×

Swemveilligheidswenke vir die somer

Die swemseisoen is hier! Volg hierdie raad om veilig te bly en in ’n noodgeval te help

 

Die aanbreek van die somer beteken dis swemtyd, hetsy in die see, ’n rivier of ’n swembad. Jy kan jouself bemagtig deur te weet wat om te doen wanneer daar ’n gevaar is dat iemand verdrink.

Hoe om te weet of iemand verdrink:

Ons dink gewoonlik dat iemand wat verdrink, sal skop en skree om aandag te trek en om hulp sal roep. Dit is gewoonlik nié die geval nie, want die persoon kan dalk reeds bewusteloos wees en nie meer probeer dryf nie. Kyk hier hoe om ’n noodgeval raak te sien:

  1. Die swemmer se kop sal onder die water wees met die mond naby die oppervlak.
  2. Die swemmer se kop sal agtertoe gebuig wees, met die mond oop.
  3. Die swemmer se arms sal na die kante uitgestrek wees en die bene bewegingloos.
  4. Die swemmer sal nie hare uit sy of haar gesig vee nie.

Wanneer jy besef daar is ’n noodgeval, doen die volgende:

  1. As jy een of twee van die bogenoemde tekens in ’n swemmer raaksien, moenie tyd mors nie. Probeer die swemmer se aandag trek. As hy of sy nie reageer nie, is dit tyd om vinnig op te tree.
  2. Roep vir hulp as jy nie sterk genoeg is om self na die slagoffer toe te swem nie. Gaan net in die water in as jy goed kan swem.
  3. As die swemmer heeltemal onder die water is, gryp hom of haar aan die hand, armholtes of hare sodra jy binne bereik is. Indien moontlik, stoot jouself hard van die bodem van die swembad of seebedding af op om krag en momentum te kry. Sodra jy in beheer is en die persoon stewig in jou greep het, kry sy of haar kop so gou moontlik bo die wateroppervlak.
  4. Kry die swemmer so gou moontlik op die strand of uit die swembad. As jy vermoed sy of haar nek of ruggraat is gebreek (in die geval van ’n gevaarlike duik), moet die persoon op ’n plat plank of draagbaar geplaas word.
  5. As jy nie dink daar is ’n gebreekte nek of ruggraat nie, plaas die persoon oor jou knie op sy of haar maag sodat die water uit die neus en keel kan loop. Maak seker daar is nie vreemde voorwerpe, mukus of braaksel in die mond nie en bel onmiddellik ’n ambulans.
  6. Kyk intussen vir ’n polsslag, of die persoon se pupille op lig reageer en of asemhaling moontlik is. Begin KPR en hou aan totdat die ambulans kom of die persoon begin asemhaal.

Onthou dat dit net die hoofstappe is wat in ’n noodgeval gedoen moet word. Dit is noodsaaklik om ’n ambulans of paramedici te laat kom.

Algemene swemveiligheidswenke:

  1. Moet nooit jong kinders sonder toesig by ’n swembad of in die see los nie.
  2. Wanneer julle op die strand is, luister altyd na die lewensredders en let op na onreëlmatige getye.
  3. Moenie dat goed rondom die swembad rondlê waarop iemand kan gly of wat iemand kan seermaak nie.
  4. Moet jouself nie tot die uiterste inspan nie, of dit nou in die see of die swembad is. Selfs die sterkste swemmer kan in die moeilikheid raak.
  5. Moet nooit by afgeleë strande swem nie. Hou by strande met lewensredders en swem op die aangewese plekke.
  6. Moet nooit op dryfhulpmiddels soos reddingsbaadjies staatmaak vir veiligheid nie.
  7. Verseker die veiligheid van jou gesin deur jou kinders van ’n jong ouderdom aan water en swem gewoond te maak.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Swem, Sannie, swem

Swem is ’n cool tydverdryf danksy ons Olimpiese helde Cameron van der Burgh en Chad le Clos. Dis ook ’n...

Close