×
Skakel na Engels

Van ons geliefkoosde gesonde eetplekke in SA

Al wat ons kan sê, is: “Njammie!”
gesonde eetplekke

Kaapstad

Fresch Foods: Kaapse middestad

Dié plekkie binne-in die skaats- en branderplankwinkel Boardhub in Langstraat, is ’n middestad-oase met ’n spyskaart propvol heilsame geure en seisoenale bestanddele. Kies uit ’n verskeidenheid slaaie, wraps, bagels, sappe en smoothies terwyl jy die atmosfeer van dié gewilde middageteplek geniet.

Adam Reilly, die eienaar van Fresch Foods, sorg dat net die beste bestanddele vir hulle omgewingsbewuste geregte gebruik word. “Wat ons by Fresch Foods motiveer en inspireer, is om ons gaste gelukkig te maak deur ’n produk voor te sit wat nie net lekker smaak nie, maar hulle ook goed sal laat voel, sonder dat hulle te duur vir gesonde kos hoef te betaal,” sê Adam.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Raw And Roxy: Woodstock

Val weg aan ’n gesonde fees van rou veganistiese kos, slaaie en vars uitgedrukte sappe tot veganistiese patisserie, groentetjips en smoothies. Vir die minder dapperes, is daar trooskos-opsies met ’n gesonde kinkel (jy sal nie eens die verskil agterkom nie) soos ’n murgpampoentjie-lasagne met rou kasjoeneutkaas, groen pesto en tamatiesous, of ’n sappige vegetariese burger met bestanddele soos portobello-sampioene, vars dille-agurkies, sampioene in ’n tamari-marinade en kasjoemayonnaise. Jy kan ook jou soetlus met ’n peperment “Oreo”-koekie bevredig wat van amandels, klapper, pepermentolie, heuning en klapperolie gemaak is. 

Scheckter’s Raw: Seepunt

As jy op soek is na ’n gesonde, maar verfynde plek vir ’n werksmiddagete of waarheen jy belangrike gaste kan neem, is Scheckter’s Raw ’n uitstekende keuse. Dié restaurant, geleë in die hartjie van Seepunt se besige Regentweg, het ’n spyskaart met ’n verskeidenheid ongelooflike geregte – trouens, dis só goed dat jy nie eens jou gewone burger en tjips sal mis nie.

Volg die soete weg met geregte soos matcha-plaatkoekes met vanielje, agawe, kaneel en aarbeie, of kies die soutige roete met iets soos ’n falafel-wrap met vaganistiese tzatziki, groente, wortels en ’n geheime sous, of rou murgpampoentjie-pasta met sonneblomsaad en ’n suurlemoen-en-avo-pesto. As jy bekommerd is dat dit jou nie versadig gaan maak nie, kan jy ’n bordjie patattjips met wasabi-aioli bestel.

Johannesburg

Jacksons Real Food Market: Bryanston

’n Kosliefhebbersparadys! Jacksons Real Food Market het iets vir almal. Dié kruidenierswinkel, bakkery, slaghuis en gesondheidsrestaurant is bekend vir sy verruklike geure en teksture. Die ontbytspyskaart is geen uitsondering nie.  Die Full Farmer’s Grill (roereier, spek, geroosterde tamatie, gebraaide sampioene, twee worsies en suurdeegbrood) is ideaal vir die Banters, en die Vegan Breakfast Bowl (rou krulkool, avo, sampioene en kersietamaties gebraai in klapperolie, besprinkel met gemengde sade en voorgesit met ’n suurlemoenskyfie en suurdeegbrood) is die ideale veganistiese opsie.

Leafy Greens Café: Muldersdrift

Lê weg aan smullekker vegetariese cuisine terwyl jy die prentjiemooi natuur geniet en rond dit af met ʼn heerlike nagereg – ’n absolute moet! Die restaurant se soete verleidings sluit in sjokoladelemoen-kaaskoek (rou kakao, amandels, kasjoes, lemoensap, rou heuning en vanielje), tuisgemaakte sjokolade en rou gelato-roomys. Leafy Greens Café is kindervriendelik en dus die ideale bestemming vir ’n gesinsuitstappie. Die kleingoed sal die kinderspyskaart geniet, wat opsies insluit vir outjies wat laktose- en glutenintolerant is. 

Eat Your Heart Out: Maboneng-buurt

Eat Your Heart Out, met sy Joods-geïnspireerde kookkuns, is ’n fantastiese plek vir vars geure en opwindende kombinasies. Gaste kan ’n spyskaart vol opwindende vegetariese, glutenvrye, veganistiese, eierlose en vetvrye geregte geniet. Twee gunstelinge is die Israeli-ontbyt, ’n omelet gegeur met za’atar en bedien met pita, gekapte blaarslaai, ingelegde kool, olywe, rissies, hummus en maaskaas, en die hoendershawarma met dungesnyde hoenderborsie, Midde-Oosterse speserye, hummus, gekapte blaarslaai, tahini en rissies (opsioneel).

Durban

Delish Sisters: Salt Rock

Die spyskaart by Delish Sisters bied iets van alles – van trooskos op die oestafel tot gesonder opsies vir ontbyt, middag- en aandete. Teug aan ’n Oosterse blomtee of vars uitgedrukte sap terwyl jy aan een van hulle spyskaart-items weglê.

Spring weg met ontbyt en die geniet die braambessie-en-semelplaatkoekies of ’n verleidelike smoothie, of gaan loer in oor middagete en smul aan die nektarienslaai met sumac en basiliejogurt. Nog twee onvergeetlike geregte is die avo-, feta-en-ertjieslaai met ’n pikante granadilla-en-rissiesous, en die patat-gnocchi met jong ertjies en groente. Vir nagereg kan jy uitsien na die rou amandel-en-kakaotert of glutenvrye lemoen-en-olyfoliekoek.

Tree Natural Cafe: Ballito

Met sy verbintenis tot organiese en vars bestanddele, bestaan die Tree Natural Cafe se spyskaart uit ’n verskeidenheid geregte wat regdeur die dag geniet kan word. Items wat glutenvry, suiwelvry of “Paleo” is, of wat ’n superkos bevat, word so aangedui.

Een ontbythoogtepunt op die spyskaart is ’n acaibessie-ontbyt gelaai met acai-, goji- en seisoenale bessies, amandelmelk en vanielje. Vir middagete is daar items soos ’n pesto murgpampoentjie-pestopasta met rou murgpampoentjie-spaghetti, krulkoolpesto, broccoli, olywe, okkerneute, pampoensade en ertjiespruite. Bonus: die plek word ook as ’n joga-studio gebruik!

Earthmother Organic: Glenwood

Dié ontbyt- en middageterestaurant se spyskaart is propvol veganistiese, organiese en glutenvrye opsies. Earthmother Organic is ’n veganistiese en vegetariese café sowel as ’n organiese kleinhandelwinkel, wat beteken dat jy jou gunsteling-bestanddele daar kan koop om tuis te probeer. Alles op die spyskaart lê hoog op die gesondheidskaal en jy sal met ’n salige gevoel hier weggaan. Waarom probeer jy nie ’n Buddha Bowl met wortels, beet, avo, tamaties, neute, veganistiese kaas en balasamiese asyn nie? Mmm!

FOTO: iStock/gpointstudio

LEES OOK:

Die verband tussen jou dermgesondheid en jou vel

8 maklike gesondheidswenke vir mense met tipe 2-diabetes

7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 Oujaarsaandgeleenthede by restaurante oor die land heen

Oujaarsaand kom vinnig nader en die restaurante raak vol. Deur Nikita Buxton, Lauren Josephs en Lindsay September

Close