×

Ontrommel en skenk aan The Empty Shop

Jy kan ontrommel en jou deel vir liefdadigheid doen in Gauteng
empty store

Wil jy huis skoonmaak en ontslae raak van ongewenste klere, boeke en speelgoed, maar nie seker waarheen om te gaan nie? Lesers in Johannesburg, hierdie is vir julle! Die bekroonde The Empty Shop, wat van Saterdag 29 Oktober tot Sondag 20 November vir ’n derde jaar na Sandton City terugkeer, is ’n goeie manier om iets vir liefdadigheid te skenk en ’n verskil te maak aan die vooraand van die feestyd.

The Empty Shop is in die Checkers Court geleë en gee winkelbesoekers die geleentheid om klere, bykomstighede, kinderboeke, speletjies en speelgoed aan ’n waardige saak te skenk.

Die konsep is eenvoudig: skenk, stileer en maak leeg. Van die publiek tot modebloggers, stiliste en selebs, almal word genooi om gebruikte klere by te dra wat dan daagliks op mannekyne gestileer word met treffende voorkomste. Die enigste vereiste is dat die klere skoon en in ’n draagbare toestand moet wees. Die winkel sal elke aand leeggemaak word en gereed wees om die volgende dag nuwe skenkings te ontvang.

Selfs plaaslike selebs neem deel: Rolene Strauss, Jen Su, Maps Maponyane, Azania Mosaka, Anele Mdoda, Lucas Radebe, Thando en Vanya Mangaliso en Jason Greer het almal ag geslaan op die oproep om te skenk.

The Empty Shop in Sandton City, ’n vennootskap met McCann Johannesburg, het tot nou toe 8,3 ton klere bymekaargemaak en in 2014 ’n wêreldrekord opgestel (3 ton) vir die meeste geskenkte klere. Verlede jaar is meer as 5 ton klere ontvang, wat weer eens ’n wêreldrekord was.

Alle wins sal aan HospiceWits geskenk word, wat gehalte- palliatiewe sorg en ondersteuning aan gemeenskappe in Johannesburg en Soweto bied. Deur HospiceWits word pasiënte verseker van die beste lewensgehalte, waardigheid en sterkte deur programme van tuisgebaseerde palliatiewe sorg en twee binnepasiënteenhede.

The Empty Shop sal gedurende Sandton City se winkelure oop wees van 29 Oktober tot 20 November: Maandae tot Saterdae van 09:00 tot 20:00 en Sondae van 09:00 tot 18:00.

Vir nog inligting, besoek www.sandtoncity.com, volg @SandtonCity op Twitter of @Sandtonista op Instagram, besoek die Facebook-blad www.facebook.com/sandtoncity of gebruik die huts #TheEmptyShop om hulle op sosiale media op te spoor.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Komberse vir liefdadigheid

Die organiseerders van 67 Blankets for Nelson Mandela Day, wat met trots deur Cell C ondersteun word, wil teen April...

Close