×
Skakel na Engels

Verkeerde etikettering van produkte aangepak

Tussen ’n derde en die helfte van die produkte op ons rakke is na raming verkeerd geëtiketteer. Hoe kan jy dus seker weet dat ’n produk wat as “organies” geëtiketteer is, inderdaad organies is? ’n Nuwe inisiatief, Topic, se doel is om die verbruiker teen valse aansprake en verkeerde etikettering te beskerm

 

 

Topic, oftewel Testing of Products Initiated by Consumers, is ’n nuwe organisasie wat deur verbruikers gelei en gefinansier word. Hulle toets die geloofwaardigheid van natuurlike en organiese produkte en hul doel is om verbruikers teen valse aansprake en verkeerde etikettering te beskerm.

 

“Oor die afgelope twee jaar is in sporadiese studies deur universiteite oor die land heen bevind dat die verkeerde etikettering van verbruikersprodukte algemeen voorkom,” sê Peter Becker, ’n wetenskaplike en die woordvoerder vir Topic.

 

Ongelukkig het die meeste kleinhandelaars nie die hulpbronne of tyd om hul produkte te toets nie. En selfs die Wet op Verbruikersbeskerming is nie ’n afskrikmiddel vir vals of misleidende aansprake nie. Dit is omdat, afgesien van die sporadiese toetse deur universiteite vir akademiese doeleindes, daar geen regeringsliggaam is wat produkte sistematies toets om die verbruiker te beskerm nie. Topic is gestig om dié gaping te vul.

 

Topic het onafhanklike laboratoriums gekies wat bestanddele kan isoleer en addisionele toetse daarop uitvoer. Hulle sal ook besoeke aan fabrieke en plase bring om te verseker dat alle sertifisering en aansprake ondersoek word. Die resultate sal op hul webwerf gepubliseer word en aan geïnteresseerde verbruikers, kleinhandelaars en die media gestuur word.

 

Verbruikers kan Topic se webwerf besoek, skenkings vir toetsing doen en vra dat hul produkte getoets word. Topic kies ’n produk uit die genomineerdes en begin die proses.

 

Kontakbesonderhede

Geïnteresseerde verbruikers en kleinhandelaars kan op www.topic.co.za, Facebook (www.facebook.com/topicsa) en Twitter (@topic_sa) meer inligting kry.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Braai veilig

Vyf veiligheidswenke vir wanneer julle braai

Close