×
Skakel na Engels

Superheld-kultuur kan kinders aggressief maak

Keer dat superhelde jou kind aggressief maak. Deur Caroline Picard.
superhelde

Batman, Superman en Wonder Woman is gewoonlik die goeie ouens, maar die kampvegters van geregtigheid is dalk nie so positief as wat jy gedink het nie. Volgens ‘n nuwe studie wat in die Journal of Abnormal Child Psychology gepubliseer is, is daar ‘n verband tussen betrokkenheid by superhelde en ‘n toename in fisieke aggressie onder jong kinders. In plaas daarvan om ander kinders te verdedig, is kinders besig om die teenoorgestelde na te boots: Geweld.

Navorsers van die Brigham Young-universiteit het 240 kleuters bestudeer en hulle oor hul gunsteling-superhelde uitgevra en waarom hulle van hulle hou. Een uit vyf het na die karakters se gewelddadige vaardighede as ‘n voordeel verwys. “Want hy kan alles breek en verwoes, en hy gee nie om nie want hy is ‘n groot boelie,” het een kind gesê. “Want hy kan doodmaak,” het ‘n ander kleuter verduidelik. Slegs 10% het die karakters se rol as verdediger op prys gestel.

Lees ook: 3 dinge wat jy dalk nie oor ouerskap geweet het nie

Die wetenskaplikes het ook met hul ouers gepraat en gevind dat kinders wat met superhelde omgaan in die daaropvolgende jaar ‘n besondere geneigdheid tot fisieke en verhoudingsgeweld het. Wat meer is, hierdie kinders was nié meer geneig om vir maats op staan wat afgeknou is nie. Wat staan ouers te doen? Fokus op die positiewe, adviseer Sarah M. Coyne, hoofouteur en professor in gesinstudies. Sy beweer dat die komplekse morele boodskap in die meeste superheldprogramme bokant kleuters se vuurmaakplek is. “Die superhelde self het soveel goeie eienskappe; ek sal daarop fokus en die klem van die geweld wegneem.”

As ma van ‘n seuntjie met ‘n Spider-Man-obsessie, beklemtoon Coyne dat dit oor matigheid gaan. “Die punt van die studie is nie om superhelde te verban nie; hulle is pret en ‘n wonderlike deel van kindwees,” het sy vir Science Daily gesê. “Dit gaan oor balans en om maniere te kry om oor superhelde te praat wat op die positiewe aspekte fokus.” Die bevindings strook met haar navorsing van verlede jaar waarin sy bevind het dat Disney-prinsesse geslagstereotipes versterk. Op die ou end het Elsa en Captain America wel ‘n plek in die speelkamer, solank hulle nie ons kinders se enigste rolmodelle is nie.

Uit: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/fstop123

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief