×
Skakel na Engels

Troeteldiernoodgevalle: Wanneer om dringend veearts toe te gaan

Weet wanneer jou troeteldier onmiddellik veearts toe moet gaan

Dis 23:00 en jy sien ’n splinter in jou kat se poot. Of jou hond het by die trappe afgetuimel en loop nou effens mank. Jy wonder of jy na die noodveearts toe moet jaag. Weet watter troeteldierkwessies ernstig is en ’n besoek aan die veearts noodsaak.

1. Moenie verleë voel om die veearts te bel nie

Dis nooit verkeerd om jou veearts te bel as jou intuïsie vir jou sê iets is nie reg nie. Maak seker jy weet dit as daar ’n 24-uur-noodveearts in jou omgewing is en hou die nommer waar jy dit maklik kan kry.

2. Beskou die volgende as definitiewe troeteldiernoodgevalle

Daar is sommige situasies waar jy dadelik na die naaste veearts moet gaan, sonder om selfs te bel of eers te vra:

  • Jou troeteldier het ’n traumatiese besering opgedoen toe hy deur ’n motor of stomp voorwerp getref is, of het meer as ’n halwe meter geval.
  • Jou troeteldier haal nie asem nie of jy kan nie ’n pols of hartklop voel nie.
  • Jou troeteldier is bewusteloos.
  • Jou troeteldier braak of het al langer as 24 uur diarree.
  • Jy vermoed hy het ’n been gebreek. 
  • Jou troeteldier kan nie asemhaal nie of iets sit in haar keel vas.
  • Jou troeteldier toon tekens van ’n beroerte of stuipe.
  • Jou troeteldier toon tekens van uiterse pyn: sy kerm of bewe dalk en weier dat jy aan haar vat.
  • Jou troeteldier se maag is opgeswel.
  • Jou troeteldier het bloeding in haar oë, ore of enige ander opening.
  • Jou troeteldier bots skielik teen alles of is gedisoriënteerd.
  • Jy vermoed vergiftiging of weet jou troeteldier het iets giftigs geëet.

3. Monitor die situasie voordat jy veearts toe jaag

Wanneer jy die volgende opmerk, hou die situasie dop en bel jou veearts as dit nie regkom nie.

  • Jou troeteldier nies of hoes. Dis heeltemal normaal dat troeteldiere op stof of besoedeling reageer net soos ons. Hou egter die simptome dop en gaan veearts toe as dit nie opklaar nie.
  • Jou troeteldier het een keer gebraak, maar dit lyk nie of hy ontsteld of in pyn is nie.
  • Jou troeteldier het ’n effense knop.
  • Jou troeteldier het ’n vlak wond of skraap.
  • Jou troeteldier het ’n effense oogirritasie. As sy steeds kan sien en nie pyn of koors het nie, maak die oë sagkens met ’n bietjie warm water skoon en bel jou veearts as die irritasie nie opklaar nie.
  • Jou troeteldier het ’n splinter in haar poot. Probeer dit versigtig verwyder, maak die deel skoon en kyk vir enige tekens van infeksie. Monitor dit en neem haar veearts toe as sy koors het.
  • Jou troeteldier het tekens van ’n velallergie en dit jeuk en sy krap oormatig. Kyk vir vlooie of ’n moontlike reaksie op enige sjampoe of vlooibehandeling. Neem haar so gou moontlik veearts toe as ’n uitslag nie opklaar nie.

FOTO: iStock/ didesign021

Lees ook:

3 vakansiegevare vir jou troeteldiere
Vuurwerk en jou troeteldiere
3 wenke om te keer dat jou troeteldiere vergiftig word

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Truuks vir honde-eienaars

Hier is sewe truuks om seker te maak dat jy daarop kan fokus om pret saam met jou woef te...

Close