×
Skakel na Engels

Wat jou egskeidingsprokureur wil hê jy moet weet voordat jy skei

Het jy ál die feite in ag geneem?
skei

Om tot skei te kom is gewoonlik een van die moeilikste besluite wat enige iemand kan neem. Beskik jy oor genoeg inligting om ʼn ingeligte besluit te neem? Egskeidingsprokureurs is daagliks getuies van allerhande soorte scenario’s – van vriendskaplike tot onaangename en lelike egskeidings. Ons kan dus aanvaar dat hulle heelwat kennis oor die onderwerp het.

Goeie Huishouding het by Alton Samuels, advokaat van die Suid-Afrikaanse hooggeregshof en lid van die Kaapse balie, gaan uitvind wat mense behoort te weet voordat hulle skei. 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Wanneer twee mense trou, word verskeie netwerke en verhoudings – persoonlik sowel as finansieel – gevorm. Gevolglik kan ’n egskeiding’n aantal voorsiene en onvoorsiene gevolge meebring,” verduidelik Samuels. Lees hier wat hy wil hê jy moet weet voordat jy besluit om te skei:

1. Samewerking tussen jou en jou maat

Behalwe vir die feit dat dit emosioneel veeleisend en dreinerend is, kan ’n egskeiding reuse-finansiële druk op albei partye plaas. Volgens Samuels kan dit vermy word as julle op ’n onbestrede egskeiding besluit.

’n Onbestrede egskeiding is waar albei eggenote tot ’n egskeiding instem en dit nie wetlik betwis nie. Hierdie opsie spaar tyd, geld en emosionele stres. ’n Onbestrede egskeiding se sukses berus daarby dat jy en jou maat julle volle samewerking gee wanneer persoonlike implikasies bespreek word, byvoorbeeld huisvesting, kinderonderhoud en finansiële implikasies (hoe bates verdeel en laste betaal word). Raadpleeg ’n prokureur om ’n skikkingsooreenkoms op te stel waar die verdeling van bates en laste gestipuleer word.

2. Onderhoud aan gade

“Dis belangrik om daarop te let dat geen eggenoot ná ʼn egskeiding outomaties die reg op onderhoud het nie. ʼn Eggenoot kan slegs op ʼn maandelikse toelaag aanspraak maak as hy of  sy kan bewys dat dit ʼn werklike behoefte is,” sê Samuels. Hou in gedagte dat indien jy toesig oor die kinders wil hê, jy gedurende die gesprekke in aanloop tot die egskeiding vir onderhoud moet vra en nie moet wag tot nadat ’n hofbevel uitgereik is nie.

3. Versorging, kontak en onderhoud van kinders

“Jy en jou maat behoort julle kinders se belange eerste te stel wanneer julle skei. Een ouer is gewoonlik verantwoordelik vir ’n kind se primêre huisvesting en daaglikse versorging. Dit behels ’n kind se mediese, opvoedkundige, finansiële en sosiale behoeftes,” sê hy.

As jy nie die primêre versorger is nie, sal jy steeds geregtig wees op kontak. Hierdie kontak verwys na beperkte of tydelike toegang wat behels dat jy die kind oor naweke, op verjaarsdae en op vakansies sien. Albei ouers is wetlik verplig om finansieel vir kos, klere, skool en die mediese, tandheelkundige en ander behoeftes van ’n kind by te dra.

Vanselfsprekend behoort julle as ouers die voorgenome versorging van en kontak met julle minderjarige kinders te bespreek. Dit is noodsaaklik dat ouers hulle emosies en persoonlike probleme opsyskuif en eenvoudig op hulle kinders se belange fokus.

4. Wysig ’n bestaande testament op stel ʼn nuwe op

As jy ’n bate aan jou maat bemaak, sal hy of sy nie outomaties uit die testament geskryf word indien enige iets ná die egskeiding met jou gebeur nie. Jy behoort jou testament te wysig indien jy nie wil hê dat jou maat iets moet erf nie. 

5. Die finansiële gevolge van ʼn egskeiding

As julle binne gemeenskap van goedere getroud is, beteken dit dat julle ’n boedel deel en dat albei op ’n helfte geregtig is. As julle buite gemeenskap van goedere getroud is sonder die aanwasbedeling, behou elke maat sy of haar afsonderlike bedoel na die egskeiding.

As julle buite gemeenskap van goedere mét die aanwasbedeling getroud is, sal die maat wie se boedel gedurende die huwelik die kleinste groei getoon het, deel in die maat se boedel wat die grootste groei getoon het. “Die finansiële gevolge van egskeiding word hoofsaaklik bepaal deur die huwelikstelsel wat die wetlike basis van ’n huwelik vorm,” sluit Samuels af.

FOTO: iStock/Zinkevych

LEES OOK:

Vernaamste 4 optredes wat tot egskeiding kan lei

10 maatsoekwenke vir geskeides

4 dinge om nié vir iemand te sê wat skei nie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is jy emosioneel afsydig in jou huwelik sonder dat jy dit besef?

Dis baie maklik om in hierdie strikke te trap. Red só jou huwelik. Deur Cortney Fries

Close