×
Skakel na Engels

Plascon help New Jerusalem- kinderhuis om skuiling vir meer kinders te bied

Plascon het gehelp om ’n nuwe ekohuis vir dié Johannesburgse kinderhuis te bou danksy hul donasie van verf en produkte

Plascon het gehelp om ’n nuwe ekohuis by die New Jerusalem-kinderhuis in Johannesburg te bou danksy hul donasie van verf en produkte. Die ekohuis sal as ’n veilige hawe vir wesies en ander kwetsbare kinders van oral in Gauteng dien.

 

Die New Jerusalem-kinderhuis is in 2000 gestig deur advokaat Anna Mojapelo, ’n vooraanstaande sakevrou en gerespekteerde gemeenskapsontwikkelaar, saam met haar suster Phina Mojapelo, ’n maatskaplike werker met jare se ondervinding van werk met kinders. Die kinderhuis sien tans om na 80 kinders tussen die ouderdomme van 0 en 16 jaar – van wie baie met MIV/vigs worstel. Die hoofdoel van die New Jerusalem-kinderhuis is om die welstand van die kinders te verseker, sowel as om vir hulle die bes moontlike toekomsgeleenthede te skep. Alle ontwikkeling by die kinderhuis wentel om die kinders se opvoeding en die beskerming van die omgewing waarin hulle leef.

 

Die omgewingsvriendelike huis sal ’n tuiste verskaf aan 30 van die 80 kinders wat op die oomblik inwoners van die kinderhuis is. Die huis is opgerig deur 28 herwinde vragskiphouers te gebruik. Die meeste van die materiale wat tydens die ontwerp- en bouproses gebruik is, is ook herwin. Die huis is nie net ekovriendelik nie, maar is opwindend uit ’n estetiese oogpunt en baie gerieflik om in te woon.

 

Adrienne Feldner van die kinderhuis het heelwat te sê gehad oor die groot verskeidenheid verwe wat Plascon geskenk het: “Die kinders is sowel geïnspireer deur die helder oranje en pers aksentkleure as gekalmeer deur die natuurlike, aardse skakerings in die huis. Om die waarheid te sê, hulle reaksie op die kleure is ’n goeie weerspieëling van die ongelooflike gedaanteverwisseling wat by hierdie kinders plaasgevind het sedert hulle in die nuwe huis ingetrek het. So te sê onmiddellik het hul selfbeeld verbeter, hulle het kalm geraak, saamgewerk en interaktief opgetree en dit lyk nou of hulle ’n optimisme uitstraal wat hulle nie vantevore besit het nie.

 

“Plascon se donasie het ’n groot rol daarin gespeel om glimlagte op hierdie kinders se gesigte te sit. Plascon het ’n spesiale belangstelling in die projek ontwikkel en persoonlike tyd geskenk om die projek te volvoer.”

 

Patrick Seager, die bestuurder van maatskaplike sakebeleggings vir Plascon, sê: “Ons is altyd op die uitkyk vir ’n geleentheid om die lewe van agtergeblewe kinders kleur te gee. Hierdie projek was ’n voor die hand liggende keuse omdat dit so klaarblyklik ondersteuning bied aan sowel kinders as die omgewing – ons is trots daarop dat ons ’n bydrae kon lewer.”

 

As jy van mense of instansies weet wat liefdadigheidswerk doen of onbaatsugtig ’n diens aan hul gemeenskap lewer, stuur gerus die inligting na goodhousekeeping@assocmags.co.za. Lewer ook gerus kommentaar oor dié ‘goeie dade’ in die ruimte hieronder.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dink soos ’n misdadiger om jou huis minder van ’n teiken vir diewe te maak

Insig in die manier waarop huisrowers dink, kan help keer dat jy en jou gesin teikens word

Close