×
Skakel na Engels

Prinses Diana se trourok is terug in die nuus

Die ikoniese rok word aan haar seuns gegee DEUR SHANELLE REIN-OLOWOKERE

 

 

Nou dat hulle volwassenes is, ontvang die prinse William en Harry ’n spesiale herinnering van hul ma se lewe – die beroemde ivoorkleurige rok wat sy op haar troudag in 1981 gedra het toe sy met prins Charles getroud is.

Die sy-en-tafsy-rok wat deur David en Elizabeth Emmanuel ontwerp is, het ’n 7,6 meter lange sleep en is met 10 000 pêrels geborduur. Dié spesiaal gemaakte skepping het wêreldwyd net soveel opspraak gewek as die Alexander McQueen-rok wat Kate Middleton gedra het toe sy in 2011 met prins William getroud is.

Sedert haar dood in 1997 was die kosbare rok in die sorg van Diana se broer, Charles Spencer, op die familie se Althorp-landgoed in Northampton, Engeland. In 1998 het dit die middelpunt van ’n uitstalling – Diana: A Celebration – geword wat jare lank wêreldwyd gehou is.

Saam met hul ma se trourok sal die prinse ook verskeie familiejuwele en -tiaras, persoonlike foto’s en briewe ontvang, asook die oorspronklike kopie van hul oom se huldeblyk aan Diana op haar begrafnis.

Die naderende verskuiwing het bespiegeling ontlok dat die rok in die nabye toekoms in een van Londen se koninklike paleise openbaar uitgestal sal word. Ons kan net hoop dat dit sal gebeur.

 

Hierdie artikel is oorspronklik op Goodhousekeeping.com gepubliseer. 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief