×
Skakel na Engels

Vra ’n kenner van die kuns …

Ons antwoord al jou ontwerp-, versier- en kunsvrae hier:

 

 

Marcia Margolius, stigter van South African Décor & Design: The Buyers’ Guide (Sadecor)

 

V: “ ’n Paar jaar gelede het ek enige iets grys gekoop waarop ek my hande kon lê, en nou kan ek dit nie meer in die oë kyk nie. Hoe kan ek ’n paar veranderings aanbring sonder om te veel geld te bestee?”

 

A: Grys is ’n sjiek, neutrale skakering wat by bykans enige iets pas, maar jy moet ’n bietjie daarmee rondspeel om die regte gevoel te kry. Gee dit ’n hupstoot met kleure soos turkoois, geel, groen, rooi en selfs pienk. Wees kreatief en eksperimenteer met veelsydige kombinasies of aksentstukke in verskillende kleure, patrone en teksture.

 

 

 

Hoe om te keer dat grys mure eentonig lyk

 

 

 

Grys is ’n lekker neutrale keuse vir mure. Die vryskut-dekorstilis Kim Bougaardt gee raad om hoe om te keer dat dit te donker lyk

 

V: “Dit lyk asof grys mure die nuwe wit is. Die versoeking is groot om dit te probeer, maar ek’s bekommerd oor ’n te somber eindresultaat. Hoe kan ek keer dat my grys eentonig lyk?”

 

A: Grys is ’n ideale neutrale kleur en verrassend veelsydig vir binneversiering. Dit hoef nie donker te wees nie: Grys verf met wit ondertone is ’n veilige keuse. Bleekgrys weerkaats natuurlike lig en verleen ’n meer gesofistikeerde afwerking as naaswit. Skep ’n subtiele kontras met spierwit op plafonne en vir afwerking, en beklemtoon met dekor en materiaal in sorbet-pastelle, helderwit en geel. Plascon se Mandarin Tusk (GR-Y04) is een van my gunstelinge.

– Kim Bougaardt, vryskut-dekorstilis

 

 

 

Slim, ordelike vertoonareas

 

 

 

Begin die vertoonareas in jou huis soos een groot kraaines lyk? Tanya Sturgeon, ’n binneversierder en die eienaar van T&Co, gee haar ekspert-advies oor hoe om vertoonareas netjies te hou

 

V: “Ek hou van ornamente en oulike versamelaarsitems, maar my huis begin wanordelik voel. Enige raad vir
die uitstal van items?”

 

A: Versamelings is fantasties, want dit skep visuele drama, maar dis belangrik om gereeld deur al die warboel te sif en dan net jou geliefkoosde artikels te hou of dit na ander plekke in jou huis rond te skuif vir ’n totaal ander voorkoms. Rangskik goed wat by mekaar pas (’n keramiekversameling in dieselfde kleur of skulpe) of kombineer temas (al jou gunsteling-sneeukoepels) om die chaos te beperk. Baken ook sekere plekke soos ’n gangtafeltjie af vir uitstallings en hou ander oppervlakke skoon sodat dit nie soos ’n kraaines lyk nie.

 

– Tanya Sturgeon, binneversierder en eienaar van T&Co (www.tandco.co.za)

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief