×
Skakel na Engels

Om jou klerekas reg te ruk kan dalk net die sleutel tot jou geluk wees

Volgens hierdie modekenner is dit noodsaaklik om minder klere in jou kas te hê

Het jy al ooit gewonder hoekom dit so moeilik is om jou klere uit te dun?

“Ons klerekaste is meer as net ’n versameling klere. Dis die totaliteit van al ons gevoelens en herinneringe, en dit is hoekom dit so moeilik is om jou klerekas uit te sorteer,” sê Annmarie O’Connor, modeskrywer, stilis en skrywer van die selfhelpgids The Happy Closet.
 
Dis gewis vir sekere van ons waar dat klere meer as net materiaal en garing is. Elke kledingstuk vertel ’n storie en herinner ons aan ’n sekere tyd in ons lewe of aan die mens wat ons was. Baie van ons is dus daaraan skuldig dat ons ou klere hou – met die gevolg dat die klerekas kraak onder die gewig en gevul is met klere wat ons jare laas gedra het.

Daar word dikwels gesê dat as jy jouself sover kan kry om met jou ou klere weg te doen en jou klerekas verklein, sal jy gelukkiger wees. Maar hoekom? En hoe kan ons onsself oorreed om ’n klomp klere uit te gooi sodat ons net ’n kapsule-klerekas het? Dit is waar Annmarie inkom.
 
“Dit kom alles neer op keuses,” sê sy. “As jy te veel opsies het, skep dit angstigheid omdat ons brein nie gemaak is om soveel keuses te hanteer nie.” 

via GIPHY

1. Verstaan wat jy nie nodig het nie

Vir enige iemand wat al met die dilemma gesit het van “te veel klere, maar niks om aan te trek nie”, is Annmarie se raad om ’n tegniek te probeer wat sy die “Ryanair-teorie” noem.

Kies 17 kledingstukke uit jou kas wat genoeg vir twee weke sal wees. (As ’n riglyn: twee goed vir onder, een deftige ding vir onder, een denim, twee tops, een deftige top, ’n T-hemp, ’n jas, twee sakke vir die dag en aand, ’n trui, ’n rok, ’n paar aandskoene en twee pare dagskoene behoort die ding te doen.)

Plaas hierdie items in ’n 10 kg-sak wat in ’n laekoste-lugdiens se oorhoofse kompartemente sal pas, en verwyder dan alles anders uit jou kas en gee dit vir ’n vriendin of jou man om agter slot en grendel te hou. Pak die inhoud van die 10 kg-sak terug in jou kas en voilà, jy het ’n kapsule-klerekas.
 
Hou ’n dagboek gedurende jou twee weke waarin jy die inhoud van die 10 kg-sak dra, en skryf elke dag jou ervarings neer. Daarna kan jy die res van jou klere stadigaan terug in jou klerekas pak en aanhou om in die dagboek te skryf. Jy sal gou agterkom dat dit meer stresvol is om daagliks iets te kies om aan te trek met al die ekstra keuses, en dat baie van daardie items onnodig is.

“Die rede dat ons nie hope klere dra nie, is omdat ons dit nie kan sien nie,” sê sy. “My mantra is ‘sigbaarheid is verantwoordbaarheid’. As jy dit kan sien, kan jy verantwoording daarvoor doen, en kan jy dit dra. Dis baie bemagtigend.”

2. Raak ontslae van vals “motivering”

Natuurlik is een rede hoekom baie van ons aan daardie ekstra klere vasklou die hoop, diep binne-in ons, dat ons eendag weer daarin sal pas.

“Baie mense dink verkeerdelik dat dit as motivering dien om jou ou nommer-10-jeans in jou kas te hou,” sê Annmarie. “Eintlik is dit soos om ’n bitsige meisie in jou kas te hê wat haar vinger na jou wys en sê: ‘Ha-ha, jy pas nie in my nie!’

“Wanneer jy aan klere vashou wat jou nie meer pas nie, laat jy jouself toe om onbewustelik in ou gewoontes te verval. Al wat hierdie ontkenning doen, is om jou van ware groei te weerhou.”

3. Inkopies: ’n noodroep

Oukei, dit sorteer ons bestaande klerekas-kwessies uit, maar hoe kan ons keer dat ons nog klere by ons versameling voeg?

“As jy ’n probleem het dat jy te veel koop, moet jy dink oor wat jou snellers is. As jy agterkom jy koop altyd iets in die winkels op pad huis toe omdat jy in ’n straat vol winkels werk, neem ’n ander roete huis toe. Die beloning van inkopies is dikwels die endorfienvlaag, en as jy ander maniere kan kry om daardie euforiese gevoel te verkry – soos om ’n jogaklas by te woon – doen dit liewer.”
  

via GIPHY

As jy wel in ’n winkel is en ’n kledingstuk begeer, is die beste ding wat jy kan doen om vinnig weg te loop, sê Annmarie.

“Wanneer dopamien (die beloningshormoon) vrygestel word, oorstroom dit die brein en veroorsaak ’n kortsluiting in die logika-kanaal. Die beste ding wat jy vir jouself kan doen, is om weg te loop en vir jouself te sê: ‘As ek dit regtig so graag wil hê, sal ek dit môre koop.’ Dit sal jou brein ’n kans gee om te verstaan of dit iets is wat jy wíl hê of iets wat jy móét hê.”

En aanlyn inkopies? Of “Pandora se kis”, soos Annmarie dit noem …
 
“Ek het ’n private Pinterest-bord en deur die week plaas ek al die klere waarvan ek hou daarop. Elke Sondag kyk ek na my bord en wis al die foto’s uit van klere uit wat ek nie regtig wil hê nie en dink by myself: ‘Wat kan ek regtig gebruik?’

“Wanneer jy dít doen, gee jy jou brein kans om van warm na koud te gaan en van emosioneel na logies. Dan is jy in ’n beter posisie om die klere te koop wat regtig vir jou van nut sal wees.”

4. Wissel jou styl af

“ ’n Kenmerkende styl kan dikwels ’n stylgroef word – as ons dit nie soms aanpas nie, kan ons dalk 10 jaar later steeds dieselfde ding dra en nooit ons klerekas vernuwe nie,” sê Annmarie. “Jy behoort trouens kwartaalliks jou klerekas te revalueer.”

Annmarie het ’n vernuftige truuk om te besluit wat om te hou en wat om te laat gaan.

“Elke keer wanneer jy iets dra, draai die kop van die hanger waaraan dit gehang het. Oor twee of drie weke kan jy hierdie visuele merker gebruik om te kyk wat jy gedra het en wat onaangeraak gebly het.” Dan, sê sy, kan jy dink oor hoekom dit die geval is en watter klere jy moet uitgooi.

Dit maak natuurlik alles pefek sin. Maar wanneer dit by emosionele verknogtheid (en mooi klere!) kom, is dit makliker gesê as gedaan om goed uit te gooi. Om die sprong te waag en jou klerekas af te skaal is onteenseglik ’n uitdaging, maar probeer dit, sê Annmarie, en jy sal agterkom dat die belonings bevrydend en uiters die moeite werd is.
 
“Wanneer ons daaraan dink om van goed ontslae te raak, dink ons aan verlies,” sê sy. “Maar jy moet goed snoei om te kan groei … Jy moet ’n bietjie minder dink aan wat jy verloor en meer aan watter voordele jy daaruit kan trek.”

Van: Good Housekeeping UK

LEES OOK: 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Danksy H&M kan jy jou klere ’n tweede lewe gee

Mode vir ’n goeie saak? Ons wil deel daarvan wees!

Close