×
Skakel na Engels

Wanneer moet jy jou grimeerkwaste was?

Hier is alles wat jy moet weet, met kennerswenke van Pixiwoo se skoonheidsbloggers Nic en Sam Chapman. Deur Amy Lewis
grimeerkwaste

Jy gebruik dit elke dag op jou vel, maar hoe gereeld maak jy jou grimeerkwaste skoon? En doen jy dit reg? Jy reinig elke dag jou gesig. Maar hoe gereeld was jy die grimeerkwaste wat jy op jou vel gebruik? Een keer ’n maand? Een keer ’n jaar? Nooit nie?

Van dooie selletjies en bakterieë tot vuiligheid, stof en grimering wat opbou – dit kan alles op jou grimeerkwaste agterbly. Hoe jy dié kwaste bêre wanneer jy dit nie gebruik nie, maak ook ’n verskil.

Gooi jy jou kwaste sommer los in jou grimeersakkie? Lê hulle êrens op hopie op jou grimeertafel? Het jy al jou kwas op die mat laat val, opgetel en bloot voortgegaan om jou grimering aan te wend? Ja, ons kan almal vir ’n slag ons grimeerkwaste skoonmaak, nie waar nie? Maar hoe doen ons dit? En waarmee doen ons dit?

Vir antwoorde op dié kwelvrae het ons gaan aanklop by twee kenners, Sam en Nic Chapman, grimeerkunstenaars, skoonheidsbloggers en skeppers van die Real Techniques- reeks grimeerkwaste.

Hoe gereeld moet grimeerkwaste skoongemaak word?

As jy jou kwaste net op jouself gebruik, maak dit twee keer ’n week goed skoon. As jy met ’n veluitslag sukkel, snytjies op jou vel of ’n ooginfeksie het, moet jy jou kwaste elke dag skoonmaak.

Moet sommige kwaste meer gereeld as ander skoongemaak word?

Ja, kwaste vir oogomlyner moet elke keer ná gebruik skoongemaak word om te verseker dat jy ’n skoon, netjiese lyn kry. Die kwas vir jou blosser moet ook elke dag skoongemaak word wanneer jy verskillende kleure gebruik. Jou lipkwas moet jy met ’n olierige ooggrimering-verwyderaar skoonmaak. Dit is die beste manier om lipstiffie behoorlik van die kwashaartjies te verwyder.

Wat is die beste manier om grimeerkwaste skoon te maak?

Gebruik ’n kwasreiniger van goeie gehalte. Maak dik sneespapier of ’n handdoekrol effens nat met die reiniger. Trek die kwas liggies heen en weer oor die papier en vorm die nat haartjies in hul oorspronlik posisie. Laat die kwaste oor die kant van ’n tafel lê om droog te word.

Is daar verskillende produkte/tegnieke vir sintetiese haarkwaste en die natuurlike soort?

Jy kan hulle op dieselfde manier skoonmaak. ’n Sintetiese kwas voel gewoonlik anders as sy natuurlike eweknie, maar deesdae is die gehalte van sintetiese kwaste so goed dat dit moeilik is om die verskil raak te sien.

Lees ook: ’n Beginner-grimeerstel vir jou tiener

Ek sukkel om oogomlyner en aangeplakte lipstiffie van kwaste te verwyder. Hoe gemaak?

Gebruik ’n olierige grimeerverwyderaar en dan ’n kwasreiniger om die olierigheid van die kwas te verwyder.

Is daar ’n vinnige manier om kwaste droog te maak?

Hang die kwaste onderstebo of laat hulle oor die kant van ’n tafel droog word. Dis belangrik dat die lug kan sirkuleer.

Hoe maak ’n mens onderlaagsponsies skoon?

In warm water met ’n ligte sjampoe. Jy sal dalk nie die kolle uitkry nie, maar dit sal behoorlik gereinig wees.

Kan vroue maar grimeerkwaste deel? 

Nee! Só word bakterieë versprei en dit kan tot ooginfeksies lei. Natuurlik kan verskillende mense die kwaste gebruik wanneer dit elke keer tussen gebruik skoongemaak word.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief