×
Skakel na Engels

Só maak jy ‘n goeie man groot

Hoe kan ouers verseker dat hulle vriendelike, sensitiewe en eerbare seuns die wêreld instuur? Vyf ouers en kenners op die gebied van ouerskap gee raad

 

1. Wees sy grootste bewonderaar

Dr. Mamphela Rampehele, skrywer van Conversations With My Sons and Daughters (Penguin Books) en leier van die politieke platform Agang, en ma van twee seuns

Om ’n goeie man groot te maak begin by sy geboorte wanneer jy hom toevou met liefde en daarop aandring dat hy almal wat vir hom sorg, met respek behandel en hulle nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Jy verwag net die beste van hom omdat hy ’n goeie man is – en bou só aan sy selfvertroue. Dit gaan alles oor die stel van hoë standaarde, om wat hy bereik te ondersteun, elke sukses oor en oor te prys en sy onvoorwaardelike aanhanger te wees!

 

 

2. Goedhartigheid is die wegspringblokke

David O’Sullivan, radio-omroeper en pa van twee seuns

Julie Burchill, ’n Britse joernalis, sê gemeenheid is die slegte asem van die siel. Sy het na inhaligheid verwys, maar haar opmerking is ook van toepassing op haatdraende of kwaadwillige optrede. Om te verseker dat my seuns eendag goeie mans sal wees, leer ek hulle dat hul siele – na analogie van Burchill se woorde – mentvars moet wees. ’n Goedhartige siel verstaan respek en verdien dit, terwyl selfvertroue en morele standvastigheid neweprodukte is.

 

 

3. Vertel seuns dat hulle uniek is; leer hulle om hulself na waarde te ag

Alison Botha, oorlewende en skrywer van I Have LIfe: Alison’s Journey as Told to Marianne Thamm (Penguin Books) en ma van twee seuns

Ek dink ’n deel van die probleem lê daarin dat sommige mans grootgeword het met die idee dat hulle nie enige verdienste het nie. Hulle word sonder enige selfagting grootgemaak. Ek glo ons moet seuns leer dat almal oor unieke talente beskik. Toe ek vir my lewe geveg het nadat ek 18 jaar gelede wreed aangeval is, het ek aanhou dink aan my ma wat my belangrik genoeg laat voel het om weer op te staan. Ek leer my seuns dat hulle nie eilande is nie en dat hul dade ander beïnvloed.

 

 

4. Kommunikasie en eerlikheid help vestig ’n diep onderliggende respek

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en ma van twee seuns

My seuns se karakter was met geboorte al gevorm – ek verwonder my altyd daaraan. Ons het probeer om altyd vir hulle ’n voorbeeld te stel, maar so baie van hulle menswees is reg van die begin af geskep. My man was vir hulle as man, pa en landsburger ’n uitstekende rolmodel. Ek het probeer om my deel te doen. Ons het albei beroepe gehad wat groot eise aan ons gestel het, en ons was nog altyd dankbaar vir die toegewyde steun van ons huishulp, Grace Voyiya Mputing, wat vir my kinders lief is soos vir haar eie.

Ons seuns is nou volwassenes, maar dis net die helfte van die reis. Ek is seker dat hulle eendag uitstekende rolmodelle vir hul eie gesinne sal wees.

 

 

5. Jy moet ’n voorbeeld stel

Yusuf Abramjee, hoof van nuus en heersende aangeleenthede by Primedia Broadcasting, hoof van Crime Line, toonaangewende SA aktivis en pa van twee seuns

Ons gesin glo aan oop kommunikasiekanale sodat ons seuns kan insien hoe ons dink en ons hulle kan raad gee. Die Moslem-geloof moedig goeie en eerlike gedrag aan. Hulle is ook blootgestel aan ’n breër samelewing van mense wat hulle die waarde van familie, deernis en respek geleer het. Hoewel my seuns verskillende persoonlikhede het, word hulle gebind deur ’n wedersydse respek vir ander en hulle probeer altyd om die goeie en die regte ding te doen.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Moet Weet #1

Het jy al ooit iets gesien, gelees of gehoor wat jou laat dink het: 'Wat ʼn oulike idee! Ek móét...

Close