×
Skakel na Engels

Perdry vir kinders: Wat ouers moet weet

Jou kind hou dalk van ponies teen haar slaapkamermuur, maar voordat jy jou tot perdrylesse verbind, leer haar dat perdry meer as net ’n prettige aktiwiteit is
perdry

Dis die begin van ’n nuwe skooljaar en miskien het jou kind besluit hy of sy wil iets nuuts probeer. Wat moet jy doen as die perdrygogga jou kind gebyt het? Voordat jy ’n besluit daaroor neem, of selfs ’n ponie as troeteldier oorweeg, lees hier:

  1. Hou in gedagte dat perdry altyd ’n gevaarlike (en duur) stokperdjie sal wees

    Selfs al begin jou kind op die kleinste, oudste ponie by jul plaaslike stalle ry, is dit belangrik om te onthou dat perde temperamentele wesens is. Elke ryskool sal jou ’n vrywaringsvorm laat teken. Maak vrede met die feit dat jou kind sal val en beserings opdoen, en begroot vir beskermende toebehore as deel van jou algehele uitgawes.

  2. Praat met ’n gesertifiseerde instrukteur

    Voordat jy jou tot ’n ryskool of lespaket verbind, praat met ’n paar instrukteurs oor of jou kind fisiek en emosioneel gereed vir lesse is. Hoewel rylesse op verskeie maniere vir kinders voordelig kan wees, moet hulle fisiek sterk genoeg wees en met moontlike roskammery en voorbereiding vir die rit kan help. Kinders moet ook emosioneel volwasse genoeg wees om nie in woede teenoor ’n perd uit te bars wanneer dinge nie werk soos hulle dit wil hê nie.

  3. Leer jou kind die begrip van verantwoordelikheid

    As jou kind met perdrylesse begin en dit regtig geniet, kan sy dalk begin smeek vir ’n eie ponie. Leer haar die ontsaglike verantwoordelikheid om vir so ’n groot dier te sorg. Laat haar die hele proses by die stalle waarneem, soos die skoonmaak van die stalle en dies meer. Jou kind moet alles verstaan wat met perdry verband hou, waaronder veiligheid en die versorging van ’n ponie. Jou kind hou dalk van perde op haar slaapkamermure, maar sy moet weet dat ’n regte perd ’n heel ander storie is.

  4. Besoek elke ryskool self voordat jy jou besluit neem

    Kyk sorgvuldig na die ryskole in jou omgewing. Neem tyd om navorsing te doen en vra baie vrae. Kyk na die veiligheidstandaarde en moontlike gevare voordat jy op ’n skool besluit. Laat jou kind tyd saam met perde deurbring voordat jy hom of haar wys hoe om te ry. Jou kind moet weet dat hoewel perde sagmoedig kan lyk, hulle nie goed reageer op harde geluide en skielike bewegings nie. Kyk hoe jou kind by perde reageer voordat jy ’n besluit neem.

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief