Ons word gedurig gebombardeer met advertensies wat aanbeveel dat ons die een of ander nuwe skoonheids- of velsorgproduk moet aanskaf om op ons beste te kan lyk en voel.
Maar nog lank voor al hierdie wonderlike teenverouderingschemikalië en topklasprodukte geskep is, het mense baie eenvoudiger bestanddele gebruik om hul vel eksie-perfeksie te hou, en party van dié bestanddele skuil in ons kombuis. Hier is van die doeltreffendste huishoudelike produkte wat jy gerus by jou skoonheidsroetine kan inkorporeer:
Klapperolie
Hoewel dit nog relatief nuut in Suid-Afrika is, is klapperolie vinnig besig om ietwat van ’n wondermiddel te word. Dis nie net ’n gesonde opsie vir kosmaak nie, maar dit kan ook gebruik word om jou hare en vel te bevog, om sonbrand te behandel, jou te help om glad te skeer, en om grimering te verwyder.
Teesakkies
Donker kringe onder ons oë is iets waarmee die meeste van ons een of ander tyd sukkel, want, wel, die lewe kan uitputtend wees! Koue teesakkies word al jare lank as ’n kuur vir pofferigheid onder die oë “bemark”. Dit lawe nie net die vel rondom die oë nie, maar maak ook dat jy minder verbloemer hoef te gebruik.
Lees: Wenke met verbloemer wat jy moet weet
Asyn
Ons weet dit ruik nie fantasties nie en herinner jou dalk aan vis en tjips, maar asyn is ook ’n fantastiese kuur vir skilfers en om haarprodukte te verwyder wat op jou kopvel aanpak. Vir ekstraskoon en glansende hare, spoel jou hare gedurende elk stortsessie met asyn af voordat jy jou gewone sjampoe en opknapper gebruik.
Borrie
Hierdie spesery kry eindelik die aandag wat dit as ’n veeldoelige produk verdien. Dit kan help om aknee te beveg, jou gelaat te verhelder en jou vel se elastisiteit te verbeter. Inkorporeer dit by jou skoonheidsroetine deur ’n bietjie borriepoeier by jou gesigmaskers te voeg vir ’n skoon, jeugdige vel.
Koeksoda
Koeksoda is wonderlik om puisies mee te behandel omdat dit as ’n uitdrogingsmiddel dien. Meng dit met water om ’n pasta te maak wat jy aan knoppies kan aanwend. Dit kan ook inflammasie en ongerief verminder.
FOTO: iStock/Bignai