×
Skakel na Engels

Vernaamste 4 optredes wat tot egskeiding kan lei

Volgens navorsing gaan jy jou huwelik vernietig as jy aanhou om hierdie dinge te doen. Deur Arricca Sansone.
egskeiding

Enige iemand wat vir langer as ’n dag getroud was, weet dat die huwelik sy hoogte- en laagtepunte het. Maar navorsing deur die Gottman-instituut in die VSA het getoon dat sekere negatiewe optredes ’n groter kans as ander het om op ’n egskeiding uit te loop.

“Die basis van elke goeie verhouding is sterk wedersydse vertroue,” sê dr. Michael McNulty, ’n Gottman-meesterafrigter aan die Gottman-instituut en die hoof van die Chicago Relationship Center in die VSA. “Die paartjie moet veilig by mekaar voel wanneer dit by die onafwendbare verskille kom wat tussen mense ontstaan. Alle verhoudings het konflik, maar die kruks lê by die manier waarop julle dit hanteer en tot ’n regverdige vergelyk kan kom.”

Hier is die vernaamste optredes wat geneig is om huwelike te vernietig—en wat julle kan doen om dit in die kiem te smoor:

1. Minagting

Dit is bo alle twyfel die ergste van die ergste gedrag. “Minagting is die grootste voorspeller van egskeiding,” sê  Sinead Smyth, LMFT, ’n Gottman-meesterafrigtigter aan die Gottman-instituut en terapeut by die East Bay Relationship Center in Kalifornië in die VSA.

“Minagting word omskryf as enige iets wat jou maat verkleineer of jou meerderwaardigheid op een of ander manier aan die persoon oordra.” Dit gebeur wanneer iemand sarkasme gebruik, uit die hoogte praat (“Natuurlik sal jy so sê” of: “Jy is net soos jou pa”), die ander persoon spot, of nieverbale tekens gebruik soos om die oë te rol of te smaal. 

Lees: “8 waardevolle lesse wat ek tydens my egskeiding geleer het”

Teenmiddel: “Gee ’n tree terug en spreek jou eie behoeftes uit. Waak daarteen om die ander persoon aan te val of te verkleineer,” sê Smyth. Beskou dit eerder as ’n manier om ’n oplossing te bereik en sê iets soos: “Ek is ongelukkig omdat ons al voorheen hieroor gepraat het. Ons moet ’n manier kry om die huis skoner te hou.” 

2. Kritiek

Ons almal het slegte dae wanneer ons iesegrimmig of kortaf met ons geliefdes is, maar opmerkings wat jou maat laat voel dat hy of sy karakterfoute het, is ’n groot taboe, sê McNulty.

Om absolutes soos die woorde “nooit” en “altyd” te gebruik, soos in: “Jy is nooit betyds nie” of: “Jy vergeet altyd om die asblik uit te neem” is kritiese opmerkings (wat in elk geval waarskynlik nie heeltemal waar is nie).

Teenmiddel: “Wanneer jy ’n ruimte met ’n ander persoon deel, gaan daar dinge wees wat jou pla,” sê McNulty. “Ons het almal dinge wat vir ons belangrik is, maar dit gaan oor jou benadering tot die klagte. As jy die gesprek negatief begin, gaan dit negatief eindig.”

Probeer jou klagte anders verwoord deur ’n sagter stelling te gebruik wat met “ek” in plaas van “jy” begin. Sê byvoorbeeld iets soos: “Ek raak senuweeagtig/omgekrap/verleë wanneer jy laat is. Kan jy my bel of ’n SMS stuur sodat ek my nie bekommer nie?” of: “Ek voel gefrustreerd wanneer die asblik oorvol raak. Kan jy my daarmee help?”

4. Weiering om te kommunikeer

Dis om van gek te word wanneer jy met jou maat probeer praat en hy of sy jou uitsny – deur af te kyk, weg te kyk, nie te reageer nie.

Maar die rede vir hierdie ontduiking is gewoonlik dat die persoon oorweldig voel deur die onderwerp of wat jy sê. Jou maat weet nie wat om te doen of hoe om te reageer nie; dus sluit hy hom van jou af.

Teenmiddel: Dit help om te besef dat die ander persoon oorweldig voel. In hierdie situasie is dit in die haak as jy of jou maat vra dat julle ’n blaaskans neem, sê Smyth.

As jy die een is wat oorweldig is, sê iets soos “Ek wil graag hoor wat jy sê, maar ek het so pas by die deur ingestap,” of: “Ek is op die oomblik te ontsteld. Kan ons ’n bietjie later praat?” Of as jy agterkom dat jou maat aangeval voel, kan jy aanbied dat julle later na die onderwerp terugkeer.

“Die idee is om die negatiewe gedrag te idenitifiseer wat egskeiding bevorder en om verskeie hulpmiddels as paartjie te gebruik om dit teen te werk,” sê Smyth.

Uit: Woman’s Day 

FOTO: iStock/BraunS

LEES OOK:

15 tekens dat julle dalk verhoudingsberading nodig het

Hoe om te weet of iemand vir jou jok

Praat só om konflik te vermy

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Verbeter jou verhouding met dié twee vrae

En dis nie so eenvoudig soos dit klink nie. Deur Paisley Gilmour

Close