×
Skakel na Engels

Tuis-oefenprogram vir paartjies

Word op ’n prettige manier saam met jou maat fiks
paartjies

Wat is dan nou beter motivering as om saam met ’n maat te oefen! Word saam-saam fiks en viets met dié prettige tuis-oefenprogram spesiaal vir paartjies.

Lyfskerm:

Dis soos boks, maar nie so hard op die lyf nie (tensy jy só daarvan hou). Ligte, speelse skerm kan groot pret wees. Mik liggies lae houe (geen kontak nie!) na jou maat en verdedig jouself wanneer jou maat terugslaan. Dié “kontaksport” is net die ding om ’n mens se bloedsomloop aan die gang te kry.

Lyfskerm is ook die perfekte oefening om die lyf te kondisioneer en jou fikser te maak. Boonop toets elemente soos afstand en tydsberekening jou vaardigheid en leer dit jou om flink te dink.

Optrekke:

Staan voor jou maat, sowat ’n halwe meter weg. Neem jou maat se regterhand in jou regterhand en sy linkerhand in jou linkerhand sodat jou arms kruis.

Vat stewig vas en leun dan gelyktydig terug tot in ’n hurkposisie, en dan nog laer totdat julle albei sit. Staan dan op deur jul liggaamsgewig en arms te gebruik om julself en mekaar op te trek. Doen 20 repetisies.

Draaispronge met ’n oefenrek:

Staan langs mekaar en hou elkeen ’n punt van die oefenrek met albei hande vas. Staan ver genoeg van mekaar sodat die rek ligweg trek. Gee gelyktydig ’n tree vorentoe met jul buitekantste been en sak af dat albei jul knieë gebuig is. Stabiliseer julle met jul maagspiere en hou jul rug reguit.

Met die knieë gebuig, hou steeds die rek stewig vas en draai weg van jou maat sodat slegs die bolyf beweeg. Draai terug en staan weer regop. Doen 12 repetisies en ruil dan kante.

Lees: Bly só gemotiveerd vir oefening in die vakansie

Oefenbal-opsitte:

Sit op ’n oefenmat gereed om ’n opsit te doen. Jou maat moet met ’n oefenbal op die punt van die mat staan. Doen ’n opsit en vang die bal wat jou maat gooi sodra jy na die rustende posisie teruggekeer het. Gooi dadelik die bal terug en doen die volgende opsit. Opsit, vang, gooi.

Doen 20 repetisies voordat jou maat ’n beurt kry. Dit is ’n goeie oefening vir die maagspiere en arms, en om die rug en skouers sterker te maak.

Joga vir jou en hom:

Woon saam ’n jogaklas by en blaas só nuwe lewe in jul verhouding. Navorsing het gewys dat joga ’n gesonde verhouding met jou geliefde bevorder. Joga leer jou om meer bewustelik te leef, laat jou ontspan, leer jou om geduldig te wees én dis goed vir jou sekslewe.

Dit leer jou ook om meer in voeling met jouself te wees en só ’n beter maat vir jou geliefde te wees. Sluit die klas af deur hande vas te hou in die Savasana-posisie (lykposisie). Jy sal meer in voeling wees met jou kop, lyf en die belangrikste, jou verhouding met jou maat!

FOTO: iStock/wundervisuals

LEES OOK:

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Laevet- vs. laekoolhidraatdiëte: Wat werk beter vir gewigsverlies?

Dit gaan oor die kilojoules!

Close