×
Skakel na Engels

Vyf gewoontes van ’n gelukkige paartjie

Dis nooit te laat om goeie gewoontes aan te leer nie. Hier is vyf gewoontes wat jou en jou geliefde sal help om nog jare lank net so verlief te wees soos daardie eerste dag

Close up of a young man carrying his girlfriend

Om die liefde van jou lewe te ontmoet, is die maklike deel – dis hoe om daardie liefde aan die brand te hou wat moeilik is. Om die waarheid te sê, dis eintlik ’n vaardigheid. Gelukkig is dit ’n vaardigheid wat enigiemand kan aanleer.

Hier is vyf gewoontes wat jou en jou geliefde sal help om nog jare lank net so verlief te wees soos daardie eerste dag. Onthou, dis nooit te laat om goeie gewoontes aan te leer nie. En moenie nét vir ’n spesiale geleentheid wag om jou liefde uit te druk nie – koester jul verhouding deur hierdie gewoontes daagliks toe te pas!

Gewoonte 1: Baklei skoon

Dit gaan nie soveel daaroor of jy moet baklei of nié, maar liewer oor hóé jy baklei. Om daardie vlammetjie aan die brand te hou, sal jy moet leer hoe om die vonke te laat spat (by wyse van spreke!). Dus, volgende keer as jy ’n dreigende storm voel aankom, onthou hierdie drie sleutelstappe: luister, wees eerlik oor wat jou pla en bespreek saam ’n oplossing. En moet nooit die woorde ‘Ek het jou mos gesê’ oor jou lippe laat kom nie!

Gewoonte 2: Bewonder mekaar

Sit elke dag ’n tydjie opsy om te dink oor die dinge wat jou lewensmaat doen wat jou herinner aan hoekom jy in die eerste plek op hom/haar verlief geraak het. Wanneer hulle iets doen wat jou gelukkig maak, al is dit ietsie kleins, sê dit vir hulle. Bewondering en respek vir mekaar sal help om julle vuur en vlam vir mekaar te hou.

Gewoonte 3: Pak saam ’n projek aan

Hoewel dit belangrik is om gedeelde belangstellings te hê, kan dit jul verhouding versterk as julle iets nuuts saam probeer. Skryf in vir ’n 5 km-pretdraf, of spring weg met isiXhosa-lesse? Om ’n nuwe projek saam te begin sal julle nie net nader aan mekaar bring nie, maar julle ook help om aan aspekte van jul verhouding te werk wat julle nie andersins sou verken het nie.

Gewoonte 4: Sien die klein dingetjies raak

Moet nooit net aanneem dat jou geliefde weet jy het hom/haar lief nie – sê minstens een keer per dag ‘Ek’s lief vir jou’. Dink aan al die dinge wat julle gedoen het toe julle net begin uitgaan het, soos om mekaar hallo en totsiens te soen, die motor se deur oop te maak, hande vas te hou wanneer julle loop, ens. Doen julle dit nog steeds? Indien nie, is dit dalk tyd om jou lewensmaat te herinner dat hy/sy jou hart se punt is.

Gewoonte 5: Spandeer gehaltetyd saam

Probeer om minstens 30 minute per dag saam met jou geliefde te spandeer – net julle twee – en gesels dan oor alles behalwe werk, finansies of familie. Ontmoet mekaar vir middagete of gaan stap ná werk, wat ook al vir julle die beste werk. Die punt is om gehaltetyd saam deur te bring.

Lees nog:

Herstel jou verhouding in 5 maklike stappe 

Bring die romanse terug

Hoe om jou man uit te vra

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wees saam gesonder

Stel jou maat as jou gesondheids- en fiksheidsvennoot aan - dis soveel makliker om ’n gesonde lewenstyl te volg as...

Close