×

Vyf goue reëls vir mense wat van die huis af werk

Of jy nou klein kindertjies by die huis het, moeg is vir die verkeer of net hou van die idee om jou eie baas te wees, volg dié reëls om ’n suksesvolle besigheid uit jou tuiskantoor te bedryf

huis

Reël 1: Dis my werkplek

Dit is beter om ’n spesifieke area in jou huis te hê waar jy werk, sê Pinky Rapitsi, ’n kunsdirekteur van Johannesburg wat al vir sewe jaar lank van haar huis af werk. ‘As jy kliënte moet sien, maak seker jy het ’n kantoorruimte wat professioneel lyk.’ Belê in ’n gemaklike kantoorstoel en -tafel en vinnige Internet.

 

Reël 2: Behou die grense

Vriende kom kuier vir ’n koppie tee, jou man vra jou om sy hemp gou te stryk… Afleidings en tydstelers is volop by die huis, maar Judy Klipin, ’n lewensafrigter van Johannesburg wat spesialiseer in situasies wat met werk verband hou, sê ‘Jy moet dit baie duidelik maak dat jy werk asof jy in ’n kantoor werk. Hou by kantoorure en leer om nee te sê.’

 

Reël 3: Definieer jou werksure

As jy dit nié doen nie, sal jy later nooit meer jou kantoor verlaat nie,’ sê Rapitsi. Sy stel voor dat jy jou werksure, asook jou middagete, hanteer asof jy vir ’n baas werk. ‘Moenie rondloop terwyl jy eintlik moet werk nie – een ding lei tot ’n ander,’ sê sy. Gebruik ’n kalender en maak elke week voorsiening vir werktyd én gesinstyd

 

Reël 4: Kom ’n bietjie uit

‘Jy kan baie meer produktief wees sonder vergaderings, teetyd en kantoorpolitiek wat jou tyd steel, maar om van die huis af te werk kan jou ook alleen en geïsoleerd laat voel,’ sê Klipin. Sy stel voor dat jy by ’n professionele organisasie aansluit wat dikwels bymekaar kom om vriende vir ’n paar uur ’n week te ontmoet of om vir ’n rukkie by ’n WiFi-koffiewinkel te gaan werk.

 

5. Vermy daardie tydstelers

Identifiseer tipiese goed wat jou aandag aflei en kosbare tyd uit jou dag steel, en probeer dit dan so ver as moontlik vermy.  Dit beteken geen Facebook of Twitter gedurende werksure nie. As jy kan, sit jou selfoon op die ‘silent’-profiel en bêre dit eenkant. Probeer ook om nie heeltyd jou e-posse te lees nie – lees dit eerder elke nou en dan en stuur dan sommer vir almal terug in plaas daarvan om jou werk elke keer met ’n e-pos te onderbreek.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om vir ’n matriekafskeid te begroot en te beplan Deel I

Wie sou kon raai dat ’n matriekafskeid net soveel soos party mense se troues kan kos? Maar moet jou nie...

Close