×
Skakel na Engels

Oppas vir die wind!

Augustus is berug vir stormagtige winde wat in ’n ommesientjie verwoesting kan saai.

“Ons het onlangs in die nuus gesien hoe die wind ’n groot vragmotor naby die Hugenote-tonnel naby die Paarl omgewaai het. Wind is dus beslis nie ’n grap nie!” sê Elmarie Twilley, woordvoorder van die versekeraar Virseker. “Die meeste mense sien wind op die uiterste as ’n ongerief, maar dit kan groot skade aanrig aan jou huis, tuin en motor en selfs noodlottige gevolge hê.”

Sterk winde verander gereeld van rigting en intensiteit en kan swak plekke in en om jou huis maklik blootlê. Volgens die AA moet motoriste ook altyd paraat wees vir ’n rukwind. Dit kan selfs die mees ervare bestuurders onkant vang.

 

Virseker bied hierdie nuttige wenke om jouself tuis, sowel as op die pad, veilig te hou wanneer Augustuswinde hul opwagting maak:

Om jou huis:

  • Dak: Los panele, dakteëls, toestelle wat op die dak gemonteer is, deurgeroeste geute en skadunette kan maklik deur die wind in vreemde vlieënde voorwerpe verander word. Maak dus dubbel seker dat dit deeglik vas is.
  • Dakstutte: Veral ou dakstutte gee makliker in, so maak seker dat alle pilare, pale en balke stewig is. Moenie jou lapa en afdakke vergeet nie!
  • Mure: Bros of gekraakte mure kan deur die wind omgestoot word en ernstige skade en/of beserings tot gevolg hê. Gaan alle mure in en om jou huis na, wees op die uitkyk na groot barste en krake en doen betyds die nodige herstelwerk.
  • Plante: Veral ou, swaar takke is ’n gevaar – ’n rukwind kan maklik die tak breek en grond toe slinger. Menige huis, motor en elektriese heining het al só in die slag gebly. Hou daarom bome en struike rondom jou huis netjies teruggesnoei.
  • Vure: Wind en vuur is ’n dodelike kombinasie. Wees uiters versigtig wanneer jy vuur maak, of wanneer daar op ’n winderige dag ’n brand naby jou is en wees bewus van kooltjies wat kan wegwaai net om iewers anders weer opnuut vlam te vat.
  • Vensters: Selfs ’n ligte briesie kan deur ’n oop venster jou gordyne rondpluk en kosbare ornamente laat omkantel, Maak dus seker al die vensters is heel en sluit dig. Indien jou omgewing berug is vir sterk wind, oorweeg dit dalk om spesiale windblinders te laat installeer.

 

Op die pad:

  • Ken die gevaargebiede: Daar is ’n paar spesifieke plekke waar die risiko van sterk winde hoër is. Leer jouself om ’n ruk-en-pluk van die wind te verwag op lang oopgestrekte paaie en wanneer jy oor brûe of verby gapings tussen geboue ry.
  • Oorkompensasie: ’n Mens is geneig om teen die wind in te stuur. ’n Hoë voertuig wat van voor af kom, blokkeer dan die wind en jy kan maklik in die aankomende verkeer se baan opeindig.
  • ’n Ferm greep: ’n Sterk rukwind kan jou sommer so van koers af waai. Hou liefs albei hande op die stuurwiel en ry ’n bietjie stadiger.
  • Waentjies en woonwaens: Gebruik ’n voertuig wat swaar en sterk genoeg is vir die vrag wat dit moet dra of sleep. Let ook op na hoe jy jou waentjie of woonwa pak, want ’n topswaar sleepding is besonder moeilik om in sterk wind te beheer.
  • Bybehore: Onthou ook om ’n stabiliseerder vir jou waentjie of woonwa te installeer om jou tydens winderige ritte daai ekstra bietjie gemoedsrus te gee.
  • Vragte: Maak seker dat enige vrag behoorlik vas is. ’n Seil wat rondwapper, kan ook maklik deur die wind afgeruk word en dan ander motoriste se sig erg belemmer.
  • Struikelblokke: Wees op jou hoede vir ontwortelde bome, takke en ander voorwerpe wat dalk in die pad mag lê, veral wanneer jy snags bestuur.
  • Sigaretstompies: Wegholveldbrande is sinoniem met winderige tye. Wees dus veral nou versigtig met sigaretstompies of vuurhoutjies.

Hou net hierdie eenvoudige wenke in gedagte en jy het reeds ’n baie beter kans om die wind te uitoorlê. “Hierdie soort onvoorsiene teëspoed is presies hoekom ’n mens versekering uitneem,” sê Twilley. “Lees maar die fynskrif en maak dubbel en dwars seker dat jou huis, huis se inhoud, motor en woonwa voldoende verseker is teen hierdie soort rampe.”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Verbrand kilojoules sonder om te oefen!

Close