×
Skakel na Engels

Só raak jy van kakkerlakke ontslae

Raak eens en vir altyd van hierdie onwelkome gaste ontslae! Deur Caroline Picard
kakkerlakke

Jy skakel die kombuislig aan en die skarreling van kakkerlakpote en -voelers op die toonbank is genoeg om jou nagmerries te gee. Hierdie peste laat jou egter nie net tot agter jou ore gril nie; hulle kan jou kos besmet, gevaarlike bakterieë oordra, en ergste van alles, jou knapste uitroeiingspogings oorleef.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Gelukkig is dit moontlik om selfs die hardnekkigste plae met ’n paar truuks en ’n bietjie hulp te verdryf:

1. Identifiseer die probleem en kry professionele hulp indien nodig

Uit die meer as 4 000 kakkerlakspesies in die wêreld word die meeste van ons deur slegs een of twee soorte verpes: Duitse kakkerlakke en Amerkikaanse kakkerlakke. Die Duitse kakkerlakke is ligbruin met twee parallelle donker strepies aan die kante en hulle is ongeveer 2,5 cm lank.

Die rooibruin Amerikaanse kakkerlakke word effens groter, tot omtrent 4 cm lank. Hulle word ook gewoonlik buite aangetref, dikwels in gronddeklae en ashope.

Aangesien kakkerlakke jou kos en toonbanke met E.coli en salmonella kan besmet, mag ’n plaag nie ligtelik opgeneem word nie. As jy tevergeefs probeer om die kakkerlakke uit te roei of om hulle broeiplek te identifiseer, moet jy dit oorweeg om van professionele plaagbestryders gebruik te maak.

2. Isoleer hulle van kos

Net soos mense, kan hierdie pestilensies nie sonder kos oorleef nie.  Maar anders as mense, kan hulle van amper enige iets leef wat jy vir hulle laat rondlê, soos onoopgemaakte kos, afval en selfs krummels.

Begin deur enige oorskiet of gemorste kos op te ruim. ’n Vergete boks ontbytpap agter in die kas is ’n kakkerlak se droom. Moet ook nie enige vuil skottelgoed op die toonbank of in die wasbak los nie, waarsku die Amerikaanse entomoloog Chelle Hartzer.

Delf dieper – letterlik – deur agter kaste en toestelle te kyk. “Hulle skuil graag agter yskaste omdat dit ’n aangename, warm omgewing is. “Niemand maak agter hulle yskas skoon nie, dus is daar gewoonlik ’n voedselbron vir hulle.”

Gooi alle gemors in ’n asblik met ’n deksel wat dig toemaak en neem dit gereeld uit,” sê Mike Goldstein, ’n gesertifiseerde plaagbeheerder vir Woodstream. Moenie van die onderkant van jou asblik vergeet nie; vee enige oorblyfsels uit.

3. Vernietig hul wegkruipplekke

Benewens kos, het kakkerlakke ook hoekies en gaatjies nodig om te floreer. Van hul gunsteling-skuilplekke is papierstapels en kartonbokse. Herwin dus enige iets wat net rondlê. Om orde te skep sal kakkerlakke daarvan weerhou om daar uit te span – of terug te kom. 

4. Gebruik aas – moenie spuit nie

Alhoewel goeie higiëne en huishouding prioriteit is, kan jy ander wapens in jou oorlog teen kakkerlakke gebruik. “Aas is ’n ideale opsie, want jy hoef dit net uit te sit”, sê Goldstein. “Jy wil nie wild begin gif spuit nie, want dit kan oppervlakke besmet wat jy nie besmet wil hê nie: toonbanke, toestelle, ensovoorts. Aas is ’n skoner en minder gevaarlike manier om die probleem te hanteer.”

5. Verseël ingangsplekke

Kakkerlakke kan hulleself plat maak en deur krake of selfs geskeurde venstergaas wriemel. Hou toekomstige indringers uit deur gapings met materiale soos deursigtige seëlaar of staalwol toe te maak, of ’n rubberstrook onderaan jou deur vas te sit. Hartzer beveel aan dat jy buk en kyk of jy onderdeur jou deur kan sien. “As jy daglig sien, beteken dit dat kakkerlakke kan inkom,” sê sy.

Moenie van dinge vergeet wat jy self by die huis inbring nie. Kruideniersware, aflewerings en ou meubels kan ’n paar verstekelinge huisves. Inspekteer alles noukeurig. Deur hierdie onwelkome indringers uit te sluit én jou huis ’n onherbergsame plek vir hulle walglike gewoontes te maak, is die beste manier om hulle finaal die trekpas te gee.

Uit: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/aopsan

LEES OOK: 

8 redes om vanjaar van ’n warboel ontslae te raak

10 gebruike vir mielieblom wat nie met kos te doen het nie

Natuurlike insek- afweermiddels

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief