×
Skakel na Engels

Slim kunsies om grimering te verwyder

Sukkel jy om jou grimering te verwyder? Hier is ’n paar maklike en doeltreffende wenke
kunsies om grimering

Met al die aanbly-grimeerprodukte wat vandag beskikbaar is, van waterbestande maskaras tot lipstiffies met houkrag, is ʼn gewone verwyderaar of reiniger soms net nie effektief genoeg wanneer dit by die afhaalslag kom nie.

ʼn Eindelose geskrop is egter onnodig. Om hardnekkige produkte te verwyder moet jy eenvoudig slimmer te werk gaan, nie harder nie.

Wimperverlengings

Na ʼn paar weke se dra, en nadat jou natuurlike wimpers gegroei het, kan wimperverlengings nogal slordig lyk. Om hulle uit te trek, is egter taboe. Nie net is dit ʼn pynlike affêre nie; van jou eie wimpers kan ook in die slag bly.

Stoom jou gesig eerder onder ʼn handdoek bo-oor warm water totdat die kleefmiddel begin oplos. Vee dan liggies oor jou wimperlyn met katoenwatte wat jy in olyfolie gedoop het. Die kunswimpers sal sagkens afgly.

Lees: Jou gids tot pragtige wimpers

Aanbly-lipstiffie

Hierdie soort vloeibare lipstiffie, wat al hoe gewilder raak, maak dit onnodig om jou lippe deur die loop van die dag herhaaldelik op te knap. Die nadeel? Die kleur klou inderdaad vir ʼn ewigheid, en dit is ʼn gesukkel om jou lippe weer skon te kry.

Maar vergeet van grimeerlappies – die beste produk vir die verwydering van hierdie soort lipstiffie is petroleumjellie, wat jy met jou vingers aanwend, invryf en dan saggies met ʼn lappie afvee. Voila!

Lees: Watter kleur lipstiffie pas jou? Voltooi gou hierdie vraelys

Waterbestande maskara

Aangesien olie die teenoorgestelde van water is, is dit bloot natuurlik (en wetenskaplik!) dat dit die beste manier sal wees om waterbestande maskara te verwyder. Die olie breek die maskara se waterbestande eienskappe af, wat maak dat dit sonder enige moeite of ʼn gevryf afkom. As jy nie spesifiek gesigolie het nie, sal olyf- of amandelolie ook deug.

Lees: 4 stappe om jou maskara elke keer perfek aan te wend!

Blinkernaellak

Baie van ons geniet dit om ʼn tikkie glans aan ons voorkoms te verleen, maar dit kan ʼn groot pyn wees om van die blinkigheid ontslae te raak. Dit geld bowenal vir blinkernaellak wat besonder halsstarrig is.

Die mees effektiewe manier is om genoeg watte vir elke vinger in asetoon te laat week, dit oor die nael te plaas en elke vinger vir vyf minute in tinfoelie toe te draai. Dit behoort die blink naellak te laat afgly en siedaar, jou vingers is skoon en gereed vir jou volgende manikuur.

Lees: Skitterende naels

FOTO: iStock/John Sommer

LEES OOK:

Hoe om gesigolies en -serums reg aan te wend

Hoe om grimeervlekke van klere te verwyder

Reinig én red jou vel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Skoonheidsgeheime van oor die wêreld heen

Ons deel die beste skoonheidsgeheime van ander lande sodat jy op jou beste kan lyk

Close