×
Skakel na Engels

Wanneer kos ’n obsessie word

Mense wat aan ’n ooreetversteuring ly, is geneig om konstant oor kos te dink, maar voel terselfdertyd verleë of skuldig oor hul gewig. Klink dit bekend?

Wat is kompulsiewe ooretery (binge eating)?

 

Mense wat hulle oormatig ooreet, neem dikwels groot hoeveelhede kos in selfs wanneer hulle nie honger is nie. Dis ’n bose kringloop: Ooreters verslind kos onbeheers – gewoonlik weens alleenheid, verveling, hartseer of stres – en voel dan agterna gewalg, skaam of skuldig.

 

 

Tekens en simptome

 

Van dit het te doen met emosionele kwessies soos:

–       Om skuldig of depressief te voel nadat jy jou ooreet het.

–       Om te eet sonder dat jy dit besef.

–       Om te voel kos is die enigste manier om jou te kalmeer en te troos.

 

Van dit is gedragsverwant:

–       Jy eet ’n normale hoeveelheid kos voor ander en ooreet jou wanneer jy alleen is.

–       Jy neem groot hoeveelhede kos binne ’n kort tyd in.

–       Jy eet selfs wanneer jy nie honger is nie of reeds versadig is.

 

 

Het ek ’n ooreetversteuring?

 

As jy ja op drie of meer van die volgende vrae antwoord, is die kans goed dat jy ’n versteuring het.

 

  1. Domineer kos of gedagtes oor kos jou lewe?
  2. Maak jy jouself ooit siek omdat jy ongemaklik vol voel?
  3. Eet jy om stres te verlig, aan kwellinge te ontsnap of jouself te troos?
  4. Voel jy gewalg of skaam nadat jy geëet het?
  5. Eet jy ooit in die geheim?

 

Die gevolge

 

Behalwe vir die ooglopende emosionele en fisieke stremming wat die versteuring op jou lewe en liggaam het, kan ooretery ook tot slaapapnee, oorgewig en verwante kwessies soos hoë bloeddruk, cholesterol, hartsiekte en tipe 2-diabetes lei.

 

 

Die oorsaak

 

Die presiese oorsaak is nog onbekend, maar ’n familiegeskiedenis en sosiale en sielkundige kwessies kan bydra tot ongesonde eetgewoontes en die ontwikkeling van ’n eetversteuring.

 

 

Kry hulp

 

Maak ’n afspraak met jou huisdokter en bespreek behandelingsopsies, soos om ’n psigiater of ’n dieetkundige te gaan spreek.

 

 

Jou 10-stap-aksieplan

 

  1. Beheer stres deur te oefen of te ontspan pleks van te eet.
  2. Hou by ’n gestruktureerde eetplan om te verhinder dat jy jou ooreet. En moenie maaltye oorslaan nie!
  3. Raak ontslae van soetgoed en versnaperinge in jou huis om die versoeking te voorkom.
  4. Hou op dieet! Volg eerder ’n gesonde, gebalanseerde eetplan.
  5. Oefen – dit sal nie net jou gemoed verbeter en jou help om van spanning ontslae te raak nie, maar sal jou ook help gewig verloor.
  6. Begin ’n kosdagboek en skryf neer wat daartoe lei dat jy jou ooreet.
  7. Klop die verveling. Sluit by ’n boekklub aan, gaan stap, woon pottebakkeryklasse by – enige iets wat jou nie aan kos sal laat dink nie.
  8. Kry genoeg slaap om moegheid gedurende die dag te keer, want dit sal jou juis na iets soets laat smag.
  9. Fokus op jou kos: Kou stadig, moenie eet terwyl jy TV kyk of werk nie en leer om na jou liggaam te luister.
  10. Bel ’n vriend of vriendin. Moenie kos gebruik om jou te troos nie. Neem ’n lojale vriend of familielid in jou vertroue.

 

 

LEES OOK

Is jy n emosionele eter?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Moenie voor die fees vas nie!

Met die partytjietyd net om die draai, maak seker jy laat jou dieet nie deur dié lokval ontspoor nie

Close