×
Skakel na Engels

Verhuis sonder sorge

Verhuis jy binnekort? Só haal jy die beslommernis uit ’n potensieel stresvolle situasie

African American male and female couple sitting on floor next to moving boxes relaxing.

PAK NOUGESET

• Dis nou tyd om sterk te staan oor daardie tweedehandse grassnyer wat jy al lankal wil laat regmaak of daardie stoel wat al jare lank na nuwe bekleedsel smag. Dis duur en tydmors om onnodige goed wat jy nie meer gebruik nie saam te trek – neem eerder die artikels na winkels soos Cash Crusaders of verkoop dit op Gumtree en verdien in die proses sommer ’n paar rand.

• Verhuis jy eers oor ses weke? Voorkom enige chaos op die nippertjie en begin nou al sorteer en pak. Goed wat jy nie elke dag gebruik nie, soos eetgerei en glasware, breekware vir spesiale geleenthede, ornamente, boeke, gereedskap, seisoenale klere en linne kan lank voor die verhuisingsdatum gepak word. Dit neem sowat vyf dae om ’n gemiddelde huis behoorlik op te pak.

Wenk: Pak boeke en swaarder artikels in kleiner bokse − pleks van groter bokse wat jou rug kan breek.

 

DINK BÍNNE DIE BOKS

• Verseker dat dinge glad verloop duer jou bokse duidelik te merk. Gee elke boks ’n nommer en skryf daarop in watter vertrek dit hoort en wat binne-in is (byvoorbeeld, ‘kombuis, potte en panne, boks 1 van 3’). Hou ’n oorspronklike kopie van dié lys byderhand.

Wenk: Hou een boks vir die eerste aand se noodsaaklikhede uit, soos seep, handdoeke, toiletpapier, skoonmaakprodukte en eet- en drinkware vir jul eerste aand se wegneemete.

• Ou bokse vir rekenaars of ander toebehore is baie stewiger as gewone kartonbokse en is daarom perfek vir swaar artikels. Jy kan ’n paar weke voor die trekdatum by plaaslike toebehore-handelaars inloer om te sien watter bokse hulle uitgooi.

• Dis dalk ’n versoeking, maar moenie die bokse en beskermende omhulsels waarin jy rekenaartoerusting gekoop het, weggooi nie. Dit beskerm jou kosbare tegnologiese toerusting wanneer jy na jou nuwe tuiste trek.

 

SPAAR JOU SENTE

• ’n Verhuising in die middel of teen die einde van die maand is altyd duurder as enige ander tyd. Onderhandel met jou verhuisingsmaatskappy vir die beste tariewe buite spitstye.

• Huur ’n maatskappy wat in jou gebied werk en dus nie duur reiskostes gaan byvoeg nie.

• Dring altyd op ’n kwotasie aan voordat jy verhuis.

 

VEILIGHEID EERSTE

• Maak seker dat jou huisinhoudversekering op datum is in geval van enige breekskade, lig jou versekeraar van die verhuising en jou nuwe adres in en maak seker jou huisinhoud is voldoende verseker.

• Laat die groter items aan die kenners oor (jy wil nie graag ’n rugwerwel hê wat uitglip nie). Sorg vir genoegsame vloerbedekking as jy gladde vloere het, want niemand moet hulself tydens die verhuising beseer nie. Maak seker dat jy enige potensiele gevare aan die verhuisingsmaatskappy uitwys voordat hulle die meubels en bokse begin laai.

 

DIERE EN KINDERS

• Jong kinders en troeteldiere verhuis nie maklik nie. Neem jou kinders na ’n familielid, vriendin of skool en boek jou hond of kat by ’n dierehotel in om die stres wat die verhuising vir hulle meebring te verminder. (Baie katte en honde reageer goed op die SentryHC good Behavior Calming Collar. Dis by veeartse beskikbaar en bevat feromone wat hul angsvlakke verlaag.)

 

’N NUWE ADRES

• Maak ’n lysie van al die instellings wat rekeninge na jou huisadres toe stuur (die selfoonstaat, munisipale rekening, ens.) en maak seker dat jy twee maande voor die tyd ’n kennisgewing oor jou nuwe adres uitstuur. ’n Uur of twee se administrasie vóór die verhuising sal jou later tyd en beslommernis spaar.

• Vooruitbespreking van die landlyn- en ADSL-installering ’n maand voor jy verhuis vergemaklik tegnologiese oorgang.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Advertensie-promosie: Verlig die stres van verhuising

Om te verhuis kan 'n stresvolle ondervinding wees, maar behoorlike beplanning en voorsorg kan jou help om die proses glad...

Close