×
Skakel na Engels

Ruil self jou wielband in 5 maklike stappe

Dis een van daai goed wat jy dink jy nooit gaan moet doen nie, totdat jy moet … Deur Caira-Lee Durand
wielband

Om ’n band te ruil is ’n vaardigheid wat ongelukkig bemeester moet word, want die laaste ding wat jy wil hê, is om hulpeloos langs die pad gestrand te wees. Indien jy nie weet hoe om ’n band te ruil nie, moenie bekommer dwees nie – met hierdie vyf eenvoudige stappe sal jy presies weet wat om te doen:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Wees voorbereid

Wanneer die onafwendbare gebeur en jy jou hande moet vuilmaak, gaan jy dankbaar wees as jy voorbereid is. Dit is hoofsaaklik vir jou veiligheid sowel as ’n vinnige en maklike operasie. Eerstens (en dit is logies, maar ’n mens weet nooit) behoort jy seker te maak dat daar niemand in jou motor is nie.

Sorg dat jou handrem opgetrek of geaktiveer is en dat jou voertuig in parkeermodus (’n outomatiese model) of in rat (’n handratmodel) is. Indien moontlik, behoort jy op ’n veilige afstand van die verkeer af stil te hou. Plaas jou nooddriehoek ’n paar meter agter jou voertuig.

2. Haal die ou band af

Begin deur die wieldop te verwyder om by die wielmoere uit te kom, en gebruik dan jou wielsleutel om die wielmoere los te draai, maar moet dit nog nie afhaal nie.

Onthou hoe Ma jou leer krane oopmaak het: “Links vir los of regs vir vas” oftewel “Lefty loosey, righty tighty!” Die wielmoere gaan dalk ’n bietjie te styf wees om met jou hande los te draai, maar daar is raad. Gebruik eenvoudig jou voet om ’n bietjie gewig op die wielsleutel te plaas, en dit behoort die ding te doen.

3. Lig jou motor op

Op hierdie punt moet wil ons net noem dat die persoon wat die domkrag uitgevind het, ’n medalje verdien. Plaas jou domkrag op ’n plat, stewige oppervlak, net onder jou motor se domkragpunt. Die domkragpunt is gewoonlik op die voertuigraam tussen die voor- en agterwiele, maar jy kan jou motorhandleiding raadpleeg om seker te maak.

Sodra die domkrag reg geplaas is, kan jy die voertuig begin oplig. Lig dit hoog genoeg sodat jy die wielmoere en die wiel kan afhaal deur dit met albei hande na jou toe te trek.

4. Sit die spaarwiel op

Noudat die ou wiel uit die pad is, kan jy die spaarwiel opsit. Indien jy ’n kleiner, tydelike wiel gebruik, is dit belangrik om dit so gou moontlik met die ware Jakob te vervang. Dit is nie ontwerp vir snelhede bo 80 km/h of vir lang afstande nie. Sodra die spaarwiel op sy plek is en netjies oor die skroewe pas, kan jy al die wielmoere vasskroef en jou motor weer met die domkrag laat sak.

5. Die einde is in sig

Al wat nou oorbly, is om klaar te maak en weer op die pad te kom. Draai die wielmoere met die wielsleutel vas en gebruik sommer weer ’n bietjie voetkrag, net om dubbel seker te maak. Vervang jou wieldop, pak op en sorg dat jy so gou moontlik by jou naaste motorhandelaar uitkom sodat jou beskadigde band herstel of vervang kan word. Pas jouself op – en sorg dat jy nie sonder ’n spaarwiel betrap word nie!

Uit: WOW

FOTO: iStock/Bobex-73

LEES OOK:

Dís waarom jy die toestand van jou bande moet laat nagaan!

Gids tot bestuursveiligheid gedurende sonop en sononder

Noodnommers wat jy nodig het wanneer jy op die N2 ry

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Bestuur só veilig op verskillende padoppervlakke

Topwenke vir bestuursveiligheid in noodgevalle en op verskillende padoppervlakke

Close