×
Skakel na Engels

Premenstruele disforiese versteuring: Waarom jy voor jou maandstonde neerslagtig kan voel

Wanneer jou PMS meer as net ‘n lus vir sjokolade is…
Premenstruele disforiese versteuring

’n Onkeerbare lus vir sekere kosse, effense krampe en buierigheid is heeltemal normaal voor enige vrou se maandstonde. Maar indien jy ’n verlammende depressie en gemoedskommelings ervaar wat jou daaglikse lewe ontwrig, ly jy dalk aan premenstruele disforiese versteuring.

Wat is premenstruele disforiese versteuring?

Premenstruele disforiese versteuring (PMDV) word as ’n ernstige weergawe van PMS beskryf. Alhoewel PMS en PMDV albei fisieke simptome soos gevoelige borste, krampe, opgeblasenheid en ’n drang na sekere eetgoed behels, het PMDV simptome soos onreëlmatige gemoedskommelings, depressie en ’n gebrek aan konsentrasie wat jou verhoudings en werk ernstig kan beïnvloed. 

Nes PMS kan PMDV  sewe tot 10 dae voor jou maandstonde begin. PMDV gaan egter gepaard met ’n gevoel van oorweldigende smart en wanhoop, huilbuie, angstigheid en uiterste gemoedskommelings. Dit is nie die normale prikkelbaarheid wat ook ’n simptoom van PMS kan wees nie – PMDV-lyers kan simptome soortgelyk aan maniese depressie toon.

Ten spyte van hormonale veranderinge wat kan veroorsaak dat onderliggende depressie of angstigheid opvlam, is daar nie ’n duidelike oorsaak van PMDV nie. Navorsers het wel bevind dat daar ’n verband tussen lae serotonienvlakke en PMDV is. Dit is belangrik om die tekens en simptome te herken en iets daaraan te doen.

Tekens en simptome van premenstruele disforiese versteuring:

  • Onreëlmatige gemoedskommelings
  • Erge gevoelens van depressie en wanhoop
  • ’n Gebrek aan konsentrasie by die werk of met dagtake
  • Moegheid
  • Hoofpyne
  • Slaaploosheid of slaapsug
  • Angstigheid of ’n algemene gevoel van bedruktheid, onheil, en voorgevoelens
  • Seer borste
  • Spier- en maagkrampe
  • Naarheid

Wat jy kan doen om PMDV te verlig

Indien jy enige van die bogenoemde simptome in so ’n mate beleef dat dit jou daaglikse lewe ontwrig, moet jy jou dokter of ginekoloog gaan sien. Monitor jou emosionele simptome gedurende die res van die maand om kliniese depressie, algemene angsversteuring of ander geestesgesondheidsprobleme uit te skakel.

Jou dokter sal waarskynlik PMDV diagnoseer indien jou simptome sewe tot 10 dae voor die aanvang van jou menstruasie begin, as jy minstens vyf van die bogenoemde simptome toon en as die simptome kort ná die begin van jou maandstonde afneem. 

Jou dokter kan die volgende behandelings voorskryf:

  • Mondelikse voorbehoedmiddels
  • Antidepressante wat serotonienvlakke verhoog

Daar is ook ’n paar natuurlike rate wat jy kan toets:

  • Neem nagblomoliekapsules. Nagblomolie is ’n bekende natuurlike geneesmiddel vir PMS- en PMDV-simptome.
  • Sny jou inname van kafeïen, suiker en alkohol wanneer jou simptome opvlam.
  • Doen gereelde lae-impakoefeninge om jou stres- en angsvlakke te verlaag.
  • Probeer asemhalingsoefeninge en meditasie om negatiewe gevoelens te beveg en angstigheid te verminder. 
  • Voeg heelwat voedsame kosse by jou dieet, soos groen blaargroente en komplekse koolhidrate.

VRYWARING: 

Hierdie plasing is geskryf  om as riglyn te dien, en slegs die algemeenste tekens en simptome is aangeraak. Dit is nie veronderstel om jou dokter of ginekoloog se diagnose te vervang nie. Gaan spreek ’n professionele mediese persoon dringend indien jy vermoed dat jy aan PMDV, onderliggende depressie of ’n geestestoestand ly.

Hormonale veranderinge kan veroorsaak dat simptome van geestesversteurings soos kliniese depressie of angs net voor jou menstruasie toeneem. Let dus op jou gemoed en monitor hierdie simptome onder dokterstoesig.

Indien jou simptome jou daaglikse lewe ontwrig, behoort jy die volgende opsies met ’n betroubare dokter bespreek.

FOTO: iStock/vitapix

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kollageenaanvullings: Kan jou vel daarby baat vind?

Hier is die feite oor hierdie proteïen, die voordele daarvan en hoe jy dit by jou dieet kan insluit

Close