein of te voorkom. As jy byvoorbeeld ’n familiegeskiedenis van tipe 2-diabetes het, is dit moontlik om die aanvang te vertraag of voorkom deur gereeld te oefen en gesond te eet.”

Genetiese inligting is ook die basis vir verpersoonlikte medikasie en kan aangewend word om gesprekke tussen dokters en pasiënte te fasiliteer. Gewapen met inligting oor ’n pasiënt se genetiese vatbaarheid vir sekere siektes, kan dokters voorkomende maatreëls vir elke pasiënt se spesifieke behoeftes aanbeveel. Gesondheidsorgpraktisyns kan byvoorbeeld meer gereelde ondersoeke vir mense met ’n verhoogde risiko vir sekere kankers aanbeveel. Kennis is mag, en om jou genetiese risiko te verstaan kan tot beter voorbereiding, beter voorkoming en – wanneer beskikbaar – beter behandeling lei.

Van Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/monkeybusinessimages

LEES OOK:

“Ek het borskanker twee maal oorwin”

Een simptoom van ovariële kanker wat mense dink “normaal” is

8 maklike gesondheidswenke vir mense met tipe 2-diabetes

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 gevaarlike speelgoed uit die jare toet

'n Terugflits na die heel gevaarlikste speelgoed in die geskiedenis

Close