×
Skakel na Engels

Wat jy móét weet voordat jy jou huis opknap

Verseker só dat alles seepglad verloop (én jy binne jou begroting bly!)

Hoewel baie mense dit as ’n onnodige uitgawe beskou, is dit waar dat ’n die waarde van jou eiendom kan afneem as dit verwaarloos en lank laas opgeknap is. Gereelde opknappings en instandhouding sal die lewe van jou huisstelsels verleng, wat beteken dat jy op die lang termyn jou huis se waarde sal laat toeneem én geld sal spaar.

 

Beplanning is die sleutelwoord as dit by opknapping kom. As jy dit oorweeg om jou huis op te knap, moet jy duidelikheid hê oor jou prioriteit, hetsy dit is om jou huis meer “groen” te maak of om aan die behoeftes van ’n groeiende gesin te voldoen.

 

Cheryl Neave, die besturende direkteur by The Building Centre, lys ’n paar opknappingswenke wat alle huiseienaars in gedagte moet hou.

Baie van dié wenke is maklike selfdoen-projekte, maar party het ’n deskundige se hand nodig. So kies een of twee wat jou én jou begroting pas.

 

1. Hou dit natuurlik

Oorweeg dit om dakvensters te installeer – hoewel dit aanvanklik duur kan wees, sal dit jou op die lange duur elektrisiteitskostes bespaar. Hoe meer natuurlike lig jy in jou huis inlaat, hoe minder ligte sal jy hoef aan te skakel en hoe minder elektrisiteit sal jy gebruik. Nog ’n voordeel, wat ook met kragverbruik te doen het, is dat natuurlike lig die hitte in jou huis help behou.

 

2. Spaar water en spaar sente

Verminder die waterverbruik in jou huis deur krane en stortkoppe te installeer wat die watervloei beheer of minder water deurlaat. Jy kan jou bestaande eenhede aanpas of die hele eenheid vervang. Doen gerus navraag by hardewarewinkels of vra jou loodgieter oor die opsies. Waterverwarmers is ook beskikbaar in meer energiedoeltreffende modelle wat óf minder krag gebruik om water te verhit, óf geprogrammeer is om water slegs op aanvraag te verhit.

 

3. Vloerbedekkings

Wanneer jy jou vloere opknap, oorweeg houtvloere of om ’n houtstoep of -dek aan te bring. As dit goed verseël is, verg houtvloere min inspanning om te onderhou en dis maklik om skoon te maak. Aangesien houtvloere nie soos matte hope stof opgaar nie, is dit ideaal vir mense wat allergieë het, sowel as gesinne met kinders en troeteldiere.

 

4. Kombuis

Knap jou kombuis in ’n kits met ’n lagie verf op, of vervang die werksoppervlak of muurteëls. ’n Gelamineerde werksoppervlak is dikwels die goedkoopste. Of kies opvallende teëls vir ’n treffende voorkoms wat die illusie van ’n duur ontwerp sal skep.

Nog ’n vinnige opknapwenk is om die handvatsels op jou kombuiskaste te vervang. En raak ontslae van daardie buisligte! Sagte beligting, soos “down lights” in jou kabinete, sal nie net jou kombuis meer aantreklik maak nie, maar dit sal ook ’n groot impak maak sonder dat jy ’n fortuin hoef te spandeer.

 

Lees ook:

Versier jou huis sonder om ’n fortuin te spandeer

Klein veranderings, groot trefkrag

 

Wenke uitgereik namens Cheryl Neave: cheryl.neave@gmail.com.

Vir verdere inligting: megan@dummettandcompany.co.za

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maak dit: Kersblakers

Dis maklik om dié kersblakers met hul sjiek, industriële gevoel aanmekaar te sit

Close