×
Skakel na Engels

Vier haarstyle wat die jare sal laat waai

Laat staan die skalpel en soek eerder ’n skêr: dié vier haarstyle sal lengtes van jou ouderdom afsny.

Jessica Gillin, ’n haarstilis vir die sterre, deel haar professionele geheime en gee deskundige raad oor hoe om ’n verjongende haarstyl te vind en vir jóú te laat werk.

Klassieke bob

Hoekom dit vleiend is
Dit lig jou gesig onmiddellik deur die aandag in ’n diagonale lyn van jou ken na jou nekholte te lei. ‘Die hoek skep die illusie van wangbene wat gelig is en ’n hoër kakebeen, wat jou bob ’n goeie keuse maak as jou gesig afgerem lyk en jou vel nie meer so ferm is nie,’ sê Gillin.

Wat om te vermy
’n Té kort styl. Die snit moenie korter as jou haarlyn agter wees nie, want die styl kan slordig lyk as fyn babahaartjies begin uitgroei. As jy growwer gebou is of ’n ronde gesig het, moet jy seker maak die bob is nie rond gesny nie. ‘’n Stelselmatige verandering in lengte sal jou kakebeenlyn help definieer,’ sê Gillin.

Gepunte lae

Hoekom dit vleiend is
’n Verskeidenheid kort lae bied volheid en volume, wat dit ’n goeie haarstyl maak vir mense wie se hare yler aan die kante en bo is. Lang hare lê plat en wys die kopvel, terwyl kort, veertjieagtige lae dun hare wegsteek, sê Gillin. Die styl laat jou gesig ook breër lyk en speel klaar met yl, dun haartjies.

Wat om te vermy
Die verkeerde verhouding.  ‘As die lae te kort aan die kante en te lank in die nek is, sal die styl outyds lyk. Voorkom dié ‘verouderde rockster-voorkoms’ deur die kante nie meer as 1,5 cm korter as die agterkant te sny nie en in dieselfde eweredige lengteverhouding te hou. Dieselfde geld vir die res van jou kop.

Lang lae

Hoekom dit vleiend is

Lang hare lyk jeugdig, maar dié smaakvolle snit laat jou nie soos ’n ‘aspirant-tiener’ lyk nie, sê Gillin. Dit lei die aandag na jou sleutelbeen toe, wat ’n vleiende hoek vir ’n vrou van enige ouderdom is. Die sagte lae aan die voorkant maak jou gesig ‘oop’ en laat die styl ook moderner lyk as net ’n regaf haarsnit.

Wat om te vermy
Gesnyde lae dwars oor veral naby jou gesig. Dit laat die voorkant van jou gesig bonkig lyk wat ’n onvleiende effek (amper soos ’n omgekeerde sampioen) sal skep, sê Gillin. Waak oor die lengte – ’n bietjie oor jou kraag is goed, maar enigiets langer laat jou ouer lyk.

’n Sagte kuif

Hoekom dit vleiend is
’n Kuif verbloem nie net die plooie op jou voorkop nie, maar ‘deur dit na die kant toe te borsel, trek jy ook die aandag na die buitekant van jou wangbene toe sodat jou gesig oper vertoon met die illusie van ’n jeugdige volheid,’ sê Gillin. (Bonus: Dié soort kuif kan by enige van die drie ander style gedra word.)

Wat om te vermy
’n Stomp, swaar kuif wat dwarsoor jou voorkop gesny is. ‘Dié kuif trek ’n harde lyn oor jou voorkop wat te strak lyk en jare by jou ouderdom sal voeg in plaas van om weg te neem,’ verduidelik Gillin. Wees versigtig om jou kuif nie te kort te dra nie: ’n eenvoudige swoop se kortste punt moet onder jou wenkbroue wees.

Lees meer oor skoonheidstruuks waarmee jy die tekens van veroudering kan beveg.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Always Home van Game

Skerp genoeg vir enige kombuistakie

Close