×
Skakel na Engels

Vermy hierdie 9 selfdoen-gesigsbehandelings

Soms is gekoopte produkte beter as tuisgemaakte produkte

As jy selfdoen-skoonheidswenke google, moet jy liefs versigtig wees – net omdat iets heeltemal natuurlik is, beteken nie noodwendig dat dit goed is wanneer dit by velsorg kom nie. ’n Giftige plant is tog so organies moontlik? Onthou, net omdat jy dit aan ’n boom sien groei of dit kan eet, beteken dit nie dat jy dit noodwendig op jou gesig kan gebruik nie.

  1. Bly weg: Bergiep (witch hazel) as saamtrekmiddel

Bergiep is afkomstig van die bas en blare van ’n boom. Dit is ’n natuurlike anti-inflammatoriese middel en word gereeld as die hoofbestanddeel in tuisgemaakte gesigverfrissers gebruik. Wat die meeste mense egter nie weet nie, is dat bergiep gewoonlik in alkohol gedistilleer word of daarin gepreserveer word en dit kan letterlik die bevogtigende laag van die vel laat skeur en dit uitdroog en laat afskilfer. Die natuurlike geur hiervan is eugeensuur, wat ’n sterk prikkelstof is.

  1. Bly weg: Suurlemoene as ’n bleikmiddel vir jou vel

Los. Die. Suurlemoene. Ek herhaal: Los die suurlemoene! Hierdie sitrusvrug is om vir die een of ander rede baie gewild onder selfdoen-skoonheidsghoeroes, maar die meeste dermatoloë se nagmerrie. Suurlemoen is veral daarvoor bekend dat dit Moeder Natuur se bleikmiddel is. Suurlemoene het ’n pH-vlak van sowat 2, wat die vel se natuurlike pH-vlak van 4 tot 5 behoorlik kan versteur. Dis ook hopeloos te suurvormend en kan die vel se beskermingslaag letterlik wegvreet. Wat nog erger is, is dat suurlemoene die vel sensitiewer vir die son maak, wat blase of verkleuring op die vel kan veroorsaak wat vir maande só kan bly. Hou maar die suurlemoen vir jou tee, nie jou gesig nie.

  1. Bly weg: Mayonnaise as ’n gesigmasker

Mayonnaise smaak dalk vorentoe op jou hamtoebroodjie, maar dis nie so goed vir jou vel nie. “ ’n Mayonnaise-masker bestaan hoofsaaklik uit olie en vet en kan ’n gesig vol aknee tot gevolg hê omdat dit die porieë verstop en velbakterieë laat groei,” waarsku dr. Rebecca Tung, ’n dermatoloog aan die Loyola-universiteit in die VSA. Dit is egter ’n goeie bevogtiger vir hare en beslis ’n oplossing vir droë haarpunte, maar dit veroorsaak ’n olierige gedoente op die vel en skep die perfekte broeiplek vir puisies.

  1. Bly weg: Eiers as ’n saamtrekmiddel

Dit is waar dat die proteïen in eierwitte beslis die gelaatskleur en die vel se elastisiteit verbeter. Spa’s wêreldwyd bied gesigsbehandelings met eierwit, want dit werk nie net sagkens nie, maar kan ook as ’n saamtrekmiddel dien, jou vel laat gloei en fyn plooitjies verminder. Wees egter versigtig wanneer jy dit tuis doen. Eierwit kan salmonella, ’n bakterie wat ernstige voedselvergiftiging veroorsaak, bevat. As jy dit per ongeluk inneem wanneer jy dit aanwend, kan jy met ’n goor maag opeindig

  1. Bly weg: Asyn as ’n reukweerder

Baie mense is huiwerig om gekoopte reukweerder te gebruik weens die moontlike verband tussen aluminiumchloried en borskanker. Alhoewel daar nie definitiewe navorsing is om dit te bewys nie, het tuisgemaakte reukweerders gewilder geraak. Appelasyn word meestal as die basis gebruik omdat dit klaarspeel met gis en bakterieë wat slegte reuke veroorsaak en omdat dit slegte reuke absorbeer/neutraliseer.

Alhoewel dit nie sleg vir die vel is nie, is dit nie juis prakties nie. Asyn ruik nie juis lekker nie en ’n mens kan dit nie wegsteek nie. Dit sal nie eens help om dit met jou geliefkoosde essensiële olie te probeer verdoesel nie. Wie wil dan nou in elk geval soos ’n laventelslaai ruik? Goeiste, nee. En volgens dr. Tung keer die asyn nie juis sweet nie.

  1. Bly weg: Kaneel as ’n gesigskropmiddel

Dit smaak dalk heerlik in tuisgebak, maar dit kan jou gesig behoorlik verniel. Ja, ons praat van irritasie, blase en selfs brandwonde in sommige gevalle! Jy kan net sowel peper gebruik – jy sal dieselfde resultate kry.

  1. Bly weg: Peroksied op die vel

Dit is almal se staatmakerproduk om skrape en snye op die vel te ontsmet. En alhoewel dit goed werk, behoort jy dit nie gereeld te gebruik nie. Dit is eintlik toksies op die vel en as jy dit aanhou aanwend, sal jou wond en die omliggende vel nie gesond word nie.

  1. Bly weg: Koeksoda as ’n afskilferaar

Daar is talle huishoudelike produkte wat pleks van duur afskilferaars ingespan kan word. (Jy kan byvoorbeeld suiker met ’n bietjie water meng om jou vel te laat gloei.) Maar hoewel koeksoda in verskeie selfdoen-resepte aanlyn aanlyn aanbeveel word, is dit nie ’n goeie idee nie. Die basiese pH-vlak is baie hoër as dié van ’n gesonde vel, sê dr. Annie Chiu, ’n dermatoloog by die Cedars-Sinai- mediese sentrum in die VSA. Hou maar die koeksoda in die yskas en weg van jou gesig – dit kan ’n uitslag op jou vel veroorsaak.

  1. Bly weg: Tandepasta op puisies

Tandepasta is al ’n ou raat wanneer dit by tuisbehandeling vir puisies kom. Maar die hoofbestanddele – peroksied en koeksoda (gaan lees weer nommers 7 en 8!) – is nie so goed vir die vel nie. En selfs al kan dit tydelik klaarspeel met inflammasie, kan dit later irritasie veroorsaak. Of nog erger, jy kan selfs merke en verkleuring oorhou nadat die aknee verdwyn het, sê dr. Adrienne Stewart, ’n dermatoloog in Denver, Colorado in die VSA.

 

Die gevolgtrekking

Moet nooit ’n selfdoen-behandeling probeer sonder om jou huiswerk te doen nie. Al blyk die bestanddeel skadeloos en natuurlik te wees, kan die verkeerde kombinasie lewenslange skade veroorsaak. Dis in die haak om gesigbehandelings tuis te probeer – mits jy jou resepte by ’n betroubare bron, soos ’n dermatoloog, kry.

 

 

Hierdie artikel het oorspronklik in Good Housekeeping in die VSA verskyn

 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Naweekpret vir die hele gesin

As jy in Johannesburg woon, neem jou kinders hierdie naweek saam na die Jozi Book Fair. Toegang is gratis! Daar...

Close