×
Skakel na Engels

Vasvra: Watter trourokstyl pas by jou persoonlikheid?

Om die perfekte trourok te kies is een van die belangrikste stylbesluite wat ’n vrou moet neem
trourokstyl

Ons deel ses wenke om jou te help om die proses so glad en stresvry as moontlik voor jou groot dag te maak. Doen dan ons vasvra om uit te vind watter trourokstyl die regte een vir jou is.

1. Doen jou navorsing 

Swerf op die internet om uit te vind van watter style jy hou of nie hou nie. Pinterest is ’n wonderlike bron vir voornemende bruide. Maak jou eie bord waar jou vriende hul idees met jou kan deel.

Probeer om bruidswinkels te kry met rokke in jou prysklas en wanneer jy dit kry, maak afsprake en begin met die mees bekostigbare rokke, gevolg deur die duurderes. Jy raak dalk net verlief op een wat onder jou begroting val.

2. Stel ’n begroting op 

Dis dalk ongemaklik om oor geld te praat, maar dit is belangrik wanneer dit kom by een van die duurste kledingstukke wat jy ooit sal besit. Besluit of jy ’n rok gaan koop, huur of spesiaal vir jou laat maak. Besluit watter opsie die beste vir jou begroting is.

As iemand anders betaal, maak seker jy weet presies wat die prysperk is. Dit sal jou help om binne jou begroting te bly en jou help om die verskil te bereken as jy ’n duurder rok wil hê. Probeer dit vermy om rokke aan te pas wat bo jou begroting is, want dit sal jou baie hartseer spaar wanneer jy besef dis ’n onrealistiese opsie vir jou.

3. Koop vroegtydig 

Probeer om jou eerste bruidsinkopiedag tussen vier en agt maande voor jou groot dag te skeduleer. As jy ’n rok laat maak, maak seker jy is gemaklik met die persoon wat dit maak sodat jy openlik kan wees oor waarvan jy hou en nie gedruk voel om met hom of haar saam te stem nie. As jy ’n rok gaan koop, dra altyd gemaklike klere op jou inkopiedae.

Neem ’n paar hakskoene saam waarvan die hakke se hoogte so na as moontlik is aan dié wat jy op jou troudag gaan dra. Die belangrikste is om die regte onderklere saam te neem, soos Spanx en ’n bandjielose bra. Dit sal help om jou ’n idee te gee van hoe die rok op die dag sal lyk.

4. Neem ’n ondersteuningstelsel saam 

Jy sal dalk jou ma, al jou strooimeisies en jou fotograaf wil saamneem, maar maak seker dis mense wat openlik en eerlik met jou kan wees. Stel dit vooraf duidelik of jy wil hê ander mag die rok voor die groot dag sien. Sê vir jou vriendinne of jy gemaklik daarmee is dat foto’s geneem word, en of jy wil hê jou rok moet ’n verrassing op jou troudag wees. 

5. Moenie dadelik bykomstighede koop nie 

Dit kan dalk aanloklik wees om pragtige oorbelle te koop voordat jy jou rok gefinaliseer het, maar moet dit nie doen voordat jy finaal op jou rok besluit en daarvoor betaal het nie. Dit sal help verseker dat jou juweliersware jou rok komplementeer. 

6. Wees 100% seker voordat jy vir die rok ja sê 

Jy moet versot wees op die rok wat jy kies. Jy gaan immers vir altyd foto’s van jouself daarin hê. As jy enigsins twyfel, loop weg en begin weer met meer opsies.

Nou is dit tyd vir die prettige deel! Voltooi hierdie vasvra om die perfekte trourokstyl vir jou persoonlikheid te kry.

 

FOTO: iStock/Venerala

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief