×

Waar om te begin as jou kind ’n alternatiewe instrument wil bespeel

Wanneer jy in ’n musiekwinkel inloop, is dit duidelik dat instrumente soos klawerborde en kitare baie gewild is, maar wat as jou kind in iets anders belangstel, soos die tuba, Franse horing of tromboon?
alternatiewe musiek instrumente

Ons het met Nomadic Orchestra se tubaspeler, Joe Bolton, gesels om vas te stel waar om te begin.

Waar kan ek ’n instrument kry wat nie ’n plaas se prys kos nie?

Koperblaasinstrumente soos die tuba is baie duur. Oorweeg dit dus om eers vir ’n ruk een te huur voordat jy in ’n instrument belê as jy nie 100% seker is jou kind gaan dit geniet nie.

Joe stel voor jy moedig jou kind aan om op ’n goedkoper koperblaasinstrument soos ’n beuel, trompet, tromboon of eufonium te begin. “Dit is meer bekostigbaar. Begin dus met een van hulle en kyk of jou kind die talent en aanvoeling vir ’n koperblaasinstrument het. Alle koperblaasinstrumente het ’n soortgelyke embouchure (die kombinasie van lipstand, tongstand, ensovoorts by blaasinstrumentspelers) nodig.”

Waar kan ek ’n musiekonderwyser kry wat lesse in alternatiewe instrumente aanbied?

Die meeste skole sal fasiliteerdeers vir alternatiewe instrumente hê, maar omdat dié instrumente skaarser in Suid-Afrika is, sal jy dalk ’n bietjie navorsing moet doen. Die beste sal wees om vir ’n musiekskool in jou gemeenskap te soek. As hulle nie ’n afrigter vir die spesifieke instrument het waarin jou kind belangstel nie, sal hulle weet van iemand wat privaat lesse gee, of hulle sal jou in die regte rigting kan stuur om iemand te kry. Doen andersins navraag by ’n plaaslike universiteit wat ’n musiekdepartement of konservatorium het vir lesse in spesifieke instrumente.

Hoekom behoort ouers hul kinders aan te moedig in musiekinstrumente te bespeel? 

Joe sê om ’n instrument te bespeel leer kinders (en volwassenes) baie goeie lesse:

  • Hoe om in die oomblik te leef “Wanneer ons musiek speel, moet ons konstant ons bes doen op daardie oomblik en vir elke enkele noot wat ons speel. Moenie vashaak op die foute wat jy maak nie, maar fokus daarop om die volgende noot perfek te speel.”
  • Hoe om te oefen “Oefening is ’n kuns wat jou leer om te fokus en stadig te vorder. Ons moet uit ons foute leer en terselfdertyd baie eerlik oor die gehalte van ons spel wees.”
  • Hoe om vir ons besittings te sorg “Musiekinstrumente is uiters broos en verg daaglikse versorging. As jy dit selfs net effens stamp, sal dit dalk nie speel nie.” 

Moenie ’n belangstelling ontmoedig nie 

As jou kind die tuba of ’n ander instrument wil bespeel, moet jy jou verlustig in die feit dat hy of sy in iets interessants belangstel. Moet nooit jou belangstelling op ’n kind afdwing nie. Verbreed eerder hul horisonne om iets te kies waarvan hulle hou en iets waaraan hulle toegewy sal wees. “Die enigste manier waarop jou kind daaruit sal voordeel trek om ’n instrument te bespeel, is as hy regtig belangstel,” sê Joe.

Hoe belangrik is musiekteorie? 

Joe som dit perfek op: “Ons kan almal teken en ons kan almal speel, maar om ’n kunstenaar te wees moet jy komposisie, kleur en konteks verstaan. Teorie is ’n hulpmiddel wat jy kan gebruik om jou begrip te verbreed en werklik ’n stelling in kreatiwiteit te maak, maar uiteindelik, om die komponis, pianis en orkesleier Duke Ellington aan te haal: ‘As dit goed klink, ís dit goed.’ ”

Hooffoto: iStock/Highwaystarz-Photography 

Lees ook:

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 fantastiese kinderpartytjies wat jou mond sal laat oophang

Al die inspirasie wat jy vir jou kind se volgende partytjie nodig het

Close