×
Skakel na Engels

Ses maniere om die Papiertier te tem

Is jy toegegooi onder berge papier en hope gemorspos in jou huis? Hier is ses maniere om die papieroorlog te beeïndig

1. POS DIE GEDRUKTE MEDIA

Sprei jou digitale vlerke. Spaar die posdiens al die moeite en laat rekenings en ander pos per e-pos na jou gestuur word. En moenie drukstukke daarvan maak nie; dis duur en papiermors. Laai dit af en bêre dit in maandelikse onderafdelings binne ’n ‘fakture-en-state’- lêer. Wanneer dit tyd is om belastingopgawes in te dien, kan jy dit bloot op ’n geheuestafie plaas en vir jou boekhouer gee.

2. HOU NET KNIPSELS

Tensy jy elke dag vensters skoonmaak (koerantpapier bly steeds ’n gunsteling) is daar regtig geen rede om koerante op te gaar nie – bêre knipsels en hersirkuleer die res.

3. SIT DIT IN ’N SAK!

Hou ’n papiersak in jou kombuis of kantoor vir weggooipapier, gemors- pos en koeverte en gesnipperde papier. Wanneer jy goed hersirkuleer, kan jy sommer die hele sak net so ingooi.

4. SORTEER IN STYL

Is jy geneig om hopies te vergaar waarmee jy ‘later’ sal afreken? Indien wel, moet jy ’n stelsel in plek kry. Plaas in- en uitmandjies op ’n opsigtelike plek of skaf ’n konsertina-lêer vir betaalde en onbetaalde rekenings aan – jy kan papierwerk baasraak.

5. VERSNIPPER DIT

Werk jy van die huis af? Dan is ’n versnipperaar jou beste bondgenoot. Sorg dat die snippermasjien naby jou lessenaar staan sodat jy doeltreffend en vinnig met persoonlike dokumente kan wegdoen.

6. OEFEN ’N KEUSE UIT

Verminder al die gemorspos (en verkoopspraatjies) en sluit by die National Opt Out Register aan.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Organiseer jou badkamer

Gebruik hierdie wenke om jou badkamer beter te organiseer

Close