×
Skakel na Engels

Vinnige oplossings vir algemene skoonheidsfoute

Jy is reeds haastig en nou het dít ook nog gemors/gebeur/gevlek! Probeer hierdie tydbesparende wenke
algemene skoonheidsfoute

Soggens kan so gejaagd wees en wanneer ’n mens haastig is, kan jy maklik ’n skoonheidsblaps of twee maak. Maar moenie paniekerig raak nie – amper alle grimeerfoute kan in ’n japtrap reggestel word. Hier is ’n paar vinnige en maklike wenke om jou voorkoms te red:

Wit deodorantmerke op jou hemp

Trek jou hemp uit en vryf die materiaal teen mekaar waar die merke is om van enige oortollige wit poeier ontslae te raak. Of gebruik ’n baba- of gesiglappie om die poeier af te vee. Vermy dit in die toekoms deur eerder onsigbare deodorant te gebruik.

Te veel parfuum

As jy per ongeluk ’n bietjie baie parfuum aangespuit het, wend eenvoudig ’n geurlose room aan dié dele aan waar jy die reukwater gespuit het. Vee enige oortollige parfuum af vir ’n subtieler geur.

Te veel blosser op jou wange

Oeps! Niemand wil lyk of hulle in die sirkus hoort nie! Versag die kleur deur deursigtige poeier met ’n kwas daaroor te vee en gebruik dan ’n grimeersponsie om ’n bietjie vloeibare onderlaag bo-oor aan te wend.

Streperige selfverbruiner

Meng ’n bietjie suurlemoensap by jou lyfskropmiddel en skrop jou vel liggies om die selfverbruiningsmiddel te verwyder. Om dié probleem in die toekoms te vermy, skrop ook jou vel vóórdat jy die selfverbruiner aanwend.

Jy het aan ’n puisie gedruk

Soms kan ons net nie ’n puisie uitlos nie, maar dit lyk aaklig as jy eers daaraan gedruk het. Druk ’n ysblokkie op die puisie vas om die swelling te verminder en bedek dit met verbloemer om van enige rooiheid ontslae te raak.

Olierige hare van te veel haarprodukte

Probeer dié tydelike oplossing totdat jy weer kans kry om jou hare te was: Wend ’n absorberende poeier soos mielieblom of talkpoeier aan en kam dit deur jou hare. Dit sal enige oortollige olie absorbeer totdat jy tyd het om jou hare te was.

FOTO: iStock/ValuaVitaly

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Skoonheidskure uit jou kombuis

Jou kombuiskaste bevat dalk die oplossing vir jou skoonheidskwale

Close