×
Skakel na Engels

Op reis met Embeth

‘Ek wil júlle lewe hê,’ het die winkelbestuurder gesê. Ek kon begryp wat sy dink terwyl sy twee middeljarige toeriste voor haar sien staan het wat die son op ’n idilliese eiland in Florida kom opsoek het. Ek het vir haar geglimlag. ‘Nee, jy wil nie régtig ons lewens hê nie,’ het ek geantwoord. ‘Want hierdie is die spesiale reis van twee ouers wat hul enigste kind verloor het.’ DEUR PETRO BOSMAN

 

 

Een maand na daardie tragiese dag wat ons lewens vir altyd verander het, het ek en my man, Jan, aan ons reis begin beplan. Ons was dringend op soek na nuwe sin, en daarom het ons besluit om op ’n reis te gaan wat ons na plekke sou neem waar ons nog nooit voorheen was nie.

Dit sou nie ’n reis wees om te vergeet nie, want ons sal nooit-ooit kan vergeet nie. Ook nie ’n reis om heel te word nie, want ons sal nooit weer heel of dieselfde kan wees nie. Dit was allermins ’n reis om te ontsnap, want ons sal nooit van ons hartseer kan emigreer nie. Dit was egter ’n reis om afstand en ’n vars, nuwe perspektief op ons lewens te verkry, om verskillende dinge te ervaar, nuwe mense te ontmoet en op die ou end nuwe herinneringe te skep.

Ons dogter het ons reis op ’n manier moontlik gemaak. Ons het die geld van ’n studiepolis wat ons vir haar uitgeneem het toe sy nog ’n baba was, gebruik om na die plekke waarvan ons nog altyd net gedroom het, te gaan. En ons het Embeth saam met ons geneem, nie net in ons harte nie, maar ook op ’n tasbare manier: my man het een van haar pette gedra (ja, pienk!) en ek het haar gunsteling-serp met die kopbeen-patrone op om my nek gedra.

Ons was verlede jaar rekrute op die uitdagende oorlogsveld – die een waar jy gekonfronteer word met die grootste verlies wat enigiemand kan ervaar: die dood van jou kind. Op Maandag 1 November 2010 het ons briljante 13-jarige dogter Embeth die onomkeerbare besluit geneem om haar eie lewe te beëindig.

Sy was in graad 7. Aan die begin van die derde kwartaal het ons agtergekom dat Embeth skielik haar eetlus verloor het. Van haar onderwysers het ons ook gekontak omdat hulle oor haar bekommerd was. Ons het haar na ons huisdokter geneem en later is sy na ’n kindersielkundige verwys wat depressie gediagnoseer het. Aan die begin van September is Embeth in ’n spesiale kliniek vir tieners opgeneem. Sy kon ’n maand later huis toe kom, en vyf weke later was sy dood.

Na Embeth se selfdood (die term ‘selfmoord’ laat dit soos ’n misdaad klink) was ek en Jan platgeslaan deur ons eie tsoenami van skok, woede en gevoelens van verraad en skaamte. Ja, ons pragtige, slim dogter het haar lewe geneem net weke nadat ’n multidissiplinêre span van sielkundiges in die kliniek ons verseker het sy sou oukei wees, dat sy “net ’n verwarde tiener was wat sterker grense nodig gehad het”. Syself het ons oortuig dat sy beter en sterker begin voel het en dat alles stadig maar seker na normaal begin terugkeer het.

Op een of ander bomenslike manier – danksy die menslike engele wat na ons uitgereik het – het ons daarin geslaag om die annus horribilis van ons lewe te oorleef en verlede Desember, net meer as ’n jaar na Embeth se dood, het ons op ’n vliegtuig na Amerika geklim.

Ons het gesmag na die anonimiteit wat die reis ons sou bied – waar ons tussen ander mense kon wegraak wat niks van ons of ons verlies geweet het nie. By die huis moes ons nie net ons eie hartseer probeer verwerk nie, maar is ons ook daagliks gekonfronteer met wat ander mense van ons “situasie” dink en hul menings (goed bedoeld of nie) oor hoe ons teenoor ons verlies moet reageer. Ons was siek en sat vir al hierdie sogenaamde “kenners”. Ons was moeg vir al die bekende plekke wat ons met bittersoet herinneringe treiter. Ons wou net van die alledaagse lewe ontsnap. In daardie verafgeleë plekke het ons mense ontmoet en dinge ervaar wat ons nuwe perspektiewe gegee het. En miskien het ons ook ander mense met ons storie geraak.

 

Op vlieg ’n nuwe toekoms tegemoet

 

Op ons vlug uit Kaapstad het ’n jong Nederlandse student, Caroline, wat in Florida studeer, langs my man gesit. Sy’t hom vertel sy het pas drie maande lank walvisse in die Suid-Kaap bestudeer. Sy is ’n wêreldreisiger wat besig is met haar meestersgraad in marine-biologie in Florida. Sy het sterre in haar oë en glo vas sy kan die wêreld verander. Op my sleutelhouer is ’n foto van ’n 13-jarige meisie wat ook sterre in haar groot, bruin oë gehad het. Embeth se verskriklike siekte het haar egter van haar drome en ’n belowende toekoms beroof … en ook ons toekoms gesteel. En ja, daar sit ons toe op ’n vliegtuig in die wye hemelruim, op pad na nuwe herinneringe wat so verskillend is van dit waarop ons gehoop het.

Ons eerste stilhouplek was Florida. Hulle noem dit die Sunshine State, en na ’n lang vlug na Miami het ons hemel-op-aarde toe gery – na ’n plek met die naam Sarasota, waar die winters sag en strelend is en jy op lang, wit strande kan stap met seevooëls wat op die sand rondskarrel en in die branders baljaar.

Sarasota is ’n stad wat vanaf die vasteland na eilande oorspoel. Elke eiland word met ’n brug aan die vasteland en aan mekaar verbind. Brûe … soveel brûe is met Embeth se dood vernietig, so baie nuwe brûe moet nou gebou word.

Op dag drie van ons vakansie was ek en my man besig om in ’n klein winkeltjie in Sarasota rond te snuffel toe ’n vrou ons in Afrikaans met mekaar hoor praat het. Sy’t ons vertel sy is ook ’n Kapenaar wat nou in Sarasota saam met haar man en hul twee kinders woon. “Het julle kinders?” het sy gevra. Dis ’n doodnormale vraag, maar vir ons is die antwoord nie meer normaal nie. “Ja … maar ons dogter is oorlede.” Wat anders kan jy sê? Dis die vraag wat ek myself so dikwels gedurende die afgelope paar maande afgevra het. Wat ook al gebeur, jy sal altyd ’n ouer bly. Sedert Embeth dood is, het ek die vreeslikste gevoel van mislukking ervaar – dit treiter my om elke hoek en draai dat ek klaarblyklik nie eens my kind behoorlik kon grootmaak of teen gevaar beskerm nie. Diep in my hart weet ek dis ver, ver van waar – dat haar siekte, en nie my ouerskap nie, tot haar dood gelei het – maar ek kan dit steeds nie verhelp nie om na gelukkige gesinne te kyk en te wonder, “Hoekom ons? Waar het ons gefaal?”

Ons het Florida se eie Venesië ontdek. Dit was daar, terwyl ons op die pragtige strand gestap het, dat ons ’n foto van ’n vrou met die naam Kristin raakgesien het. Dit is in die sand staangemaak en Kristin se gesin het ’n kort nota daarby  aangeheg waarin vertel is dat sy onlangs oorlede is. Die gesin het besoekers gevra om ’n skulp te gaan optel en langs die foto neer te sit – ’n klein, maar opregte gebaar om iemand se lewe te vier. Ek het aan Embeth gedink, en aan die dag toe ons haar “sterstof” in die see by Llandudno gaan uitstrooi het. Op daardie dag het die kind wat die middelpunt van ons bestaan was, van die kosmos deel geword. En daar, op ’n pragtige strand in Amerika, het die verlies van ’n Amerikaanse gesin wat ons nooit sal ken nie, ons aan mekaar verbind. Want hartseer breek grense af. Hartseer is universeel. Hartseer is nie kieskeurig nie.

Vanweë ’n misverstand tusen my man en die reisagent het ons ’n ekstra dag in Florida gehad. Ons het besluit om dit op Anna Maria-eiland by Sarasota deur te bring. Ons het vir Suzette, die vrou wat so graag die “glansryke” lewe wou hê wat sy gedink het ons het, daar in een van die winkeltjies leer ken. Sy het trane in haar oë gekry toe ons haar vertel het ons lewe is inderdaad nie so wonderlik soos sy dink nie. Sy het ons vertel sy en haar man het so vasgevang geraak in elke dag se roetine dat hulle drie jaar laas saam op die strand, wat skaars 100 meter van haar winkeldeur af is, gaan stap het. Ons het haar net weer laat besef hoe vlietend die lewe is, en sy’t ons belowe hulle sou dieselfde middag nog strand toe gaan.

Op dieselfde Saterdag het ’n Kersfees-optog in Anna Mariaeiland se hoofstraat afbeweeg. Die mense in die kleurryke prosessie het stringe krale – groen, wit en rooi – en verskillende soorte lekkergoed vir die mense op die sypaadjie gegooi. Ek het van die lekkergoed in die straat gaan optel en met die terugstap het my oog op ’n verweerde man geval wat alleen op ’n bank gesit het. Iets het my aangepor om na hom toe te stap en vir hom van die lekkergoed te gee. Later die dag het ek en my man op die kaai gaan stap en dieselfde man op ’n ander bankie sien sit. Hy’t my as “the candy lady” herken en ons het met hom begin gesels. Sy naam is Mark, het hy gesê, en hy is haweloos. Hy het sy werk verloor toe die skeepsboumaatskappy waarvoor hy gewerk het, al sy werksaamhede na Noord-Carolina verskuif het. Sy seun is in die oorlog in Afghanistan dood. En toe het hy iets ges. waarmee ons so ontsettend kan vereenselwig: “Ek het opgehou glo toe my seun dood is.” Ons het hom van ons dogter vertel. Ons het hom aangemoedig om nuwe sin in die lewe te soek, wel wetende dat dit een van die moeilikste dinge is om na ’n verlies te vermag. Ek onthou hoe ek met die wegstap na Mark teruggekyk het: hy het daar op die bankie gesit, met sy kop tussen sy hande. Die lewe het ook vir h.m ’n wrede dwarsklap gegee.

 

Opsoek na die lig

 

Spikkels sonlig ons volgende bestemming was San Francisco, “where the minority is the majority”, soos ons busbestuurder ges. het. Dit was nog altyd my droom om eendag op die Golden Gate Bridge te loop. Di. brug is sonder twyfel ’n ingenieursprestasie, maar dis ..k die plek waar duisende mense al na hul dood gespring het sedert die brug in 1937 voltooi is. Naby die beginpunt van die brug is daar ’n ironiese padteken: “No U-turn”. Vir die verkeer beteken dit een ding, maar vir desperate mense wat beoog om hul eie lewens te neem, beteken dit totaal iets anders. Embeth is op haar lewensbrug ook gekonfronteer met ’n “No U-turn”-bordjie.

Ons avontuur het ons ook na die Muir Woods buite San Francisco geneem. Dis daar waar spikkeltjies sonlig hul weg straal deur die donker, ineengestrengelde blaredak wat die woud se indrukwekkende redwoods – die hoogste lewende goed op aarde − skep. Ek het vir die kamera geglimlag terwyl ek probeer het om ’n massiewe redwood te omhels – natuurlik onmoontlik, want di. reuse is hopeloos te groot. Terwyl ek na my man agter die lens gekyk het, het ek besef hoeveel nader ons aan mekaar gegroei het in ons soeke na die sonlig wat deur die donkerte beur.

Vir talle besoekers aan San Francisco is die welbekende Alcatraz-gevangenis ’n moet op hul reis – en dit was ook vir ons. “When you break society’s rules, you go to prison. But when you break prison’s rules, you go to Alcatraz,” vertel hulle jou op die oudiotoer. Op die verlate eiland loop jy in die voetspore van berugte misdadigers – gevangenes soos Al Capone, Robert Stroud (die Birdman van Alcatraz) en Alvin “Creepy” Karpis. Daar was geen uitkomkans vir jou as jy eers daar opgesluit was nie. Selfs die misdadigers wat dit oorweeg het om te ontsnap, het geweet dat die koue seewater, seestrome, haaie en moontlike verdrinking in hul pad na vryheid gestaan het.

Opsluiting op Alcatraz was veral wreed omdat die gevangenes San Francisco, net sowat 2 km verder, kon sien. Op Oujaarsaand kon hulle die vuurwerke sien en mense se gelag hoor, maar daar was geen manier hoe hulle daarin kon deel nie.

Terwyl ons op die terrein rondgestap het, het ek ’n klein wit veertjie gesien wat tussen die fyn draadwerk voor ’n verweerdevenster vasgesit het. My oë soek gedurig na veertjies, veral wittes, want dis vir my ’n simbool van ons dogter se kosbare lewe − en dis asof sy deur veertjies met ons praat. Die verdwaalde veertjie het my aan ons briljante kind laat dink en aan die siekte wat haar gevange gehou het. Ons kan onsself nie eens indink hoe sy moes gevoel het nie – vasgekeer in ’n donker gat terwyl sy uitkyk op die skynbaar sorgelose lewe van haar vriende en nie in staat is om dieselfde vreugde te ervaar nie. Vanuit haar lens op die lewe was daar net een uitweg uit haar persoonlike Alcatraz.

 

Sneeu-engele

 

Vir die laaste deel van ons reis het ons per trein tot in Seattle gery en van daar is ons per bus na Vancouver waar my swaer, Gerhard, en sy vrou, Ronell, ons by die stasie ontmoet het. Hulle het twee volwasse kinders en bly al sowat 15 jaar lank in Kanada. Ons drie het nog altyd daarvan gedroom om eendag vir hulle in hul nuwe huis op die eiland te gaan kuier. Maar nou was dit net die twee van ons. Die belangrikste lid van ons gesin was nie saam nie. Kanada se skoonheid het ons asems weggeslaan: bokkies wat skamerig in Nanaimo – op Vancouver-eiland, waar ons familie woon − se woonbuurte rondtrippel; die prik van koue, fris lug op ons wange; winkelrakke wat opgestapel is met al die wonderlike goed wat geld kan koop; en dan natuurlik: eggnog. Ek was gaande oor die drankie wat tradisioneel oor Kerstyd in Amerika en Kanada te koop is, maar nie juis in Suid-Afrika bekend is nie. Ek het gewens ek kon my kinderlike opgewondenheid daaroor met my dogter deel. Ek het ook hopeloos verlief geraak op Vancouver-eiland se sagtheid. Nie net die sagtheid van die landskap nie, maar ook in die manier waarop die mense ons gehanteer het.

Gedurende ons kuiertjie daar het ons ’n Kersete by ’n nabygele. kerk bygewoon. N. die heerlike ete het die kinders ons verras met ’n Kersspel met Josef, Maria, die baba Jesus, engele, skaapwagters en die Drie Wyse Manne – die hele kaboedel.

Dit kon op enige plek ter wêreld gewees het. Dit was so bekoorlik en vol pret en tog, te midde van al die feestelikheid, het ek gevoel hoe Hartseer na my toe aangesluip kom en homself op my skoot tuismaak met sy hande om my nek geklem. Ek kon nie asemhaal nie. Ek het na die Kanadese engeltjies met die silwer en goue krone op hul koppies gekyk en in my gedagtes het ek ’n dogtertjie met ’n olyfkleurige vel en ’n goue stralekrans van engelhare op haar donker koppie gesien. Dit het soos nou die dag gevoel dat Embeth klein was. Waarom moet kinders grootword? Waarom moes Embeth grootword en so siek raak dat sy nie meer wou lewe nie?

Ja, ek weet maar alte goed jy kan nooit van jou hartseer wegvlug nie. Dit agtervolg jou, tot in die uithoeke van die aarde. Daar is baie dinge waarvan jy wel kan ontsnap – jy kan emigreer vir beter geleenthede vir jou en jou gesin of omdat jy iets anders in die lewe soek, maar jy kan nie ’n knapsak oor jou skouer gooi en jou hartseer tot siens soen nie. Dis ’n stilswyende vennoot, ’n konstante kameraad. Selfs by ’n Kersspel in Kanada.

Op Oukersdag het ons sneeuklere aangetrek en opgery na Mount Washington, waar van die swaarste sneeuneerslae wat nog op die eiland geval het, die vorige jaar aangeteken is. Toe ons daar kom, het ons egter gehoor die kans op sneeu is skraal omdat die weerstoestande ongunstig was. En toe, in ’n betowerende oomblik, het die eerste sagte sneeuvlokkies uit die lug gedartel. Ek weet ek’s nou al mooi groot, maar dit was die eerste keer in my lewe dat ek sneeu gesien en gevoel het. Ek het weer ses jaar oud gevoel. Ons het in binnebande teen die sneeuhellings afgejaag en skielik kon ek myself weer hoor lag.

Ek kon my man ook hoor lag. Ons het gelag asof ons hoegenaamd geen hartseer in die lewe ken nie. En ’n paar uur lank kon ons weer net kinders wees wat in ’n wonderwêreld van sagte, wit sneeu speel. Suzette-van-Florida het vir my gevra om iets te doen as ek in Kanada kom: ek moes plat op my rug in die sneeu gaan lê en ’n sneeu-engel maak en dan vir haar die foto per e-pos stuur. Ek het in die sneeu gaan lê, Jan het ’n foto geneem en sy’t haar foto gekry.

 

In 2010, net agt weke na Embeth se dood en danksy die omgee van wonderlike vriende in Suid-Afrika, het ons die eerste, ergste Kersfees van ons lewens sonder ons kind oorleef. Gedurende hierdie tweede Kersfees in Kanada het ons weer deel van ’n regte familie gevoel. Ons was tussen mense wat niks van ons verwag het nie, wat ons nie verkwalik het omdat ons nog nie voorheen by hulle gaan kuier het nie, wat geen vrae gevra het nie en die aarde probeer beweeg het om ons tuis te laat voel. Ons sal dit nooit, ooit vergeet nie.

En skielik was dit die begin van ’n splinternuwe jaar. Ons het op die dek van ons familie se huis op Vancouver-eiland gestaan en oor die huise se dakke uitgekyk op die baai wat in die verte geglim het. Ek en Jan het mekaar styf vasgehou. Dit was merkwaardig om te besef dat ons so ver gereis het en soveel oor die afgelope maande oorwin het. Dit was onnoembaar hartseer om op die drumpel van die tweede jaar sonder die liefde van ons lewens te staan.

 

Bittersoet waarhede

 

Op die dag dat ons na Suid-Afrika teruggevlieg het, het Gerhard ’n oproep van sy jongste dogter, ’n helikoptervlie.nier in Kanada, ontvang. Sy het haar ouers gebel om te vertel dat die helikopter wat sy gevlieg het, neergestort het. Ek was geskok oor die gevoel van afguns wat ek ervaar het: ten minste kon sy nog haar ouers bel. Ten minste was sy ongedeerd. Toe .ns dogter daardie allervreeslike besluit geneem het, wou sy ons nie meer bel nie.

Dis vreeslik om dit te erken, maar op die vliegtuig terug na Suid-Afrika, selfs na ons wonderlike reis saam, het ek gesit en dink ek sal nie omgee as ons vliegtuig ook neerstort nie. Dan sou ons nie meer elke dag met hierdie verterende pyn in elke vesel van ons liggame hoef saam te leef nie. Maar ons vliegtuig het nie geval nie. Op ’n warm Vrydagaand het ons weer ons voordeur oopgesluit en die helder elektriese lig het oor ons gewone lewe gespoel. Die huis het treurig gevoel. Dalk kan selfs huise ook verlang. Ek het na my man gedraai en vir hom gevra, “En wat nou?”

Ja, wat nou? Ons het soveel dinge geleer sedert daardie Maandagaand 18 maande gelede. Ons het geleer dat die lewe altyd ’n misterie sal wees, maak nie saak h.. slim die mensdom word nie. Ons het geleer dit maak nie saak hoe hard jy probeer om iemand te help nie − as die lewe iemand se grootste vrees is, word die dood ’n gesogte realiteit. Ons het geleer dat die lewe geen waarborge bied nie. “I’m not afraid of the unknown. It’s the known I fear,” het ons dogter geskryf.

Ons het ook die bittersoet waarheid van Kay Redfield  Jamison se woorde in haar boek An Unquiet Mind (Picador) geleer: “The disease that has, on several occasions, nearly killed me, does kill tens of thousands of people every year: most are young, most die unnecessarily, and many are among the most imaginative and gifted that we as a society have.”

Ons het geleer dat sommige mense altyd onbedagsame en selfs wrede dinge vir ons sal sê, want hulle sal nooit kan verstaan nie. En die waarheid is dat ons ook nie wil hê hulle moet verstaan nie, want net mense wat soos ons verloor het, kan regtig verstaan hoe dit voel.

Ons het geleer dat die koerant wat vir ons koelbloedig laat weet het “nuus is nuus” toe ons hulle gesmeek het om nie die storie oor ons dogter se dood te publiseer nie, nooit sal kan verstaan dat Embeth se dood altyd die hoofstorie van ons dag sal wees nie.

Ons het geleer die lewe het meer omgee nodig, en mense wat net in stilte shiva sit bymekaar.

Ons het ook die pyn leer ken van onsigbaar word, van mense wat ons vermy omdat hulle nie weet wat om vir ons te sê nie. Ek weet nou iemand wat net sou sê “Ek weet nie wat om te sê nie,” beteken meer vir ons as wanneer mense hoegenaamd niks sê nie. Ons het geleer hoe dapper – en ook hoe ongelooflik kwesbaar – ouers na die dood van ’n kind word.

Ons het geleer hoe maklik mense vergeet, hoe vinnig ’n nuwe krisis die vorige een opsystoot.

Maar bowenal het ons geleer dat die gewone, alledaagse lewe ons grootste reis en ons grootste uitdaging is. Dat selfs ’n klein wit veertjie ons deesdae kan troos, so asof dit ’n engelagtige, donsige geskenkie van Embeth is.

 

* Sedert hierdie artikel in Mei 2012 in Goeie Huishouding gepubliseer is, was Petro betrokke by stigting van die Ithemba Foundation vir bewusmaking van depressie. Om meer uit te vind, besoek http://ithembafoundation.org.za 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 redes om te bly hoop

Moet nooit hoop verloor nie. Ons het vyf sêgoed vir jou omdat ons HOOP jy sal ’n lieflike week hê!

Close