×
Skakel na Engels

Waarom ons moet ophou om ma’s te kritiseer

Moederskap is harde werk, en daarom het vroue ondersteuning en aanmoediging nodig nie onnodige kritiek nie, sê Hannah Verdier.
ma's kritiseeer

Wanneer laas het iemand jou ouerskapvaardighede uitmekaargetrek?

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Volgens ’n nuwe verslag word twee-derdes van ma’s met kinders onder vyf oor hul ouerskap gekritiseer, en amper die helfte van hulle erken dat dit hulle onseker oor hul keuses laat voel.

Opmerkings oor die besluite wat ma’s gedurende swangerskap en moederskap neem, is niks nuuts nie, maar die druk is nie net beperk tot familie, vriende en die vreemdeling op die bus wat jou probeer vertel waarom jou baba huil nie.

Kritici wat agter lukrake gebruikersname skuil, gekombineer met die druk om op Instagram te wys hoe #geseënd jy is, beteken dat een negatiewe opmerking jou in ’n afwaartse spiraal kan laat versink.

Die internet kan ’n bron van troos wees, veral as jy drieuur die oggend moet google: “Waarom lyk my baba se poef soos mosterd?” Maar dit is ook ’n plek waar mense dapper genoeg is om dinge kwyt te raak wat hulle nooit reguit vir jou sal sê nie.

Waar ma’s voorheen tot Baby Rhyme Time moes wag om uitgevra te word oor waarom hulle nie borsvoed nie, is daardie kritiek (kompleet met ’n hartseer emoji-gesiggie) vandag 24/7 op hul selfoon beskikbaar.
 
’n Mens sien nooit dat iemand ’n man oor sy vaderskapstyl laat skuldig voel nie. Maar mense verlekker hulle blykbaar daarin om vroue teen mekaar af te speel, en die ongevraagde opmerkings oor ma’s neem dit na ’n volgende vlak. Bors- vs. bottelvoeding. Tuisbly-ma’s vs. werkende ma’s. Gelukkige ma’s vs. ma’s wat dit durf erken dat dit die hardste (en soms – fluister dit – die verveligste) werk op aarde is.

Die oomblik wanneer jy ’n ma word, is dit asof almal toestemming het om, in die woorde van die alwyse Peppa Pig, te sê: “Jy doen dit heeltemal verkeerd.”

Een klein opmerkinkie kan vir dae by jou spook. As jy voos van die moegheid is, pas uit die hospitaal gekom het en nie kan gaan sit sonder om te kreun nie, voel enige raad soos inmenging. Jy is op jou broosste. Babas kom nie saam met ’n handleiding nie; dus het jy die gerusstelling nodig dat jy dit reg doen en die selfvertroue om jou instinkte te vertrou (sê die vrou wat haar eerste doek verkeerdom aangesit het terwyl die geamuseerde vroedvrou staan en toekyk).
 
Om vir ma’s (veral nuwe ma’s) te sê wat hulle verkeerd doen, gaan ongetwyfeld skade aanrig, of dit nou van familie of wildvreemdeling af kom.

Skoonma’s is ’n uitstekende voorbeeld: Hulle weet immers hoe dit werk en hulle “probeer net help”. Een vriendin beskryf hoe haar kêrel se ma daarop aangedring het dat sy die baba 19:00 in die bed sit, haar nie aan die gehuil steur nie en aangaan met haar aand. Tien minute later het Ma en haar tien dae oue baba ewe droewig geween, desperaat vir ’n bietjie liefde.

Almal het daardie oomblikke wanneer hul ouerskapsvaardighede in die openbaar getoets word. Vir een vriendin was dit toe haar peuter nie kon hou nie en die piepie in die middel van die supermark teen haar beentjies afgestroom het. “Dit het tot in haar stewels geloop,” onthou sy. “Sy het ʼn massiewe uitbarsting gehad toe ek haar in haar stootwaentjie vasmaak, en ek het my beste moederlike voetjie voorgesit, tot op my hurke gesak en kalm verduidelik dat sy nie kaalvoet deur die parkie kon loop nie.” Die volgende oomblik het ek ’n tannie van iets in die 70 hoor sê: “Jy kan haar nie sonder skoene laat uitgaan nie.” Jip, die betrokke ma het dit verloor …

Natuurlik is inmengery deur omstanders niks nuuts nie. Toe ons kinders was, het ons ma’s waarskynlik ’n meer hegte ondersteuningsnetwerk van familie gehad – en dit het nie sonder ’n berg advies gekom nie.

Die druk om te lyk asof jy moederskap onder die knie het, word vandag deur die wêreld rondom ons én die sosiale media vererger.

Binnegevegte het onder vroue uitgebreek toe ’n koerant blogskrywers soos Hurrah For Gin en The Unmumsy Mum oor die kole haal vir hulle “gekla” oor hoe moeilik dit is om kinders groot te maak. Hul onheilige gewoontes, soos om af en toe ’n drankie te geniet en die kinders visvingers vir middagete te gee, is skerp veroordeel.

Persoonlik dink ek dat wanneer jy jou kniediep in vuil doeke en loutere wanorde (snot en rondlêspeelgoed) bevind, desperaat vir ’n glas sauvignon blanc wat eers kom wanneer die kinders slaap, dit troos bied om te weet dat jy nie die enigste een is vir wie dit moeilik is nie.

“Ek kan doen sonder om ’n Facebook-gedig te lees wat my daarop wys om ‘elke oomblik te koester’ terwyl ek die laaste drie dae net sewe uur slaap gehad het,” sê ’n vriendin. “Verstaan my reg: Ek is liewer vir my kinders as wat ek ooit kon dink, maar dis nie net alles kuiltjies en glimlaggies nie.”

Alle ma’s doen hul bes vir hul kinders; dit is ons posbeskrywing. Maar ons loop steeds deur onder opinies en nuwe studies oor wat die beste vir ons kinders is: van die raadsaamheid om jou kind kleuterskool toe te stuur al dan nie, tot die opskorting van jou tiener se skermtyd.

Wanneer jy ’n grepie uit ’n ma se lewe sien – of dit nou in die supermark of op Facebook is – herinner jouself daaraan dat jy nie weet wat sy agter die skerms deurmaak nie. Moet haar nooit kritiseer voordat jy ’n myl in haar verslete skoene geloop het nie.

Uit: Good Housekeeping UK

*http://mottnpch.org/reports-surveys/mom-shaming-or-constructive-criticism-perspectives-mothers

Foto: Weekend Images Inc.

LEES OOK:

14 tekens dat jy ’n goeie ouer vir jou tieners is

Die 5 beginsels van vroeë kinderontwikkeling wat ouers moet bemeester

Dís waarom die aanloop tot Kersfees spanningsvol vir ouers is

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Vyf maniere om jouself somergereed te maak

Selfliefde is die maklikste manier om dit te doen!

Close