×
Skakel na Engels

Raak só gemotiveerd vir oefening

Raak gemotiveerd om te oefen deur hierdie 4 stappe te volg…
Raak só gemotiveerd vir oefening

1. Zzz … as ek net nie so moeg was nie.”

Dis moeilik om te glo dat oefening jou meer energie gee, veral wanneer jy ná ’n lang dag jou hand na die TV se afstandbeheerder uitsteek. “Neem net daardie eerste tree by die deur uit,” sê die oefeningsielkundige dr. John Noble. Sê vir jouself dat jy ná 10 minute kan ophou as jy te gedreineer voel om aan te gaan.

Die kans is egter goed dat jy sal aanhou. En jy sal ná net ’n paar sessies al resultate begin sien. In ’n ondersoek in 2008 aan die Universiteit van Georgië in die VSA onder gesonde maar vermoeide volwassenes, het oefening drie maal per week vir ses weke die betrokkenes se energievlakke merkbaar verbeter.

En diegene wat lae-intensiteit-oefening gedoen het, soos om te stap, het die meeste voordele geniet.

2. “Vreemdelinge toelaat om my in ’n gim dop te hou? Ag, asseblief!”

As die vooruitsig van ’n ingewikkelde oefenplan jou angstig maak, verander jou plan, sê dr. Marc Lochbaum, ’n oefeningsielkundige. Sy drieledige benadering is: bekende bewegings (stap, hurkoefeninge, aërobiese video’s), ’n vriendelike omgewing (in jou huis of buurt) en “daardie een vriendin wat nooit, ooit oordeel nie as ’n oefenmaat”.

Later, as jy kans sien om die gim aan te pak, probeer ’n kleiner, private gim. “Hulle is minder geneig om jou soos ’n ‘gimslaaf’ te laat voel. Begin met een stel toerusting en werk van daar af verder,” sê die fiksheidsdeskundige dr. Pamela Peeke.

3. “Met my besige skedule? Vergeet dit!”

Gim toe ry, ander klere aantrek, die oefenplan deurwerk, stort, huis toe ry … wie het tyd daarvoor? “Jy hóéf nie gim toe te gaan om behoorlik te kan oefen nie,” sê die kliniese dieetkundige dr. Felicia Stoler.

Begin met 10-minute-brokkies – sê nou maar ’n handgewigsessie voor ontbyt, ’n stappie oor middagete en ’n wandeling om die blok saam met die gesin ná aandete. Tel dit alles bymekaar en jy sal sien dat as jy jou daartoe verbind om fiks te raak, jy wel die tyd daarvoor kan vind.

4. “Dis eenvoudig net nie pret nie.”

Jy onderskat dalk net hoeveel jy fisieke aktiwiteit gaan geniet. Navorsers aan die Universiteit van Brits-Columbië in Kanada het bevind dat wanneer mense aan oefening dink, hulle geneig is om op die (gewoonlik onplesierige) eerste paar minute te fokus – en dan daarteen begin opsien.

Maar ná ’n uur se oefening het deelnemers dit positief beoordeel. “Vind dus ’n lekkerder manier om opwarmingsoefeninge te doen,” stel Matthew Ruby, die hoofkoördineerder van die ondersoek, voor. “En dink aan die genotvolle oefeninge wat nog kom, sowel as hoe goed jy ná ’n oefensessie voel.”

FOTO: iStock/FrancescoCorticchia

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 dieettruuks wat jy waarskynlik nog nooit probeer het nie

Om gewig te verloor gaan nie net oor wat jy weet nie, maar ook oor wat jy nié geweet het...

Close