×
Skakel na Engels

Wat de frikkadel is JERFing?!

Een dag is vleis in, die volgende is dit uit. Vandag is vet goed, môre is dit sleg. Om “gesond” te eet kan baie verwarrend wees, en dis hoekom ons begin deur te sê ons wil nie dinge selfs ingewikkelder maak nie, maar …
jerfing

Omdat JERFing die presiese teenoorgestelde van ingewikkeld is – ons is absoluut ten gunste van vereenvoudiging! – en meer van ’n leefstyl as ’n dieet, het ons gedink ons gee jou ’n vinnige JERF-kursus sodat jy self kan besluit.

JERFing in ’n neutedop

JERF staan vir “Just Eat Real Food”.

Maar wat presies is “regte” kos?

Kortliks is dit kos wat so na as moontlik aan hul natuurlike en oorspronklike toestand is. Wanneer jy dus kruideniersware gaan koop, probeer om die twee  v’s te vermy – verwerkte en verpakte kos.

Wat maak JERFing so fantasties?

Sarah Wilson, blogger en skrywer van die topverkoper-boekreeks I Quit Sugar, is ’n trotse voorstander van JERFing en glo vas daarin. Wilson sê daar is bewys dat die eet van meer regte, onverwerkte en natuurlike kosse verbind word met ’n beter vel, beter slaap, beter algehele gesondheid en ja, die afskud van ongewenste kilo’s.

Nuuskierig?

Hierdie wenke van iquitsugar.com sal jou goeie riglyne gee.

5 stappe van JERFing:

1. Hou dit eenvoudig. 

Kies kos met die minste hoeveelheid bestanddele. As dit nie ’n bestanddelelys nodig het nie, is dit selfs beter (wanneer is die laaste keer wat jy een op vars broccoli gesien het?). Fokus op plaaslike, seisoenale kos; dit gaan oor gehalte, nié hoeveelheid nie.

2. Koop in groot maat.

Koop groente, grane en neute in groot maat wanneer dit in die seisoen is. Dit sal dan ook goedkoper wees. Verdeel dit in porsies, vries en haal dit uit wanneer jy min tyd het.

3. Eet alles.

Ons praat van wortelknobbels, selderystingels, vleisafsnysels – alles! Jy sal meer voedingstowwe inkry, geld spaar en heerlike smaak en tekstuur by jou geregte voeg (koop organies indien moontlik om nare plaagdoders te vermy wat op sommige vrugte en groente draal). As jy die stukkies en brokkies wat oorbly nie dadelik nodig het nie, plaas dit in ’n vriessakkie en vries dit om later in aftreksel of sop te gebruik.

4. Begin kook!

Kook is sonder twyfel die absolute beste manier om te JERF. Dit beteken jy weet wat in jou kos ingaan. Om behoorlik te leer kook is ’n vaardigheid wat jou ’n leeftyd sal hou.

5. Eet asof dit 1934 is.

Om regte kos te eet gaan daaroor om terug te gaan na hoe ons oupas en oumas (en oorgrootjies) geëet het, Vleis en drie groentes, die hele eier en hoendervel … Dis waarvan ons praat.

Om af te sluit …

Hulle sê jy is wat jy eet. Moet dus nie vinnig, goedkoop of nagemaak wees nie! Eet eerder net regte kos.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Voorsmakie van ons Junie-uitgawe

Hallo Junie-uitgawe! Die beeldskone Julianne Moore is op die nuwe voorblad en dié uitgawe is propvol idees en wenke. Kry...

Close