×

Vra vir Vicki

Vicki Sleet, Goeie Huishouding se leefstylredakteur, beantwoord jou huishoudelike vrae

 

 

V: My Victoriaanse huis se houtvloerplanke het ’n paar duike op van hoë hakke en swaar meubels. Is dit moontlik om dit self reg te maak?

 

A: Plaas eers ’n nat, warm lap oor die hele gedeelte sodat die hout kan swel. Laat die hout goed droog word en skuur dan liggies met fyn skuurpapier in die rigting van die grein. Wend houtvuller met ’n stopverfmessie aan en stryk dit glad totdat dit waterpas met die vloer is. Los dit vir ’n dag om droog te word. Skuur enige oneweredige deeltjies liggies af voordat jy rondom die opgevulde duike stofsuig en skoonmaak. Verf ’n bypassende kleur vernis oor en laat dit oornag droog word. Wend dan lakvernis aan en laat dit droog word.

NS: Is daar ’n klein skrapie op jou houtmeubels of -vloer? Vat ’n klein okkerneut, vryf oor die skraapmerk en kyk hoe dit verdwyn.

 

 

 

 

 

 

Hoe om taai prysplakkers te verwyder

 

V: “Hoe kan ek hipertaai prysplakkers van boeke en ander delikate artikels verwyder?”

A: Daardie plakkers pla my ook, veral wanneer ek die artikel as ’n geskenk wil gee! Gebruik ’n haardroër om warm lug op die plakker te blaas. Sodra die onderliggende kleefmiddel versag het, behoort die plakker maklik af te kom. Jy kan ook jou strykyster op die laagste verstelling gebruik. Plaas ’n stuk foelie oor die plakker en stryk daaroor. Jy behoort die plakker dan stadig te kan aftrek. (Moet dit nie probeer met boeke wat met materiaal of tekstielstof oorgetrek is nie.) Vir ’n kitsoplossing gebruik Goo Gone All Purpose Cleaner (R60, www.googone.co.za).

 

 

 

 

Plaag in die koskas!

 

V: ’n Plaag kalanders het my kombuis oorgeneem! Ek weet nie hoe om van hulle ontslae te raak, hoe om hulle dood te maak en te keer dat hulle terugkeer nie, of hoe om die klomp wat reeds my kos oorgeneem het te verdryf nie. Dis angswekkend hoeveel kos ek al moes weggooi!

 

A: Jy sal eerstens al die besmette kos moet weggooi. Pak nou jou hele kruidenierskas uit en spuit (binne-in, onder en heel agter as jy daar kan bykom) met ’n geskikte insekdoder voordat jy die deur vir ’n paar uur toemaak. Hierna sal jy die hele kas met warm water moet uitwas. Vryf dit droog en vee dit weer met witasyn af. (Krap die krake tussen die rak en die kante van die kas met ’n peuselstokkie skoon.) Kalanders infiltreer jou spens via graanprodukte, wat noodsaaklik vir hul voortplanting is. My raad? Koop klein hoeveelhede kos, gebruik dit so gou moontlik en bêre dit in glashouers, want kalanders kan hul weg deur plastiek en karton grawe. Nog ’n truuk is om meel, boontjies en rys vir ’n week in die vrieskas te hou. Dit sal enige eiers wat moontlik in jou huis gekom het, doodmaak.

 

 

 

 

 

 

Q: “My vertroude ou bakplate lyk vuil in die hoekies en maak nie saak hoe hard ek skrop nie, ek kry dit nie uit nie. Enige idees?

 

A: Hier’s ’n wenk wat regtig werk. Tap die wasbak vol baie warm water en voeg twee eetlepels wasgoedversagmiddel by voordat jy jou bakplate daarin sit. Laat vir ’n halfuur week. Gebruik dan ’n tandeborsel of ’n skuursponsie en werk aan die opgeboude vuilheid – dit behoort maklik los te kom. As die wasbak nie groot genoeg is vir die hele plaat nie, maak ’n pasta aan deur ’n koppie warm water en die versagmiddel te gebruik en smeer dit goed in die hoeke in. Laat vir 15 minute staan, skrop en spoel goed af.

 

 

 

 

 

V: “My geëlektroplateerde-nikkelsilwer-eetgerei (EPNS) het ons gesin lank gehou, maar lyk nou ná jare se gebruik bepaald nie meer goed nie. Is daar ’n plek wat my messe en vurke weer tot hul volle glorie kan herstel?”

 

A: EPNS-eetgerei is by verre van die beste gehalte eetgerei wat daar is en as ’n mens dit mooi oppas, kan dit maklik familie-erfstukke word. Die maatskappy wat jy moet kontak, is Lusinco Electroplating in Kaapstad. Dit bied ook ’n diens aan mense wat elders in die land woon – jy kan jou artikels na hulle koerier om dit weer elektries te laat plateer.

 

 

 

 

 

V: “Die kaste in my huis het ’n aaklige mufreuk. Die kaste se kosyne voel egter nie klam nie. Ek het al verskillende soorte supermarkprodukte probeer, maar niks wil help nie.”

 

A: Dis gewoonlik wys om die oorsaak van die probleem te soek. Probeer dus om aan die agterkant van die kas te kyk of die muur nie dalk klam is nie. Sit intussen ’n klein bakkie koeksoda in die kas. Dit behoort die reuk binne ’n dag of twee te absorbeer. AirScents het ook ’n fantastiese produk op die mark. Dit word Moisture Absorber genoem en dit help om vog en skimmel te absorbeer en kan van muwwerige reuke ontslae raak. Dit hou vir tot 60 dae.

 

 

 

 

 

V: “Ek doen graag handwerk en nou sit daar hardnekkige gomspatsels op van my klere. Hoe kry ek dit uit?”

 

A: Vir handwerkgom met ’n waterbasis moet jy die gom eers sagmaak deur óf petroleumjellie bo-oor óf ’n waterlose handreiniger in die vlek te vryf. Vou dan sowat vier stroke kombuispapier totdat jy ’n stapel van 1 cm dik het wat groot genoeg is om die vlek te bedek. Deurdrenk die stapel met warm water, plaas dit vir minstens ’n uur lank bo-op die gomvlek of totdat die gom begin sag raak. Skraap dit dan versigtig af.

 

 

 

 

 

V: “Ek het gehoor rekenaartoetsborde is ’n teelaarde vir kieme. Is dit waar?” – Anthea Gardener, Berea

 

A: Anthea, ek wil jou nie bangpraat nie,maar dis eintlik sagkens gestel! Skakel eers jou rekenaar af en sit die toetsbord op koerantpapier neer voordat jy dit begin skoonmaak. Keer dit onderstebo en skud al die krummels en ander gemorsies uit wat binne-in kon versamel het. Vat dan ’n blikkie met saamgeperste lug (dis by hardeware- en rekenaarwinkels te kry) en blaas soveel moontlik van die oorblywende stof uit. Maak hierna ’n lap klam (nie deurnat nie) met water en ’n matige wasmiddel en vee die onderskeie sleutels af. Dit kan gewoonlik maklik uitgehaal word, wat baie help as jy onder die sleutels wil skoonvee. Maar neem eers ’n foto sodat jy die sleutels weer in die regte volgorde kan terugsit!

 

 

 

 

 

V: “Ek het ’n romp en hemp wat al ’n paar maande in ’n ritssluiter se tande vassit, en het geen idee hoe om die kledingstukke van mekaar los te kry sonder om die fyn materiaal te beskadig nie. Help!”

 

A: Jy het ’n sagte loodpotlood en ’n bietjie geduld nodig. Vryf liggies met die punt van die potlood oor die gedeelte van die ritssluiter onder die haakplek en trek dan die ritssluiter stadig af. Herhaal totdat jy klaar is met die hele ritssluiter en die hemp losgekom het. Weens die loodneerslag daarop sal jy dalk die klere moet was.

 

 

 

 

 

V: “Ek het ’n broek wat vreeslik uitgerek is. Is daar ’n manier om dit te krimp sonder om na ’n kleremaker toe te gaan?”

 

A: Indien jou broek van 100% katoen is en nie vooraf gekrimp is nie (ondersoek die etiket), kan ’n warm was gevolg deur ’n sessie in die warmste siklus van die tuimeldroër werk.

Hou in gedagte dat dit wel in lengte én in wydte sal krimp.

Jy sal die proses dalk moet herhaal om dit perfek vir jou grootte te kry.

 

 

 

 

V: “Ons het in ’n Victoriaanse huis ingetrek wat opknapwerk nodig het. Ek sou graag die aaklige badkamervloere wou vervang, maar ek hou nie van teëls nie en soek iets wat die houtvloere in die res van die huis sal komplementeer. Enige idees?”

 

A: Ek het met die span by Belgotex gesels en hulle het hul Fairmount Luxury Vinyl Tiles voorgestel – dit lyk soos hout, maar is sonder die uitdagings wat ’n régte houtoppervlak in badkamers en kombuise verg. Die beste nuus? Jy kan dié “planke” met die tong-en-groefontwerp sélf installeer, solank as wat die oppervlak daaronder glad en egalig is. Besoek www.belgotex.co.za.

 

 

 

 

 

V: “Is daar ’n vinnige oplossing om van daardie aaklige muf reuk in skoon klere ontslae te raak?”

A: Ons almal ken dit maar te goed – daardie oomblik wat jy ’n hemp aantrek en dadelik besef dit moes effens klam gewees het toe jy dit in die kas gebêre het. Ja, dáárdie reuk. Jy het ’n blitsige oplossing nodig. Spuit die kledingstuk vinnig met ’n sproeimiddel vir linne (met ’n bietjie water verdun) en gooi dit in die tuimeldroër teen ’n lae hittegraad terwyl jy jou grimering doen. Wanneer jy klaar is, behoort dit weer lekker te ruik.

 

 

 

 

V: Ons het 18 maande gelede verhuis en kom agter dat ons weekliks een of twee gloeilampe moet vervang. Dis ’n duur storie! Hoe kan ek gloeilampe langer laat hou en elektrisiteit spaar?

 

A: Ek het ’n bietjie navorsing daaroor gedoen, en die volgende wenke werk.

 

  • Vervang waar moontlik gewone gloeilampe deur LED-alternatiewe. Dis duurder, maar dit hou heelwat langer.
  • Maak seker dat die watt-verbruik van die passtuk en die gloeilamp dieselfde is – as die gloeilamp se watt-verbruik te hoog is, sal jy meer krag verbruik.
  • Oorweeg dit om uitdoofskakelaars te laat installeer, want minder lig beteken minder energie en
’n laer rekening van Eskom.

 

 

 

 

 

RAAK VIR ALTYD VAN KERRIEVLEKKE ONTSLAE

 

Q: “Daar is kerrievlekke op een van my gunsteling-tafeldoeke. Kan ek dit red?”

 

A: Kerrievlekke is baie berug, maar dit kán met gliserien verwyder word. Vryf ’n paar druppels daarvan met jou vinger in die vlek in en los dit vir ’n paar minute só. Spoel dit met koue water af en was dit daarna met die warmste water en die soort bleikmiddel wat die geskikste vir die soort materiaal is.

 

 

HOE OM PRESTIK-KOLLE VAN MURE TE VERWYDER

 

V: “Ek wil baie graag weet hoe ek Prestik-kolle van my mure kan verwyder sonder om die mure oor te verf.”

 

A: Ek het ’n bietjie met Riaan 
du Plessis van Jack’s Paint & Hardware (www.jackspaint.co.za) gesels en hy het aan my verduidelik dat suikerseep die veiligste skoonmaakmiddel met die minste skuuraksie is om bo-oor verf te gebruik. “Jy kan suikerseep in ’n vloeibare formaat (wat met water verdun óf onverdun gebruik kan word) of in ’n poeier koop,” sê hy. “Die poeier moet in louwarm water opgelos word. Die muur moet nadat dit met die suikerseep behandel is, gewas of met skoon water afgespoel word om te voorkom dat enige seepneerslag op die muur agterbly.”

 

 

HOE OM DOWWE EETGEREI WEER TE LAAT BLINK

 

V: “My teelepels het hul glans en sprankel verloor. Hoe laat ek dit weer so goed soos nuut lyk?”

 

A: Die seepneerslag wat met verloop van tyd op eetgerei agterbly wanneer dit in ’n skottelgoedwasser gewas word, is die sondaar wat messe, vurke en lepels se glans laat verdof. Goeie ou koeksoda kom weer tot ons redding. Voer ’n bakplaat met foelie uit, gooi water in tot sowat 6 cm diep, asook 1 teelepel koeksoda, en gooi jou teelepels daarin. Laat dit vir 10 minute staan. Spoel dit dan af, laat dit natuurlik droog word en bewonder jou blinknuwe eetgerei.

 

 

HOE OM GLASITEMS VAN MEKAAR LOS TE MAAK

 

V. “Ek het twee glasvase wat al maande lank inmekaar vassit en geen seep ter wêreld kan die vase van mekaar los kry nie.”

 

A. Wanneer twee houers van dieselfde vorm en grootte in mekaar vassit, is dit dikwels onmoontlik om hulle van mekaar los te kry sonder enige (breek)skade. Vul die boonste glasvaas met ys en laat staan dit vir ’n paar minute. Plaas dan die onderste glasvaas in ’n wasbak vol warm water. Die temperatuurverskil behoort inkrimping en uitsetting te veroorsaak – genoeg sodat jy die twee glasvase uitmekaar kan haal.

 

 

HOE OM TAAI PLAKKERS NETJIES AF TE HAAL

 

V. “My dogter is nou te groot vir die Barbie-plakkers wat oral op haar kamerdeur geplak is. Ons het dit afgehaal, maar die taai merke wat agterbly, is regtig nie mooi nie. Help!”

 

A. Daar is ’n paar huishoudelike produkte wat jy met veiligheid doeltreffend kan gebruik. Brasso werk – smeer dit eenvoudig oor die taai gedeelte, laat dit droog word en vryf dit af – die taai merke behoort dan maklik af te kom. Probeer ook benseen (beskikbaar by hardewarewinkels) of kyk uit na die Label Lift-etiket in jou plaaslike supermark – ek en my man het dit gebruik om al die etikette van die glase wat ons as trougeskenk gekry het te verwyder en dit werk soos ”n droom.

 

KITSMANIER OM HALSSNOERE TE ONTKNOOP

 

V. “Soos my versameling halssnoere en krale aangroei, raak dit ’n al hoe groter deurmekaarspul vol ineengestrengelde knope. is daar ’n vinnige oplossing om van die knope ontslae te raak?”

 

A. Ek hoor jou – halssnoere vol knope versuur my lewe net so! Gebruik ’n speld om die knope genoeg los te torring sodat jy dit kan losmaak. As dit regtig nie wil werk nie, lê dit neer op ’n harde, nie-poreuse oppervlak (soos ’n keramiekbord of glasblad) en giet ’n paar druppels baba- of mineraalolie op ’n kettinkie. Begin dan weer met ’n speld te torring. Hang jou nekgoed in die toekoms aan ’n rakkie met hakies. (’n Vassteekbord met stewige speldjies sal ook werk.)

 

 

Hoe om jou vloere te laat blink

 

Ons oumas het klaargekom met wat hulle gehad het en so baie van hul boererate en huishoudelike wenke het uitstekend gewerk. Ons vloere is donkerbruin gebeits en ná weke van gedurige skoonmaak hou hulle nie meer die blink kant bo nie. Die oplossing vir vaal vloere? Gooi net vier eetlepels bruin asyn in die waswater en ’n vegie met ’n sagte lap ná die tyd sal hulle weer laat blink.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Verwyder gesmelte plastiek uit jou oond

Het jy die knoffelbrood in sy omhulsel gelos? Lees hier hoe om maklik van ’n gesmelte gemors op jou oondrakke...

Close