×
Skakel na Engels

Verleng jou rusbank se leeftyd

Met al die bedrywighede in jou leefarea is ʼn sofa selde ʼn rusbank. Volg dié 10 wenke om te verseker dat jou dure rusbank jare lank hou

Shot of a young woman using her cellphone while lying on the sofa at homehttp://195.154.178.81/DATA/i_collage/pu/shoots/799607.jpg

Indien jy goed daarna omsien, is ʼn sitkamerstel ʼn belegging wat jou dekades lank kan hou.

Reuben Grimsell van Gommagomma verskaf 10 nuttige wenke oor hoe om die leeftyd van jou geliefde sofa te verleng:

1. Voorkoming is beter as regdokter

Moenie skoene, troeteldiere, skerp items of kos op jou rusbank toelaat nie. As aandete voor die TV deel van jou gesinsroetine is – gebruik skinkborde. Onthou, dit kos baie meer moeite om ʼn sofa skoon te maak as om dit in die eerste plek skoon te hou.

2. Pluk die stofsuier uit

Hoewel dit nie so sigbaar as byvoorbeeld op jou vensterbanke is nie, daal stof ook oor jou gestoffeerde meubels neer. Verleng jou sofa se lewe deur dit elke keer as jy die res van jou huis skoonmaak, te stofsuig.

3. Die regte skoonmaakmiddels

Gebruik ʼn skoon, droë doek om enige vloeistowwe onmiddellik te absorbeer. Let wel: raadpleeg jou meubelverskaffer voordat jy enige skoonmaakmiddels op jou sofa. Die verkeerde skoonmaakmiddel kan sommige vlekke net vererger.

4. Onsigbare beskerming 

Oorweeg dit om jou sitkamerstel met Masterguard (http://www.masterguardfabricprotection.co.za/) of een van sy generiese eweknieë te behandel. Hierdie vlekbestande behandelings behels dat ʼn onsigbare lagie op alle gestoffeerde meubelstukke aangewend word. Vra jou meubelwinkel of hulle die stoffeermateriaal waarmee jou sofa oorgetrek word, kan behandel voordat jy jou sofa huis toe neem.

5. Vermy sonskade

Direkte sonlig en selfs helder lig kan veroorsaak dat jou meubels se oortreksels bleik. Voorkom dit deur die verskillende stukke van jou sitkamerstel só te rangskik dat hulle so min as moontlik aan die son blootgestel word. As die uitleg van die kamer nie veel buigsaamheid toelaat nie, maak die gordyne of blindings bedags toe terwyl jy nie by die huis is nie.

6. Dis g’n klimraam nie

Jou sitkamerstel is ʼn waardevolle belegging en moet as sodanig behandel word. Moenie die kinders toelaat om op die rusbank te spring nie, en moet niemand toelaat om op jou sofa se armleunings te sit nie – dit plaas ekstra stremming op die struktuur.

7. Stoffering wat hou … en hou

Kies sterk, diensbare stoffering vir jou sitkamerstel. Materiaal met ʼn hoë draadtelling behoort langer te hou. (Draadtelling verwys na die aantal draadjies per vierkante meter materiaal. Hoe digter die materiaal geweef is, hoe langer sal dit hou.)

8. Die wonder van hout

As jou sofa met hout afgewerk is, is dit noodsaaklik dat dit versigtig skoongemaak word sodat jy nie die materiaalstoffering vlek nie.

9. Kies ʼn kleur

Sekere materiale en kleure is makliker om skoon te maak as ander, so dis belangrik om jou lewenstyl in ag te neem voordat jy ʼn sitkamerstel koop. Roomkleurige stoffering, byvoorbeeld, is nie die ideale keuse vir ʼn gesin met klein kinders of troeteldiere nie. In hierdie geval sou kunsleer meer prakties wees aangesien dit met ʼn klam lap afgevee kan word.

10. Vat jou goed en trek, Ferreira

Moenie jou rusbank laat seerkry as jy na ʼn nuwe huis trek nie. Lig dit van die basis af op pleks daarvan om dit aan die armleunings te dra. Draai dit in ʼn kombers of plastiek toe voordat dit op die vragmotor gelaai word. Vra die trekpersoneel om nie swaar items teen jou sofa staan te maak of daarop te laai nie.

Vir meer inligting, besoek www.gomma.co.za of skakel 032 439 3500 (vra vir verkope) om ʼn Gommagomma-kleinhandelaar naby jou te vind.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Advertensie-promosie: Hoe veilig is jou huis?

Beskerm jouself en jou gesin teen inbrekers deur gereeld hierdie lys met veiligheidswenke na te gaan

Close