×
Skakel na Engels

Wat dit van jou sê as jy jou naels byt, volgens die wetenskap

Dié “slegte” gewoonte het blykbaar ’n verrassende rede

Byt jy jou naels?

As jy ’n naelbyter is, hoekom doen jy dit? Is dit ’n ingewortelde gewoonte, ’n senuagtige reaksie of dink jy jou tande werk beter as ’n naelvyl?

Wel, ’n nuwe studie aan die Universiteit van Montreal in Kanada het die een karaktertrek onthul wat alle naelbyters gemeen het, en dit is nie senuwees of interne angstigheid nie – dis perfeksionisme.

Volgens die studie is naelbytery ’n teken dat die individu alles in orde en op hul plek wil hê.

Die studie, wat in die Journal of Behavior Therapy and Experimental Psychiatry gepubliseer is, het 48 deelnemers gemonitor van wie die helfte gereeld hul naels en naelvelletjies gebyt het.

Hulle is vrae oor hul emosionele gewoontes gevra, waaronder hoe dikwels hulle verveling, woede, skuldgevoelens, irritasie en angstigheid ervaar.

In die studie is ’n skakel gevind tussen wie hul naels en naelvelletjies byt, en dié wat rusteloos geraak het toe hulle vir ses minute in ’n vertrek sonder verstandelike stimulasie gelaat is.

Die gevolgtrekking was ook dat naelbyters meer geneig is om in die werkplek te presteer vanweë hul toegewydheid.

VERWANTE ARTIKEL: 7 dinge vir ’n noodmanikuur

Die studieleier, dr. Kieron O’Connor, het verduidelik: “Ons glo dat individue met hierdie herhalende gedrag perfeksionisties kan wees, wat beteken hulle kan nie ontspan en take teen ’n ‘normale’ pas verrig nie.

“Hulle is dan geneig tot frustrasie, ongeduld en ontevredenheid wanneer hulle nie hul doelwitte bereik nie. Hulle ervaar ook groter vlakke van verveling.”

Stem jy as naelbyter saam? Is jy ’n perfeksionis wat daarna streef om jou persoonlike doelwitte te bereik of is jy bloot in ’n gewoonte vasgevang?

Hierdie artikel het oorspronklik in Good Housekeeping in Brittanje verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 redes hoekom stap goed vir nuwe ma’s is

Om weer fiks te word is so maklik soos een voet voor die ander sit. Hierdie wonderlike wenke sal jou...

Close