×
Skakel na Engels

Wat jou puisies vir jou probeer sê

Wáár jy puisies op jou vel kry, kan baie oor die oorsaak daarvan verklap – en ook hoe om dit te voorkom en behandel.

’n Nare puisie of twee is genoeg om enige iemand se bui te vertroebel. Maar deur te weet wat jou vel vir jou probeer sê, kan jy dié irritasies makliker takel en voorkom.

Wanneer jy geneig is om puisies op jou ken/kakebeenlyn te kry: 

Die oorsaak: Hormone of jou menstruele siklus is die groot sondaar wanneer jy geneig is om puisies op jou ken en rondom jou kakebeenlyn te kry. Hormone fluktueer regdeur jou siklus, wat jou kliere meer olie laat vervaardig – van daar die puisies.

Die oplossing: As jy veral rondom jou maandstonde geneig is om puisies te kry, gebruik ’n reiniger met bestanddele wat aknee beveg en olie beheer, soos bensoïelperoksied of salisielsuur. As jy veral erg puisies rondom jou ken kry, kan dit ’n goeie idee wees om jou dokter of ginekoloog te gaan spreek om hormoonbehandeling of ’n mondelikse voorbehoedmiddel te bespreek, of ’n dermatoloog om metodes te bespreek om van die puisies ontslae te raak.

Wanneer jy geneig is om puisies rondom jou haarlyn te kry:

Die oorsaak: Puisies rondom die haarlyn is meestal weens ’n oormaat haarprodukte wat die porieë verstop. Ryk opknappers en mousse’e is die groot sondaars, veral as jy geneig is om te veel van die produk op jou hare te gebruik en dit te na aan jou voorkop kom.

Die oplossing: Gebruik minder van jou haarproduk en wees versigtig dat jy dit nie te na aan jou voorkop aanwend nie. Spoel jou hare goed af nadat jy opknapper aangewend het en was jou gesig eers nadat jy jou hare in die stort gewas het.

Wanneer jy geneig is om puisies rondom jou mond te kry:

Die oorsaak: Dié nare goed word meestal deur jou dieet veroorsaak – suur, pikante of vetterige kosse is dikwels die sondaars, want suur is geneig om die vel te irriteer en vet verstop letterlik porieë en veroorsaak puisies rondom jou lippe.

Die oplossing: Wees verstandig oor wat jy eet as jy geneig is om puisies rondom jou mond te kry. Vee jou lippe en die vel rondom jou mond met ’n gesigreinigingslappie af om van enige kosoorblyfsels ontslae te raak.

Wanneer jy geneig is om puisies op jou wange te kry:

Die oorsaak: Puisies op jou wange word meestal veroorsaak deur bakterieë wat van vuil selfoonskerms, hande of kussingslope oorgedra word. Bakterieë versprei vinnig en veroorsaak onsteking en puisies.

Die oplossing: Hou dinge skoon! Ontsmet jou selfoonskerm minstens een keer ’n week, vervang jou kussingslope een keer ’n week en hou op om deur die dag aan jou gesig te vat.

Wanneer jy geneig is om puisies op jou bors en rug te kry:

Die oorsaak: Die  verkeerde oefenklere, waaronder sportbra’s wat nie sweet en vog behoorlik absorbeer nie. Materiale soos katoen is geneig om sweet naby die vel te hou en veroorsaak ’n teelaarde vir bakterieë.

Die oplossing: Belê in absorberende sportbra’s en oefenklere as jy geneig is om baie te sweet. Materiale soos poliëster-spandeks sal die ding doen.

Wanneer jy geneig is om puisies op jou neus en voorkop te kry:

Die oorsaak: Stres veroorsaak dat die liggaam adrenalien vrystel, wat veroorsaak dat die kliere olie vervaardig.

Die oplossing: Wanneer jy deur ’n stresvolle tyd gaan, versorg jou vel ekstragoed met ’n akneebevegtende reiniger of masker.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 goed wat jou vel olierig maak

Burgers en tjips is dalk glad nie die sondaars nie

Close