×
Skakel na Engels

Velskete: Wat is milia en hoe raak jy daarvan ontslae?

Net nog ’n hobbeltjie tussen jou en ’n mooi vel
milia

Baie min van ons is geseënd met ’n vlekkelose vel. Die meeste vroue word een of ander tyd deur ’n velprobleem beproef, of dit nou aknee, rosacea of vergrote porieë is, en een taamlik algemene veltoestand wat baie vroue raak, is die ontwikkeling van milia.

Milia is klein wit of vleeskleurig knoppies wat op jou gesig kan verskyn, en kom voor wanneer klein velselletjies in sakkies onder die veloppervlak vasgekeer word. Dit bestaan uit keratien, dieselfde proteïen wat in ons naels en hare voorkom. Hierdie klein sists is nie seer nie, maar kan mense wat daardeur geraak word word selfbewus laat voel. Anders as puisies, kan hulle nie uitgedruk word nie en alhoewel hulle mettertyd op hulle eie weggaan, verdwyn hulle ook nie oornag nie.

Voorkoming is beter as genesing, en dit geld ook hierdie veltoestand. Voorkom milia deur velprodukte te gebruik wat retinoïede bevat. Dit bevorder sel-omset wat kan help voorkom dat jou porieë verstop raak en dit sal die velletjies makliker na die oppervlak bring. Ander natuurlike voorkomingsmiddels sluit in rooswater wat as ’n verfrisser (toner) gebruik kan word, of ’n gesigmasker van rou heuning. Albei bevat velgenesende eienskappe. 

Vir diegene wat reeds milia het, is daar steeds hoop. Afskilferingsprodukte wat melksuur en glikolsuur bevat, kan milia na die oppervlak help bring waar hulle kan uitkom. Tuisafskilferings (peels) kan dit ook voorkom, sowel as rome wat salisielsuur bevat. Vir ’n ernstige geval van milia raai ons jou aan om ’n dermatoloog te gaan sien aangesien hulle die milia met ’n klein lemmetjie kan uitdruk. Moet dit onder geen omstandighede tuis probeer doen nie! In die meeste gevalle is miliaknoppies klein en taamlik maklik om met grimering te verbloem, dus karring die meeste mense nie daaraan nie. As dit egter ’n probleem raak, ofskoon oppervlakkig, kan ’n besoek aan ’n velspesialis jou van dié knopperigheid help ontslae raak. 

Foto: iStock/vchal

LEES OOK:
3 geheime vir ’n mooi vel
4 algemene oorsake wat keer dat jou vel vlekkeloos en gesond is
5 oplossings vir ’n skurwe wintervel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Opknapwas: Wat is dit en is dit goed vir jou hare?

'n Sjampoelose was? Dis dalk presies wat jou hare nodig het.

Close