×

Raak verlief op jou werk!

Hoe om die werk te geniet wat jy reeds het.
werk

Gebruik hierdie ekspertwenke op dae wanneer werk soos wérk voel. Dit sal jou 9 tot 5 (of jou 7 tot 7) vreedsamer en bevredigender maak.

MAAK ’N TWEEDE DOENLYSIE

Die ding van doenlysies is dat daar altyd iets nuuts is om by te voeg – dit voel of jy nooit klaarkry nie. Dis hoekom jy twee moet hê: ’n deurlopende lys van alles wat aangaan, en ’n tweede, realistiese daaglikse moetdoenlysie. Die geheim: Dié tweede lysie mag net drie goed ophê (soos een e-pos wat jy moet lees, een oproep wat jy moet maak, en een taak wat jy heeltemal moet af handel). Om jou take só op te deel sal jou help om meer gedoen te kry en ook beter daaroor te voel. “ ’n Gevoel van vordering is noodsaaklik,” sê die sielkundige en loopbaankenner dr. Cynthia Marco-Scanlon. Klaar met jou drie take? Knap gedaan. Maak nog ’n lysie met twee of drie goed op die hooflys na gelang van hoeveel tyd jy in jou dag oorhet.

VAT DIE PAD!

Moenie jou werk los nie, verlaat net jou lessenaar. Gebruik ’n 15-minute-blaaskans om van jou werkplek af weg te kom en ’n ent te gaan stap; dit kan ’n groot verskil maak. Om jou liggaam te beweeg, selfs net vir ’n kort tyd, maak jou ná die tyd produktiewer en gelukkiger, is in ’n studie aan die Universiteit van Pennsilvanië in die VSA bevind. “Die endorfiene gee jou ’n energiehupstoot,” sê die korporatiewe raadgewer en werkplekterapeut Brandon Smith.

FOKUS OP DIE MENSE

“Om weer aandag aan jou verhoudings met kollegas te bestee kan jou geheel en al anders oor jou werk laat voel,” sê die kliniese sielkundige dr. Ben Michaelis, die skrywer van Your Next Big Thing: 10 small steps to get moving and get happy (Wolf Street Press). “Gedeelde ervaringe help jou om meer ooreenkomste tussen jou en ander mense te vind met wie jy nie normaalweg oor die weg sou kom nie.” Julle kan ’n geselligheid ná werk reël of middagete vir jul kantoor se gemeenskaplike ontspanningsruimte bestel. As dit nie met die hele groep gaan werk nie, bied aan om vir die kollega wat langs jou sit koffie te bring wanneer jy weer vir jouself gaan kry, of komplimenteer ’n medewerker se oulike gesinsfoto’s. “Dit sal hulle – en jou – herinner dat julle almal saam in hierdie bootjie is,” sê Michaelis. Moet egter nie voel dat jy jouself gedaan moet maak om almal se gunstelingmens te wees nie: Ander navorsing toon dat selfs net een beste vriend in die kantoor die sleutel is om positiewer oor jou werk te voel. Hoe dit ook al sy, kollegas kan die lewe beter maak.

VISUALISEER DIE GELD WAT JY MAAK

Of dit ’n aaklige vergadering, ’n ontstoke kliënt of sommer net ’n Dinsdag is, herinner jouself daaraan dat dit alles die moeite werd is deur jou te verbeel hoe iemand aan die einde van die dag vir jou die kontant in die hand stop wat jy daardie dag verdien het. Werk uit hoeveel jou dag werd was – as jy R200 000 per jaar verdien, is dit amper R800 per dag – en stel jou dan voor hoe daar vier vars R200-note in jou beursie verskyn terwyl jy na jou motor toe stap. Dit behoort dinge ’n bietjie draagliker te maak!

BEGIN EN EINDIG MET DIT WAARIN JY GOED IS

Navorsing deur Gallup (’n Amerikaanse prestasiebestuur-konsultmaatskappy) toon dat wanneer jy tyd bestee aan dinge waarin jy uitblink – hetsy dit is om met kliënte of sigblaaie te werk – jy geneig is om meer ingeskakel en gelukkig by die werk te voel as wanneer jy gedurig aan jou swakhede probeer werk. Beplan jou tyd só dat jou dag begin en eindig met dinge wat minder soos werk voel. “ ’n Sterkpuntgegronde werkplek verbeter produktiwiteit omdat die aktiwiteite en eise van jou werk al hoe lonender raak,” sê dr. Jim Harter, die hoofwetenskaplike vir Gallup se werkplekbestuurpraktyk. Jy kan dalk selfs na môreoggend begin uitsien!

Lees ook: 

Kry só jou droomwerk

Hoekom dit nooit te laat vir ’n loopbaanverandering is nie

Verander jou lewe met hierdie vyfpuntplan

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wenke met verbloemer wat jy moet weet

Vinnige oplossings vir ’n vlekkelose vel in ’n kits!

Close