×
Skakel na Engels

“Ons het 10 verskillende rooi lipstiffies onder R180 getoets. Dís hoe dit op twee verskillende veltone lyk.”

Pak elke dag met helderrooi lippe aan!
rooi lipstiffies

Dit kan baie oorweldigend wees om ’n lipstiffie in die regte skakering van rooi vir jou veltoon te kies wanneer jy nie ’n benul het waarna jy soek nie. Die goeie nuus is dat ons al die harde werk namens jou gedoen het. Die GH-spanlede Ashanté Dlamini-Mthembu en Gaynor Siljeur het 10 verskillende lipstiffies uitgetoets om jou te help om jou perfekte skakering te kry.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Handelsnaam: Beauty Treats Dainty Matte Lipstick in 01 

Prys: R34,95, Dis-Chem

Ashanté: Hierdie produk is so te sê kleurloos, selfs nadat ek ’n hele paar lae aangewend het, maar dit sal ’n wonderlike lipbalsem vir elke dag maak.

Gaynor: Die produk voel baie droog op my lippe en dit voel nie asof die kleur lank gaan aanbly nie.

2. Handelsnaam: Wet n Wild Mega Last Lip Colour in Red Velvet

Prys: R49,95, Clicks

Ashanté: Die lipstiffie se aanwender is nie heeltemal so stewig soos van die ander nie, maar die kleur is verrassend helderder as wat ek verwag het.

Gaynor: Ek is nie so beïndruk met hierdie skakering nie. Die lipstiffie is nie glad op my lippe nie en ek moes ’n hele paar lae aanwend voordat die kleur treffend genoeg was. 

3. Handelsnaam: Essence Matt Matt Matt Lipstick in Kiss Me If You Can

Prys: R49,95, Clicks

Ashanté: Dié een voel wonderlik, en ek hou van die dieprooi skakering teen my vel.

Gaynor: Ek is dol oor die diep skakering en die gladde gevoel op my lippe. 

4. Handelsnaam: L.A. Girl Matte Flat Velvet Lipstick in Gossip

Prys: R49,95, Dis-Chem

Ashanté: Hierdie lipstiffie het ’n romerige afwerking en ’n taamlik sagte kleur. Dit is ideaal vir ’n subtiele grimeervoorkoms.

Gaynor: Dié lipstiffie voel te aangeplak vir my, en ek moes dit twee maal aanwend om ’n behoorlike rooi skakering te kry.

5. Handelsnaam: Essence Ultra Last Instant Colours Lipstick in Cherry Sweet

Prys: R49,95, Clicks

Ashanté: Die produk lyk en voel meer soos ’n lipbalsem as ’n lipstiffie. Ek verkies ’n kleur wat ’n bietjie meer treffend is.

Gaynor: Hierdie produk voel glad en bevogtigend op my lippe. Vir my is die rooi kleur nie intens genoeg om dit ’n lipstiffie te noem nie.

6. Handelsnaam: Catrice Cosmetics Ultimate Lip Colour in Red My Lips

Prys: R79,95, Dis-Chem

Ashanté: Die skakering is nie so helder soos wat dit op die verpakking lyk nie. Dit voel glad op my lippe.

Gaynor: Dit voel glad en ek is dol oor hoe dit by my veltoon lyk.

7. Handelsnaam: Yardley Stayfast Liquid Matte Lip Vinyl in Engine Red

Prys: R95,95, Clicks

Ashanté: Dit is ’n ongelooflike helder lipstiffie, maar ek verkies iets wat ’n bietjie vogtiger is – ek het dit baie droog gevind. Dit het nogal moeilik afgekom, so ek beveel aan dat ’n mens ’n Vaseline-salf as basis gebruik.

Gaynor: Dié helderrooi skakering lyk goed by enige veltoon en dit hóú; maak jou dus reg vir gevlekte lippe. 

8. Handelsnaam: Rimmel The Only 1 Lipstick in Best of the Best

Prys: R115, Dis-Chem

Ashanté: Hierdie lipstiffie het ’n lekker gladde, glansende afwerking en een lagie het genoeg kleur verleen.

Gaynor: Dit het ’n wonderlike dieprooi kleur en voel lekker en bevogtigend op my lippe. Ek is dol oor hierdie skakering.

9. Handelsnaam: Maybelline Superstay Matte Ink Liquid Lipstick in Heroine

Prys: R159, Zando

Ashanté: Dié produk is te taai en ek sal beslis ’n lipbalsem voor aanwending aanbeveel. Dit is baie helder teen my veltoon en het nogal moeilik afgekom. 

Gaynor: Dit is ’n mooi helder kleur vir ’n aand uit, maar dit is meer pienk as rooi. Dit is ’n bietjie te taai vir my. 

10. Handelsnaam: L’Oréal Paris Color Riche in Retro Red

Prys: R179,95, Dis-Chem 

Ashanté: Dié spesifieke skakering lyk pienk teen my vel en voel ’n bietjie te aangeplak.

Gaynor: Dit was nie die gladste afwerking op my lippe nie, maar het ’n lieflike mat kleur.

Hier is nog vyf skakerings tussen R290 en R335 wat ons probeer het:

1. Handelsnaam: Urban Decay Vice Liquid Lipstick 714

Prys: R292,55, Foschini

Ashanté: Dit is nie die helderste kleur nie, ten spyte van die voorkoms op die verpakking. Dit voel ook nogal olierig met aanwending, maar na ’n rukkie word dit droog. 

Gaynor: Die skakering is nie so diep soos wat ek verkies nie, maar dit het glad aangewend en my lippe voel bevogtig.

2. Handelsnaam: Clinique Pop Lacquer Lip Colour + Primer in Lava Pop

Prys: R295, Clicks

Ashanté: Dit het ’n baie taai, glansende afwerking, en op die verpakking lyk dit meer gepigmenteerd. Dit het my lippe egter lieflik getint. 

Gaynor: Dit produk is te blink vir my. Ek kan reeds voel hoe my hare op ’n winderige dag aan my lippe plak!

3. Handelsnaam: M.A.C Liptensity Lipstick in Life’s Blood

Prys: R300, M.A.C

Ashanté: Dié produk het ’n lekker voedende romerigheid. Die skakering is hoogs gepigmenteerd en laat my lippe voller lyk. Ek is gaande oor die dramatiese voorkoms.

Gaynor: Hierdie produk voel ONGELOOFLIK op my lippe. Dit het ’n dieprooi skakering wat wonderlik by my veltoon pas.

4. Handelsnaam: Smashbox Be Legendary Liquid Lip in Bad Apple

Prys: R332,90, Foschini

Ashanté: Hierdie produk het ’n wonderlike pigment. Aanvanklik voel dit taai en plakkerig, maar as dit eers droog is, het dit ’n lieflike dieprooi mat afwerking.

Gaynor: Dit wend baie glad aan en het ’n lieflike, ryk ondertoon. Dit is beslis een van my gunstelinge.

5. Handelsnaam: Smashbox Always On Liquid Lipstick in Miss Conduct

Prys: R332,90, Foschini

Ashanté: Dié lipstiffie het ’n wonderlike pigment wat baie maklik aanwend – een lagie was heeltemal voldoende. Die produk verleen ook ’n gladde, voedende afwerking wat die hele dag hou.

Gaynor: Dit is my gunsteling-skakering! Die diep, donker kleur steek wonderlik af teen my ligte vel. 

FOTO: iStock/PhonlamaiPhoto

LEES OOK:

“Ek het 10 verskillende SA winkels se nr. 12-jeans aangepas. Dís hoe dit gelyk het”

Bruin lipstiffie is hoogmode: Hoe om dit te dra

5 wenke vir volmaakte lipstiffie, keer op keer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Met monochrome grimering benodig jy net een produk om fantasties te lyk

Een kleur is al wat jy nodig het!

Close